Solidarteit Wêreld
2018 – Uitgawe 1 Spreekbuys
Nuwe hoop in ’n nuwe jaar
Deur Michelle | 12 Maart 2018

Suid-Afrika se skip het ‘n nuwe stuurman en daar is ‘n versigtige optimisme te bespeur. Gaan pres. Cyril Ramaphosa Suid-Afrika uit die Zuma-moeras kan red? Hoe lyk die pad vorentoe? Cilleste van Dyk, redakteur van Solidariteit Tydskrif, het met Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, oor dié brandpunte gesels.

Hoe voel jy oor die verkiesing van Cyril Ramaphosa as nuwe president?

Dit gee die land ’n kans om uit die moeras van die Zuma-era te kom, maar dan is daar twee vereistes. Die eerste is dat hy sy beloftes moet uitvoer om korrupsie met wortel en tak uit te roei, en skoon regering en ekonomiese groei as sy hoofdoelwitte moet dryf. Die tweede is dat hy die ANC sal moet hervorm vanaf ’n uitgediende selfsiening as ’n rewolusionêre bevrydingsbeweging na ’n moderne party. My groot kommer oor Ramaphosa is dat sy verskille met Zuma nie oor diepgaande ideologiese sake was nie, maar grootliks oor Zuma se korrupte onbekwaamheid. Ek het nog nie gehoor dat Ramaphosa verskil met die kern van die ANC-beleid, naamlik die voortsetting van die rewolusie met staatsmag, nie. Dis daardie beleid wat, saam met die Zuma-era se korrupsie, die land tot op die rand van die afgrond gesleep het. Ramaphosa het ’n groot taak voor hom, want die land is diep in die moeilikheid.

Hoe het die Zuma-era die gemiddelde werknemer geraak?

Die Zuma-regering se rampspoedige benadeling van werknemers is treffend bereken deur Standard Bank se hoofekonoom, Goolam Ballim. Hy het uitgewerk dat die ekonomiese koste van die afgelope sewe jaar se politieke onstuimigheid nagenoeg ’n triljoen rand was! Die skokkendste is dat die land se werkmag in hierdie tyd met byna ’n miljoen poste sou kon groei as die ekonomie nie so benadeel is nie. Maar dis nie al nie. Omdat ’n enkele werknemer se huishouding uit ’n gemiddeld van vier mense bestaan, is sowat 5 miljoen mense daardeur benadeel. Ballim bereken dat die land net in die vorige belastingjaar daardeur R300 miljard verloor het! Dis skrikwekkende syfers. Dan kom die onberekenbare koste nog by van miljoene hardwerkende mense wat in dieselfde tyd miljoene rande verloor het weens die swak prestasie van pensioenfondse en pap huispryse as gevolg van die swak ekonomie. Maar daar is ook ’n waardeprobleem in dele van die privaatsektor, soos wat die Steinhoff-krisis en verskeie top maatskappye se aandadigheid aan staatskaping uitgewys het. Dit moet ook vasgevat word. Daarom is “werk” Solidariteit se hoofdoelwit vir 2018.

Hoe lyk die vooruitsigte vir goeie werkgeleenthede in 2018?

Ekonomiese vooruitsigte lyk beter as in 2017, ook wat die wêreldekonomie betref. As Ramaphosa beleggersvertroue kan herstel, sal ons ekonomie weer vinnig kan groei, wat werksekerheid sal verbeter en nuwe poste sal skep. Maar toenemende staatsinmenging en die regering se radikale rassebeleid gooi sand in die groei-enjin van die land, wat weer mense se werk benadeel. Normale werk in ’n abnormale samelewing bly ’n uitdaging. Die transformasiebeleid het groot dele van die staatsdiens en munisipaliteite ernstig verswak, en is nou besig om die privaatsektor as die lokomotief van die ekonomie te benadeel. Die ANC sal moet leer dat ekonomiese groei die grootste gelykmaker is, nie herverdelende wette nie. Sonder groei is daar niks om te verdeel nie. As hierdie stremmende rassewette afgeskaf word, sal die ekonomie vinniger groei, almal in die land sal beter dienste van die staat kry, en swart mense sal vanweë hulle groter getalle buitendien die grootste voordeel daaruit trek.

Die skrywer RW Johnson het ’n tyd gelede gesê Suid-Afrika het nog net twee jaar oor om te oorleef. Dink jy dis regtig so erg?

