Solidarteit Wêreld
2020 – Uitgawe 4 In Retrospek
Ongeduld ook ’n virus
Deur Lize-Mari | 14 September 2020

Foto krediet: iStock

Deur Marietha Malan

“Ek is nou óór dit,” sê my tweede oudste onlangs toe ons per video gesels. Haar arbeidsterapiepraktyk staan op wankelende bene en versigtige treetjies vorentoe is nodig. Sy het ’n klomp geld – wat sy eintlik nie het nie – spandeer aan ’n elektroniese koorsmeter, ontsmettingsmiddels, ’n plastiekmat en nog heelwat meer. Prosedures is bestudeer en sessies is só beplan dat elke dingetjie wat gebruik is, eers gesaniteer kan word voor die volgende kliënt kom. Maar daar is terugslag op terugslag: Haar kinderoppasser kry griepsimptome, meer as een keer; haar man doen die virus op terwyl hy met ’n projek in ’n ander provinsie besig is en kan nie terugkom nie; die hond word siek; ’n inbreker spring in die middel van die nag oor die muur, en al gebeur daar gelukkig niks nie, moet sy beter en nuwe slotte laat installeer. En nou is sy oor dit – oor abnormaliteit, onvoorspelbaarheid, sukkel. En sy is nie die enigste een nie. Byna almal is moeg, vies, angstig en emosioneel uitgeput. Ons soek iemand om die skuld te gee. Die stroom grappies en komieklike video’s van die vroeë grendeldae is skoonveld. Die hele land is “oor dit”.

Maar dít, die virus, is nie “oor ons” nie. Dit word al hoe duideliker dat ons vir nog ’n hele ruk lank met die sluipende, onsigbare vyand sal moet saamleef. Maskers, sosiale afstand, die reuk van saniteermiddels, bekendes wat baie siek word en selfs sterf, gaan nog vir ’n onbepaalde tyd lank deel van ons werklikheid bly. Ons gaan moet uithou, aanhou en kophou. Die einde is nog nie in sig nie. Maar hoe doen ’n mens dit? Hoe leef ’n mens daagliks in sulke abnormaliteit, en dit nog vir maande of (behoede ons) jare lank?

Daar is mense tussen ons wat daardie geheim ken. Dis mense op wie daar dikwels neergekyk word. Hierdie mense is ons erg gestremdes. Hulle is lewenslank ingeperk. Hulle leef altyd met beperkings en verduur chronies pyn. Hulle kan nie om die blok gaan stap met die hond soos die meeste van ons darem in hierdie tyd kon doen nie. Hulle is afhanklik van ander, nog meer as diegene wat moes wag om weer betaal te word of kospakkies te ontvang. My pleegseun is so ’n persoon. Hy kla nie omdat hy nie kan sokker speel nie, want hy sal nooit kan sokker speel nie. Hy kla nie omdat hy nie na ’n kuierplek toe kan gaan nie, want hy sal dit nooit kan doen nie. Hierdie jong man het die hele grendeltyd tot dusver op sy bed deurgebring. Nie een klag het oor sy lippe gekom nie. Hy is geduldig en tevrede met net sy radio, TV, horlosie en almanak wat sy dae struktureer. Hy is geduldig wanneer hy pyn ervaar en geduldig wagtend om eendag weer skool toe te kan gaan wanneer dit vir hom veilig is, al het hy nie ’n idee wanneer dit sal wees nie.

Geduld is ’n vrug van die Gees wat ons in hierdie tyd gerus doelbewus kan oefen. “Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.” Geduld word gedefinieer as die vermoë om ’n moeilike situasie kalm te verduur, om te wag vir ’n uitkoms sonder om ander rondom jou te versteur (erf-est.org). Geduld is ook die vermoë om doelwitte rustig en akkuraat na te streef sonder om toe te laat dat angstigheid jou ontspoor. Sonder geduld is daar nie selfbeheersing nie. ’n Ongeduldige mens is nie nederig nie. Sonder geduld kan daar nie vrede wees nie en nog minder kan daar liefde en vreugde wees. Maar belangrik: Geduld is nie dieselfde as passiwiteit nie. Dis juis ’n teken van innerlike krag, vasberadenheid en deursettingsvermoë.

Ons mag maar moeg en sat wees, selfs soms moedeloos. Ons mag maar wens vir normaliteit. Ons mag maar wens dat ons ons geliefdes ’n drukkie kan gee. Maar dit alles moet ons met geduld verdra en klein treetjies in geloof vorentoe gee. Ongeduld kan lei tot selfsugtigheid, eiegeregtigheid, onbeskoftheid, beledigings en oor-en-weer-beskuldigings. Dit maak ’n moeilike tyd net nóg onaangenamer. Ongeduld is ook ’n virus.

Kom ons kom oor dit. Tot “dit” oor is.

 

Redakteursbrief

Deur Cilleste van Dyk Ons sal self. Hierdie drie woorde kan baie arrogant klink sonder die regte konteks. Solidariteit sê: Ons sal self, nie omdat ons dink dat ons dinge alleen of deur ons eie krag sal regkry nie, maar omdat dat daar geen ander opsie is vir ’n voorspoedige toekoms nie. Daarom sê ons […]


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close