Solidarteit Wêreld
2020 – Uitgawe 1
Ons is hier om te #BouOmTeBly | Op pad na 2030
Deur Michelle | 16 Maart 2020

Foto krediet:

Deur Reon Janse van Rensburg

Die Solidariteit Beweging het in Oktober 2019 ’n toekomsberaad aangebied waar hulle onder andere planne bekendgemaak het vir 2020 tot en met 2030.

Die beraad het daarop gefokus om ’n toekoms te beplan en te skep vir die volgende geslag jong Afrikaners en Afrikaanssprekendes. Al is daar onsekerheid en wanhoop by talle mense, jonk en oud, wat vervreemd voel in ’n land wie se regering namens hulle besluit oor hul toekoms, beplan en werk die Solidariteit Beweging steeds vir die toekoms.

Daar is ongetwyfeld groot struikelblokke in ons pad en baie mense oorweeg geleenthede in die buiteland, maar die Solidariteit Beweging ontwikkel juis ’n netwerk waarby ons lede kan inskakel deur instellings soos Solidariteit se Netwerk van Werk, AfriForum se veg-en-bou-plan en ander instellings soos Helpende Hand, sodat plaaslike geleenthede geskep word. Daarby help die Studiefondssentrum en wêreldklas opleidingsinstellings soos Akademia en Sol-Tech om gehalte-onderrig in Afrikaans aan jongmense te bied en sal die Skoleondersteuningsentrum 30 onafhanklike skole teen 2030 in die ankerdorpe in Suid-Afrika vestig. Dit bewys dat waar daar ’n wil is, is daar ’n weg!

“Planne moet nie van die regering afhang nie, maar van onsself, anders is dit slegs ’n wenslys.” – Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging

Waarom doen ons wat ons doen?

Ons almal is deel van ’n gemeenskap met die behoefte om ’n toekoms te skep waarin ons kinders veilig kan grootword en kan floreer. Die ervaring het bewys dat hoe minder die staat betrokke is, hoe beter is die oplossing!

“Die Afrikaner het ’n geskiedenis van veerkragtigheid. Ná elke krisis het die Afrikaner ook teruggebons. Gaan ons die eerste geslag wees wat nie terugbons nie? Wat nie ’n roepingsbesef het nie? Wat nie besef dat die Here vir ons ’n opdrag vir ’n spesifieke tyd en op ’n spesifieke tyd gee nie?” – Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit

Almal wat wil werk, moet kan werk!

Die 2030-plan in ’n neutedop

  1. Afrikaners se groot uitdaging is nie hul klein getalle nie, maar hul yl verspreiding. Groter konsentrasie is nodig. Daar is 30 dorpe geïdentifiseer waarheen Afrikaners natuurlikerwys trek.
  2. Konsentrasie in plekke en instellings maak dit moontlik om gemeenskapsoplossings vir skole, opleiding, veiligheid, werk, kultuur, maatskaplike en munisipale dienste te vind.
  3. Die Vierde Nywerheidsrevolusie en die veerkragtigheid van Afrikaanse jongmense gaan oplossings bring vir vraagstukke waarvoor daar tot dusver nie antwoorde was nie.
  4. Solidariteit gaan steeds sy lede in die algemeen beskerm, maar gaan spesifiek fokus op rasseboelies. Daar word beplan om weer voorleggings by die VN te doen. Die nuwe tendens van vals aantygings van rassisme gaan beveg word.
  5. Werkende mense gaan nou ook volgens beroepsgildes georganiseer word. Gildes gaan jongmense help om die mark te betree, netwerke vorm, help met opleiding en gaan opstaan vir die belange van die beroep. Teen 2030 gaan ’n reusenetwerk van beroepsgildes binne Solidariteit gevestig wees.
  6. Solidariteit Jeug help jongmense om gereed en voorbereid te wees om die arbeidsmark te betree en om in die mark geplaas te word.
  7. Akademia gaan sy studiesentrums landwyd uitbrei en tussen 30 en 40 nuwe grade laat akkrediteer. ’n Nuwe kampus wat 5 000 studente sal huisves, gaan teen ’n koste van meer as R1,5 miljard gebou word. Die eerste studente wat lesings op kampus sal kan bywoon, sal reeds in 2021 op ’n tussentydse kampus kan begin klasloop.
  8. Sol-Tech het reeds 1 300 studente in die onderskeie fases van opleiding wat tans vir sewe ambagte voorsiening maak. ’n Nuwe kampus en koshuise gaan teen ’n bedrag van R300 miljoen gebou word. Sol-Tech se kapasiteit gaan verdubbel en sy opleidingsaanbod gaan vergroot.
  9. Die groot bouprojekte word deur die nuwe eiendomsmaatskappy, Kanton, aangepak. Kanton bou lewensruimtes vir Afrikaans en vind ’n vennootskap tussen kultuur en kapitaal. Beleggers kan ’n goeie kulturele en finansiële opbrengs verwag.
  10. Teen 2030 gaan die getal Helpende Hand-takke van 150 tot 190 groei. Ondersteuners gaan van 40 000 tot 60 000 toeneem. Die getal Helpende Hand-winkels gaan van 50 tot 80 toeneem. Die getal maatskaplike werkers gaan van 10 tot 30 vermeerder.
  11. S-leer is verantwoordelik vir lewenslange leer. Dit plaas mense aan die voorpunt van die kennisgolf. Daar word beplan om 100 kursusse in verskeie vaardighede teen 2030 aan te bied.
  12. ’n Bedrag van R8 miljard gaan in die volgende 10 jaar gemobiliseer word om al die groot projekte van die 2030-blyplan te finansier.
  13. Die 2030-plan is ’n gemeenskapsplan. Hoe meer gemeenskap en hoe minder staat, hoe meer vryheid is daar. Selfverantwoordelikheid beteken die toekoms is jou verantwoordelikheid. Dít is bevrydend.
  14. Internasionale skakeling deur die Solidariteit Beweging gaan na ’n nuwe vlak geneem word. Die afgelope vyf jaar is groot sukses in Europa, die VSA en Australië hiermee behaal. Die fokus sal op steun- en fondswerwing wees.

 

Die Solidariteit 2030-blyplan is ’n gemeenskapsplan wat die gemeenskap moet bestuur. Al die instellings wat daarby betrokke is, is bloot voertuie. Die Solidariteit Beweging se krag is verbondenheid aan mekaar.

Ons nooi ons lede uit om deel te neem aan gesprekke, al is dit op sosiale media. Lewer kritiek waar dit nodig is, maar gee ook krediet waar dit toekom. Moenie modder gooi nie en bou brûe na ander gemeenskappe in Suid-Afrika. Leer om jou medeburgers se taal te praat en maak ’n verskil!

Die Solidariteit Beweging gaan bly, maar ons gaan nie stilbly nie. Ons glo aan selfbestuur en selfstandigheid. Ons toekoms hoef nie deur die staat bepaal te word nie omdat die krag van die gemeenskap sterker is as die mag van die staat!

Kom bou saam aan ’n toekoms waarin die Afrikanerkultuurgemeenskap en die Afrikaanse taalgemeenskap vry, veilig en voorspoedig is. Kom bou om te bly!

Redakteursbrief

Deur Cilleste van Dyk Ek skryf vandag die derde opeenvolgende brief vir julle vanuit my woonkamer-kantoor, maar tog voel dit vir my soos ’n keerpunt. Ons is uiteindelik op vlak 2 van die inperking en dis byna asof daar weer ’n mate van normaliteit terugkeer. Die klein bietjie meer vryheid het my laat besef dat […]


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close