Solidarteit Wêreld
2019 – Uitgawe 4
Ons bly en bou!
Deur Wian | 02 Augustus 2019

Deur Dr. Dirk Hermann

Baie mense is met reg bekommerd oor die rigting waarin Suid-Afrika beweeg. Die staat word swak regeer, wat direkte gevolge vir elkeen van ons inhou. Emigrasie is weer op almal se lippe. In ’n opname van die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) is bevind dat 67% van jongmense onder 40 aan emigrasie dink. In dieselfde opname is egter ook bevind dat 98,5% van dié jongmense nog geen stappe gedoen het om te emigreer nie. Dit is ’n noodroep van jongmense dat hulle bekommerd is, maar dat hulle tog graag hier wil bly. Mense voel gefrustreer, maar die meerderheid kan of wil nie emigreer nie. Hulle het dus geen alternatief nie; hulle bly net hier. Slegs 0,7% van Afrikaners gaan aanstaande jaar emigreer. Dit beteken dat 99,3% net hier gaan bly.

Om geen alternatief te hê nie, is ’n kragtige politieke wapen. Ons bly net hier en daarom gaan ons net hier bou. Ons bly dus, maar ons gaan nie stilbly en stilsit nie.

Die SNI het ook ’n verslag gepubliseer wat toon dat Afrikaners meer kinders kry en dat daar steeds meer kinders gebore word as mense wat emigreer. Vir daardie kinders en jongmense moet ons self die verantwoordelikheid neem om ’n toekoms hier te bou. Vir ouer mense en jongmense wil ons sê: Vat jou goed en bou!

Een van die grootste redes waarom mense emigreer en emigrasie oorweeg, is kommer oor werk en onderwys en opleiding vir hul kinders. Juis omdat die toekoms te belangrik is om in die hande van die staat te laat, het Solidariteit besluit om die toekoms trompop te loop deur ’n omvattende netwerk van werk met ’n vyfjaarbegroting van R4,5 miljard bekend te stel – die Solidariteit NetWerk.

Die Solidariteit NetWerk gaan die totale loopbaanpad saam met sy lede stap. Hierdie netwerk begin op skool; help met beroepskeuses; gaan jongmense vir werk voorberei; bou opleidingsinstellings; help met werkplasing en internskappe; beskerm beroepe deur middel van gildes; doen voortgesette opleiding; beskerm werknemers en lede in werkplekke; en gaan produkte soos mediese dekking en pensioenskemas ontwikkel, om maar enkele voorbeelde te noem.

’n Groot deel van die Solidariteit NetWerk fokus op die bou van nuwe opleidingsinstellings. Om opleidingsinstellings te bou, is om met selfvertroue te sê dat ons nog lank hier gaan bly. Ons bou vir ’n geslag wat nog kom. Die “ons” waarvan hier gepraat word, is egter nie Solidariteit nie. Solidariteit is bloot ’n instelling wat die gemeenskap se wil en energie om te bou, byeenbring en fasiliteer.

Die drie groot projekte wat nou aangepak word om te bou, is hulp aan skole deur die Skoleondersteuningsentrum (SOS), die uitbouing van die privaat universiteit Akademia en die uitbreiding van beroepsopleiding wat Sol-Tech aanbied.

Skole in Suid-Afrika is onder druk. Altesaam 75% van die openbare skole in die land is wanfunksioneel. Afrikaanse openbare skole tel egter steeds onder die bestes in die wêreld. Die Skoleondersteuningsentrum is besig om ’n skoolstelsel te ontwikkel wat openbare skole kan ondersteun om steeds wêreldklas te bly. In die lig van die staat se prestasie tot dusver kan ons egter nie al ons onderwys-eiers in die staat se mandjie laat nie. Die stelsel word daarom ook só ontwikkel dat bekostigbare privaat skole gevestig kan word. Bekostigbare onderwys van hoë gehalte word moontlik gemaak danksy nuwe tegnologie wat nie voorheen beskikbaar was nie. Hierdie groot projek word saam met verskeie ander onderwysvennote aangepak. Dit word aangepak sodat openbare skole ondersteun word, maar waar Afrikaans uitgedruk word, ’n naatlose nuwe antwoord gebied kan word. Ons wil seker maak dat daar wêreldklas- Afrikaanse skole gaan wees vir die kindertjies wat nou nog sandkastele by die kleuterskool bou.

Met sy meer as 1 000 studente wat by 12 verskillende sentrums landwyd ingeskryf is, het Akademia reeds sy sukses bewys. Vier dekane is onlangs aangestel en ’n top-akademikus is as akademiese hoof aangestel. Ongeveer 40 nuwe grade gaan vanjaar vir akkreditasie voorgelê word. Die groot projek wat aangepak gaan word, is die bou van ’n nuwe kampus vir Akademia. Dié projek gaan meer as R1,3 miljard beloop. Dit gaan ’n volledige kampus wees, met verskeie fakulteite, plek vir sowat 6 000 studente, koshuise en sportvelde om ook ’n gesonde studentelewe vir studente te kan bied. ’n Taal wat ’n hoëorde-instelling soos ’n universiteit uit die gemeenskap en sonder die staat kan bou, is vry en volwasse.

Sol-Tech word lank reeds geag as een van die top-beroepskolleges in Suid-Afrika en sy sukses lê daarin dat jongmense hoëgehalte-opleiding in skaars en kritieke vaardighede ontvang. Tans ondergaan sowat 1 300 ambagslui opleiding in die onderskeie opleidingsfases by die kollege. Die volgende groot stap in sy uitbouing is die bou van ’n nuwe kampus vir Sol-Tech. Hierdie projek gaan sowat R300 miljoen beloop en die kampus gaan ook vir koshuise en sportvelde voorsiening maak. Die grond is reeds aangekoop, bouplanne is opgetrek en bouwerk gaan reeds vanjaar begin.

As Solidariteit bou, bou hy egter saam met die gemeenskap. Die totale projek is een groot gemeenskapsprojek. Dit is niks anders as ’n hedendaagse helpmekaarbeweging nie. Daar is niks so kragtig soos ’n gemeenskap wat werk nie. Die krag van die gemeenskap is sterker as die mag van die staat. Ons omskep die gemeenskap se steun in boustene.

Ons benodig elke lid van die gemeenskap om saam te bou. Elkeen se bydrae, klein of groot, is ’n baksteen in ’n reuseprojek. Vorige geslagte het universiteite en skole gebou met die geld wat koeksisterverkope ingebring het. Elkeen van ons moet nou verantwoordelikheid neem vir ons eie toekoms en die toekoms van die volgende geslag.

Sol-Tech se kampus is ons eerste groot projek en bouwerk gaan reeds vanjaar begin. Die grond vir Akademia se kampus word vanjaar aangekoop en die SOS-stelsel om steun aan skole te verleen, is reeds aan die gang en ver gevorder.

Ons mik daarna om 20 000 nuwe mense te kry wat vanjaar nog saam gaan begin bou. Jou bydrae kan klein of groot, volgens jou vermoë, wees. Baie bietjies maak baie net soos wat klein druppeltjies ’n dam vol maak.

As jy saam wil bou, SMS net die woord bou na 34802, of besoek www.solidariteit.co.za.

Ons het besluit om saam met jou te bly en te bou. #bounou

  •  
  •  
  •  
Redakteursbrief

Dit voel vir my of ’n mens hierdie tyd van die jaar ’n ekstra hupstoot nodig het om uit die bed uit op te staan en jou kragte bymekaar te skraap om die dag aan te pak. Dit het nie net te doen met die koue daarbuite nie: Ek merk op dat almal om my […]


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close