Johnson het gewaarsku as die land nie vinnig van rigting verander nie, sal die ekonomie so vinnig kwyn dat die Internasionale Montêre Fonds (IMF) sal moet ingryp. Onthou dat ’n krisis help met oplossings, omdat daar dan nie ’n ander keuse is as om die regte ding te doen nie. Dit lyk of Ramaphosa iets begin doen aan die wanbestuur, korrupsie en waardevernietiging by openbare ondernemings soos Eskom en die SAA. As hulle reggeruk kan word met bekwame leiers, is daar weer hoop vorentoe. Die groot gevaar is nie Johnson se waarskuwing dat die IMF sal moet ingryp nie, dit is dat die regering pensioenfondse kan begin plunder om hul wanbestuur mee te finansier. Daarom is dit verblydend dat vakbonde reg oor die spektrum sterk standpunt ingeneem het teen die misbruik van die staatspensioenfonds as melkkoei om sukkelende staatsondernemings te help. Solidariteit sal voortgaan om ’n wakende oog oor pensioenfondse te hou. Politici moet hul hande daarvan afhou, en mekaar nie onder die vaandel van BEE daardeur verryk nie. Ons sal sterk standpunt inneem daarteen dat arm werknemers se hardverdiende pensioenbates vir ryk politieke bemagtingsmagnate gegee word.

Gaan Solidariteit met die regering praat oor al hierdie knelpunte?

Ons neem op verskeie vlakke deel aan gesprekke met regeringslui, en dink dis nodig om met Ramaphosa self ook te praat. Ons wil nie teruggaan na die verlede nie, maar is net so geregtig op ’n toekoms as enigiemand anders. Ons eis nie spesiale voorregte nie, maar ons eis ons normale regte op. Die ANC het die 1994-ooreenkoms verbreek omdat hulle voortgaan met hul rewolusie. Goeie betrekkings is in enige land nodig, veral in ’n land soos Suid-Afrika. Ons glo aan wedersydse erkenning en respek. Maar terwyl ons praat, hou ons aan om te bou aan ons planne. Ons toekoms is te belangrik om net aan politici oor te laat.

Hoe voel jy oor die gebeure by Afrikaanse skole en universiteite?

Dis deel van dieselfde ideologie van radikale transformasie ter uitvoering van die sogenaamde “nasionaal-demokratiese rewolusie” van die ANC. Die ander dele is hul standpunte oor onteiening sonder vergoeding, die oordra van eienaarskap van sakeondernemings, radikale rassewette in die werkplek, en aantasting van die vryhede van persone, sakelui, kultuurgemeenskappe, die media, die verstikkende regulering van die hele samelewing, en die groeiende rassisme teen wit, bruin en ander minderhede. Die groot prentjie is dat die ANC alles en almal met staatsdwang wil “gelykmaak”, en in die proses alles en almal se vryheid aantas.

Sien jy nog ’n toekoms in Suid-Afrika?

Beslis. Maar ons wag nie op die toekoms wat die regering aan ons oorlaat nie, ons skep dit self. Die hele Solidariteit Beweging is juis gestig om ’n toekoms te skep waarin ons ook blywend vry, veilig en voorspoedig kan wees. Daarom is Solidariteit met opwindende planne besig om mense met hul werk te help; daarom stig AfriForum landwyd buurtwagte om saam met die polisie en sekuriteitsmaatskappye veiligheid te verbeter; daarom ondersteun Solidariteit Helpende Hand se Skoleondersteuningsentrum al meer as 500 skole; daarom het hulle al meer as 8 000 jongmense met rentevrye studielenings gehelp; daarom bou ons verder aan Sol-Tech en Akademia as ’n volwaardige universiteit; en daarom bevorder ons Afrikaans. Ons gaan die toekoms hê wat ons bou. Ek is opgewonde en sien uit na die toekoms, want ek weet wat ons mense kan vermag.

 

  •  
  •  
  •  
  •  
Redakteursbrief

So staan nog ’n jaar einde se kant toe. Hoewel die laaste deel van 2018 steeds volgepak is met dinge om af te handel, kan ons reeds met tevredenheid terugkyk op die jaar se groei en sukses tot op hede. Hierdie is die 100ste uitgawe van Solidariteit Tydskrif en bied dus die perfekte geleentheid vir […]


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close