Solidarteit Wêreld
2017 – Uitgawe 5 In Retrospek
Om te lewe… soos my ander seun
Deur Michelle | 29 September 2017

Die maan skyn helder deur die donker kamer se venster en val op 'n bruin gesiggie. Ek lê en kyk na die spesiale wesentjie in die bed wat ek tot langs myne gestoot het, ingeval hy bang word. Dan kom ek agter hy slaap nie. Ons staar na mekaar. Sy ogies is 'n diep bruin en ek dink: “Jy is mooi.”

Mpho se naam beteken “geskenk”. Daardie maanlig-aand was die Here se geskenk aan my nog net sewe jaar oud. Hy was maer en lig en het maklik soos 'n babatjie op my heup gesit. Hy het 'n klein rolstoeltjie gehad en kon homself vorentoe skop in 'n loopring. Hy kon op die kombuisvloer op sy magie rondseil. Saans met badtyd het hy geskater as hy in die water skop en ek papnat word. Hy het meer lewenslus as baie nie-gestremde kinders gehad. Naweke, as hy moes huis toe gaan, was dit 'n groot tranedal. Sy nuwe pleeghuis was vir hom soos sy eie huis.

Mpho het oral saam met ons gegaan. Die wêreld was vir hom een reuse- avontuur. “Who dat?” was sy mees gebruikte Engelse woorde, en omdat hy reeds 'n bietjie Engels verstaan het en kon praat, het ons maar aangehou met die Engels. Ons sit hom op sy magie op die gras, en hy roep: “Who dat?” Dis 'n miertjie wat tussen die graswortels deursukkel, die eerste mier wat hy sien. Hy lê op sy rug en skree: “Who dat?” 'n Voël het oor sy kop verbygevlieg. Ons stap met sy rolstoeltjie onder 'n boom deur en hy wil weet: “Roof broke?” Hy ken net 'n sinkdak; die blare wat kolle son deurlaat, moet 'n stukkende dak wees. Alles is 'n avontuur. Die kleurvolle rye goed in Checkers is verruklik: “Buy dis! Buy dis!” Die karre wat verbyflits is so goed soos 'n renbaan: “Koloi! Koloi!” (Kar! Kar!) Vir die eerste keer het ek werklik besef hoe ’n kind se ontwikkeling skade ly as hy nie aan alledaagse dinge blootgestel word nie. Mpho, wat net op sy rug in 'n sinkhuisie gelê het, het op sewejarige ouderdom nie 'n konsep gehad van grond, gras, miere, bome, voëls, winkels, karre en huise nie.

Ons neem hom dieretuin toe. Van opgewondenheid ruk sy onwillekeurige spierbewegings  hom amper uit die rolstoel uit by elke hok. Die krokodil is vir hom verskriklik angswekkend – hy gil en draai sy kop weg. Die gorilla kom nader om die rolstoelseuntjie te bekyk en Mpho roep benoud: “Bye-Bye!” Daardie Desember neem ons hom see toe. My hart word week toe ek sien hoe ons geskenk-seuntjie die beste in my twee groot seuns uitbring. Hulle maak beurte om hom die golwe in te neem. Mpho is deel van die Malans. Danie is vir hom ook “Boetie”, Moira is “Sussie” en Thinus is sy stoei-maat wat met graagte opsetlik verloor. Magdi is sy terapeut, Marietjie 'n rondstuur-helper en ek sy mamma.

Mpho is hierdie jaar sestien jaar oud. Sy stem het gebreek. Hy het 'n tienerlyf en sy gesig is dié van 'n jong man. Hy het 'n normale woordeskat en skerp denkprosesse. Maar met die jare het hy so 'n ernstige skoliose ontwikkel dat hy nie meer in sy rolstoel kan sit sonder erge pyn nie. Die sorgelose rondritsery is op 'n end. Hy is maar merendeels in sy kamer – kyk televisie, speel met sy mond speletjies op die foon of luister radio. Dis nou as hy nie skool toe gaan nie. Ja, hy gaan steeds skool toe – hy lê in die bussie en by die skool lê hy ook merendeels, waar hy 'n engel van 'n juffrou en lekker maats het wat vir hom liefhet net soos hy is. Sy beste maat, Gian, is so sterk soos 'n bees en tel hom maklik soos 'n baba op. Die skool het geld ingesamel vir 'n elektriese rolstoel wat hy met sy mond bestuur – al kan hy nie lang rukke daarin sit nie, is dit vir hom 'n fantastiese ondervinding om mobiel te wees.

“Wat het jou besiel?” vra (of dink) baie mense as hulle van hom hoor. Mense, wil ek sê, al weet ek hulle sal nooit verstaan nie, Mpho het my besiel. Hy besiel my elke dag. Mpho is, en sal so lank as wat dit ons gegun is om hom in ons huis te hê, 'n geskenk bly. Dit maak nie saak hoe bedruk ek voel nie, Mpho se blymoedigheid laat die bedruktheid soos mis voor die son verdwyn. Ten spyte van sy ernstige gestremdheid maak hy altyd grappies. Hy sing saam met die radio. Hy terg my oor ek gewig aansit en noem my 'n oumatjie as ek iets vergeet. Hy droom oor sy meisie (ja, hy het 'n meisie!) en stuur my om vir haar sjokolade te koop.

Mpho lewe. Lewe jy?

  •  
  •  
  •  
  •  
Redakteursbrief

So staan nog ’n jaar einde se kant toe. Hoewel die laaste deel van 2018 steeds volgepak is met dinge om af te handel, kan ons reeds met tevredenheid terugkyk op die jaar se groei en sukses tot op hede. Hierdie is die 100ste uitgawe van Solidariteit Tydskrif en bied dus die perfekte geleentheid vir […]


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close