Solidarteit Wêreld
2018 – Uitgawe 2 In Retrospek
Ons gaan hemel toe
Deur Michelle | 03 Mei 2018

“MA – HIE – NAAAA!”

André bulder sy weergawe van my naam as hy my deur die venster sien aankom. Ek waai terug en versnel my pas effens. Ek is by die deur voordat hy nog ’n keer sy verwelkomende kreet uitbulder. Nie almal in die skool wil seker hoor dat Mahiena in aantog is nie.

Ek is nog besig om oor die drumpel te tree toe hy die plastieksak oor my arm met soveel geweld beetkry dat ek amper op die mat beland. André is elf jaar oud, maar ’n jong reus. ’n Tweejarige in ’n yslike lyf.  “Ketterboekie!” roep hy opgewonde. Ek haal twee van die begeerde boekies uit die sak. Dit word dadelik met groot vreugde in besit geneem. En nee, voor my gereformeerde voorouers in hul grafte omdraai: Ketterboekies het niks met enige godsdiens te make nie. Dit is “Checkers-boekies” of te wel die advertensiepamflette wat altyd by die betaalpunte lê. André het ietwat van ’n obsessie met hulle. Ek kan op geen manier deur ’n skooldag kom sonder ’n goeie voorraad ketterboekies nie. André “lees” met oorgawe van die melk, die pap, die olie en die suiker, tot die ketterboekie voos is en hy dit self in die snippermandjie gooi met ’n “Ketterboekie klaar!”. Natuurlik moet ’n nuwe een dadelik beskikbaar wees. Nodeloos om te sê, as ek Checkers toe gaan, neem ek ewe fluit-fluit en nonchalant ’n hopie ketterboekies by elke betaalpunt en maak of ek glad nie die fronse op die personeel se voorkoppe sien nie.

Ketterboekies is nie al wat André laat tiek nie. Musiek is sy ander groot liefde. En nie enige musiek nie. Van die Loflaaities se musiek is vir hom verskriklik mooi. Lees jou Bybel, bid elke dag is ’n groot gunsteling. By “bid” word sy twee amper manshande met ’n groot plof saamgeklap. Dit het ’n rukkie geneem voor ek en my assistent die André-weergawe van die liedjies se name begin verstaan het. As André ’n liedjie wil sing, wil hy dit nóú sing. “DWA!” laat weet hy ons eendag. Hy wil DWA sing. Ons raai en raai. André word al hoe ongelukkiger en angstiger. Die trane loop naderhand. Skielik tref dit my: Die dwase man! “Ja-a-a-a-a-a-a …!” roep André, en verlig sing ons: “Die dwase man bou sy huis op die sand, die dwase man bou sy huis op die sand …!” André is in die sewende hemel.

Die “oom” wat saam met die Loflaaities sing, is André se held. Ná ete elke dag wil hy “oom” luister. Die “Oom”-DVD het ’n kenwysie wat tussen al die liedjies speel: “Ons gaan hemel toe, ons gaan hemel toe; ry die loftrein saam met ons, ons gaan hemel toe.”

André staan byna teen die skerm, verdiep in die liedjie. Ritmies maak hy sulke harde plof-klappe saam met die woorde. Ek kyk na my elfjarige peuter en ’n groot deernis neem van my besit. Ja, André, jy gaan hemel toe. Ek is so seker ons Vader sien die opregtheid van jou eenvoudige geloof, die vreugde wat jy in die woorde vind. Hy het jou lief net soos jy is …

Ons Here Jesus het groot deernis en liefde vir mense met gestremdhede gehad toe Hy op aarde was. Hy het ook vir hulle kom sterf. Tog hang baie mense die persepsie aan dat veral mense met verstandelike gestremdhede eintlik maar ’n bietjie minder mens is as ander mense – so asof die Here ’n fout begaan het om hulle te laat gebore word. Dieselfde vraag wat die dissipels vir die Here Jesus oor die blindgebore man gevra het, weerklink nou nog in mense se gedagtes: “Wie het gesondig, hierdie man of sy ouers, dat hy blind gebore is – of, in André se geval, verstandelik gestremd?” Tog antwoord die Here dat dit nie ’n fout of ’n soort straf is as iemand gestremd gebore word nie. Nee, deur die gestremde persoon word die werke van God self sigbaar vir ander mense.

Wie weet, as dit my beurt is om die poorte van die hemelryk te nader, hoor ek dalk ’n bekende stem bulder:

“MA-HIE-NAAAA!”

Al kan ek nie sy ketterboekies soontoe saamneem nie.

 

 

 

  •  
  •  
  •  
  •  
Redakteursbrief

So staan nog ’n jaar einde se kant toe. Hoewel die laaste deel van 2018 steeds volgepak is met dinge om af te handel, kan ons reeds met tevredenheid terugkyk op die jaar se groei en sukses tot op hede. Hierdie is die 100ste uitgawe van Solidariteit Tydskrif en bied dus die perfekte geleentheid vir […]


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close