Solidarteit Wêreld
2020 – Uitgawe 5 Nuuswaardig
’n Werkherstelprogram vir jou en jou toekoms
Deur Lize-Mari | 09 November 2020

Foto krediet: Lize-Mari Labuschagne

Deur Reon Janse van Rensburg

“In Afrika is daar ’n wit stam. Hulle noem hulself Afrikaners. Hulle hou van grond, is ’n bietjie rof, dink baardolie is mode en dra vellies kerk toe en werk toe. Tog is hulle net so tuis in raadsale. Hulle presteer saam met die bestes in die wêreld, is harde werkers, het ’n mooi werketiek en is van Suid-Afrika se beste professionele lui.”

Met hierdie woorde het dr. Dirk Hermann, Solidariteit se bestuurshoof, die bekendstelling van Solidariteit se Werkherstelprogram by die Atterbury Teater in Pretoria ingelui.

Die teenwoordigheid van beroemdes soos die Afrikaans is Groot-sterre het glans aan die geleentheid verleen, maar weens Covid-19-reëlings kon net ’n beperkte aantal mense die geleentheid in die teater bywoon. Covid-19 kon egter nie die gees en atmosfeer demp nie, want daar was ’n groot virtuele gehoor danksy ’n regstreekse aanlyn uitsending. So kon Solidariteit-lede en die publiek vanaf enige plek in die wêreld dié geskiedkundige bekendstelling bywoon en geniet.

Aan die begin van die jaar sou niemand kon raai dat die bywoning van ’n byeenkoms in ’n teater ’n uitdaging sou wees en dat ons byna die wiel sou moes herontwerp om ’n sukses daarvan te maak nie. Gelukkig is Afrikaners mense wat geleenthede in krisisse raaksien en dit aangryp. Dit is juis wat die Werkherstelplan ook gaan regkry.

Al die instellings wat deel van die Solidariteit Beweging vorm, gaan ’n rol speel om die verskillende doelwitte en mylpale van die Werkherstelprogram te bereik.

Volgens Hermann is die Werkherstelprogram ’n massiewe selfhelpprogram uit die gemeenskap, vir die gemeenskap. Vandaar die slagspreuk: Ons sal self! Die Werkherstelprogram berus op drie bene, naamlik werk, welstand en opleiding.

Die Werkherstelprogram sluit nuwe arbeidsverhoudingeprosesse, ’n netwerk van beroepsgildes, 'n interaktiewe werkplatform, welstandsprogramme, studiehulp en omvattende opleidingsplanne in.

“Ons moet ons uit die Covid-19-krisis werk en leer. Volhoubare werk sonder kennis is egter nie moontlik nie. Indien ons in die kennisrevolusie aan die voorpunt van werk wil wees, moet ons aan die voorpunt van kennis bly. ’n Groot deel van Solidariteit se Werkherstelprogram gaan dus op kennis berus,” het Hermann gesê.

In die lig hiervan gaan opleiding een van die Werkherstelprogram se fokusareas wees. Nuwe kampusse vir Sol-Tech en Akademia asook ’n nuwe wêreldklas- Afrikaanse skoolstelsel vorm alles deel van die omvattende planne. Met die oog hierop is begrotings en strukture heraangepas om die versnelling van bestaande opleidingsplanne moontlik te maak.

Beroepsgemeenskappe gaan deur middel van gildes help dat werknemers in verskeie beroepe opgelei word, probleme in beroepe uitgestryk word en jongmense toegang tot beroepe kry. Die gildes gaan self verantwoordelikheid neem vir werkherstel in elke beroep.

Tydens die bekendstellingsfunksie is ’n nuwe lied vrygestel wat deur 16 van Suid-Afrika se topkunstenaars opgeneem is. Die lied, “Ons sal self”, is merkwaardig deurdat dit vertel van hoop en Afrikaners herinner aan hulle identiteit en dat swaarkry deur die krag van die Afrikanergemeenskap oorwin kan word (lees artikel hiernaas).

Volgens Hermann is jy jou werk, maar is jy ook meer. “Jy is deel van ’n gesin en ’n gemeenskap, en jy hoort hier. Om volhoubare Afrikanergemeenskappe daar te stel waarin gesonde werk moontlik is, moet ons groter dink en saam aan oplossings vir probleme kan werk. Ons moet ook vandag reeds beplan vir die toekoms. Afrikaners sal uit die lesse van die geskiedenis moet leer om volhoubaar te kan voortbestaan.”

Trek dus jou DKW-vellies (dans-,kerk- en werkvellies) aan en kom bou saam aan die toekoms, want #OnsSalSelf.

Laai die volledige Werkherstelplan af by https://solidariteit.co.za/wh-gids/

 

Redakteursbrief

Deur Cilleste van Dyk Ons sal self. Hierdie drie woorde kan baie arrogant klink sonder die regte konteks. Solidariteit sê: Ons sal self, nie omdat ons dink dat ons dinge alleen of deur ons eie krag sal regkry nie, maar omdat dat daar geen ander opsie is vir ’n voorspoedige toekoms nie. Daarom sê ons […]


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close