Solidarteit Wêreld
2020 – Uitgawe 2 In Retrospek
Om te leer wag ….
Deur Michelle | 25 Mei 2020

Foto krediet:

My afvlerk-eendjie, Marietjie, het die eerste dag of twee hoegenaamd geen probleem met die grendelstaat gehad nie. Om laat te slaap, stadig ontbyt te eet en ’n lang oggendbad te neem, was ’n heerlike afwisseling van die gejaag om haar soggens betyds aangetrek en by haar sentrum afgelaai te kry. Toe begin die besef deurdring dat sy glad nie winkels toe sal kan gaan nie. Nie net is die meeste winkels toe nie, maar ook verseg ek om haar Checkers toe te vat – vir haar eie veiligheid, want sy is ’n hoërisikopersoon. Toe sy boonop hoor dat daar Sondae vir ’n lang ruk glad nie kerk sal wees nie, was die vet in die vuur. Al haar gunstelingmense is by die kerk. Die warmte van die kerkkring is vir haar soos suurstof. Hoe is dit moontlik dat die wêreld op so ’n dramatiese manier net tot stilstand kan kom?

Ek probeer verduidelik van die virus; van hoes en druppeltjies; van hande was; dat sy moet WAG en geduldig moet wees. Ons sal weer eendag winkel toe gaan. Maar Marietjie is briesend. Histeries. “EK GLO DIT NIE!” gil sy, so hard dat ek vrees die bure kan dalk die weermag of maatskaplike dienste bel. Trane stroom van haar wange af. Ek probeer al die beproefde maniere om haar rustig te kry – verniet. Snikkend beduie sy dat sy regtigwaar nie sal siek word nie. Die Here het self vir haar in ’n droom gesê dat sy nie sal siek word nie. So, sy kan maar winkel toe gaan. Eers toe ek haar so ver kry om te sit en ek die ingewing kry om al die geliefde dinge met iets anders te vervang, kom daar kalmte. Ons kan kruideniersware BESTEL. Sy mag help met die lys en sy mag die goed uitpak. Ons kan Ouma, Oupa, die familie en die kerkmense video call. Sy mag kies wie ons elke aand moet bel. Sy mag koekies bak en in pakkies pak vir mense wat arm en honger is. Sondae sal ons dominee oor YouTube preek. Ons sal in ons sitkamer kerk hou. Papier en pen word nader gebring. Ons trek blokkies, teken prentjies oor hoe die nuwe roetine gaan lyk, soek resepte van koekies wat gebak kan word. Vrede!

Soos Rietjie moes ons almal binne enkele dae’n drastiese kopskuif maak. Soos sy, wens die meeste van ons om ons normale lewens terug te hê. Sommige mense laat weet dat hulle selfs na beurtkrag verlang. Maar as ons net mooi wil luister, sal ons hoor dat ons Vader ferm, dog rustig en met oneindige empatie vir ons vra om te wag. En in dié wagtyd wil Hy hê ons moet sekere dinge met ander vervang.

  • My fokus op my allerbelangrike werk, vergaderings en afsprake moet vervang word met ’n fokus op my kinders, wederhelf en bejaarde ouers.
  • My rondritsery moet vervang word met rus en nadenke.
  • My selfsug moet vervang word met empatie vir ander wat baie swaarder kry as ek.
  • My vertroue op my eie vermoë om dinge te beheer, moet vervang word met ’n vertroue op my Hemelse Vader.
  • My geloof in my geld wat brood op die tafel sal sit, moet vervang word met my geloof in God, wat nog altyd my daaglikse brood voorsien het sonder dat ek dit besef het.
  • My luiheid om Sondag vir kerk op te staan, moet vervang word deur ’n verlange na ’n erediens, ’n begeerte om net weer tussen mense in die kerk te sit.

Sit vandag in jou tuin, as jy een het, of maak jou venster oop, kyk op na die blou lug daar bo en onthou die woorde van Dawid in Psalm 37 (verse 3 tot 5):

Vertrou op die Here, en doen wat goed is

Woon in die land en geniet veiligheid

Wees bly in die Here, en Hy sal jou hartsbegeertes aan jou gee

Vertrou jou lewe toe aan die Here.

Vertrou Hom, en Hy sal vir jou sorg.

Het jy al geleer om te wag?

 

Redakteursbrief

Deur Cilleste van Dyk Ek skryf vandag die derde opeenvolgende brief vir julle vanuit my woonkamer-kantoor, maar tog voel dit vir my soos ’n keerpunt. Ons is uiteindelik op vlak 2 van die inperking en dis byna asof daar weer ’n mate van normaliteit terugkeer. Die klein bietjie meer vryheid het my laat besef dat […]


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close