Solidarteit Wêreld
2020 – Uitgawe 3
’n Nuwe monument
Deur Michelle | 12 Julie 2020

Foto krediet:

Deur Chris Chameleon

Ons is tans besig met aanbouings by my huis. Die werk moes lankal klaar gewees het, maar toe skink die owerhede mos vir ons ’n lang glas burgerregteskending in die vorm van ’n ongenaakbare grendeltyd en daar staan alles toe vir maande lank stil. Die enigste bedrywigheid op die werf is die rinkhalse wat hulle tussen die stene kom inrig vir die winter en die wind wat af en toe die bouperseel bestrooi met ’n dun lagie sementpoeier.

Ek wonder dikwels oor bouers. Die bakker bak vanoggend om drieuur sy broodjie en teen ontbyt is die broodjie se bestaan in hierdie ou wêreld iets van die verlede. Bouers, daarenteen, vestig dinge wat hulle meestal oorleef. Bouers kan in die fleur van hulle jeug konstruksies oprig waarby hulle op hul oudag kan verbyry en vir hulle agterkleinkinders vertel dat hulle daardie mooi gebou daar gesit het. En die bouer sal weet waar hy goed gedoen het of waar hy kortpad gevat het, en lewenslank sal sy werk as monument vertoon van óf sy uitnemendheid óf sy brouwerk.

As musikant beleef ek ook ’n vorm van die monumentale nalatenskap van arbeid, en as ek nou heeltemal eerlik moet wees, ek luister soms na opnames wat ek 30 jaar gelede gemaak het en dan pla daardie ou nootjie my nog steeds – die nootjie wat ek destyds gedink het nie so ’n groot probleem is nie, of waarvoor ons nie die tyd of geld gehad het om dit reg te maak nie.

Gisteraand sit ek toe op die solder en beleef ’n monumentale samevloei van verskeie omstandighede, een van daardie verhale wat klink of dit noukeurig gekonstrueer is om ’n mooi, volronde eenheid te sintetiseer, maar wat werklik gebeur het nes ek dit nou vertel.

Ek het die meeste van my 1989-matriekwerkboeke gehou. Daar was in vele van hulle nog blanko blaaie en in daardie pre-rekenaartyd het iemand met ’n liefde vir skryfwerk maar altyd nut gehad vir ’n paar blaaie. Ek sit toe so en lees ’n kombinasie van biologie en poësie, hoërgraadwiskunde en storm-en-drang-bepeinsinge en aardrykskunde en ongestuurde liefdesbriewe, kyk na ou klasfoto’s en bewonder sertifikate vir akademie en kunswedstryde. My gedagtes swymel in ’n tyd wat vir ewig vergange is en, ek moet bieg, waarna ek met ’n tikkie leed vir ’n tyd van eenvoud en reinheid dikwels nostalgies hunker.

Ek word uit my dromery geruk deur die skerp gekletter van skerwe wat ’n breukdeel van ’n sekonde vroeër nog ’n heel stuk kombuisware was.

“Liefie, is jy oukei?” roep ek af ondertoe.

“Ja…” kom die antwoord. Maar ek kan hoor niks is oukei nie.

Ek stap die steil trappe van die solder af ondertoe en kry my vrou op haar knieë, besig om skerwe op te ruim.

“Wat het gebreek?” vra ek.

“Jy wil nie weet nie,” kom die antwoord in ’n stem wat diep ongelukkig is en, helaas, simpatiek, asof dit ’n ongeluk is wat meer op my betrekking het.

Toe sien ek wat sy bedoel.

Toe ek drie weke oud was, het my pa ’n vermiste persoon geword. Ek het hom nooit weer gesien nie. My ma het vasgebyt, kop omlaag skouer aan die wiel gesit en in ’n klein woonstelletjie in Johannesburg hand en tand geveg om vir my en my suster ’n heenkome te bewerkstellig. Ons huis was karig toegerus en altyd van slegs die broodnodige voorsien. Daar was drie van alles vir ons hegte gesinnetjie. Ná 40 jaar het die eerste papbord sy alie gesien en nou, bykans 50 jaar later, die tweede een. Dis sulke diep, stewige wit borde. Aan die onderkant staan “Continental. Made in South Africa” en dit getuig van ’n werkgehalte wat in vandag se tyd ’n kwart so duursaam sou wees en êrens in die Verre Ooste gemaak sou gewees het.

My hart kramp. Ek is lief vir hierdie borde, hulle is halfeeu oue alledaagse gebruiksartikelmonumente van ons familie se verlede en boonop pragtige, nuttige borde. Ek probeer my teleurstelling wegsteek, want as is verbrande hout en skerwe is geen bord meer.

“Hoe het dit gebeur?” vra ek.

My vrou verduidelik dat ons ses maande oue dogtertjie, wat die afgelope weke die wonder van haar greep en bereik ontdek het, vanuit haar ankerstoeltjie op die kombuiskas die swaar bord in die hande gekry het en na sy val vloer toe besorg het.

Slegs ses maande oud, maar in haar oë die tekens van effense teleurstelling – die sensitiewe siel agter daardie babablou oë kan voel dat die groot gekletter van skerwe die atmosfeer in die huis versteur het.

Ek besef wat hier gebeur het, neem haar op in my arms en vertroetel haar, want ek besef ons nuwe monument, ons blywende nalatenskap, het so pas ’n ou monument in onskuld vervang.

  • 2
  •  
  •  
Redakteursbrief

Met die Covid-19-inperking steeds volstoom aan die gang, bring ons vir jou nóg ’n inperkingsuitgawe op jou rekenaarskerm, hierdie keer met gemak saamgestel asof dit al jare lank so gedoen word. Almal het die nuwe manier van doen se ritme nou reeds bemeester, met sommige wat intussen terug is by die werk terwyl ander nog […]


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close