Solidarteit Wêreld
2019 – Uitgawe 4
Ons moet bou in die krake
Deur Wian | 02 Augustus 2019

Deur Connie Mulder

Kimi Makwetu, ouditeur-generaal, kondig op 26 Junie 2019 aan dat slegs 7% munisipaliteite skoon oudits gekry het. Hy skets ’n prentjie van totale finansiële verval op plaaslike diensleweringsvlak. Mense ontvang nie meer basiese dienste van die regering nie.

Paramedici moet nou vergesel word deur polisielede wanneer hulle sekere gebiede ingaan – dit is te gevaarlik om alleen in te gaan. Verskeie nooddienspersoneel is die afgelope ruk beroof en aangerand wanneer hulle op noodoproepe reageer, en die polisie staan magteloos om iets te doen aan die wetteloosheid.

Mense word nie meer veilig gehou deur die regering nie.

Afleggings neem toe in die Suid-Afrikaanse ekonomie, met verskeie groot maatskappye wat duisende poste sny. Alles is tekens van ’n krimpende, selfs sterwende, ekonomie. Boonop het Suid-Afrika se BBP met 3,2% gekrimp ná die nasionale minimumloon in werking getree het.
Mense word nie meer deur die regering ekonomiese ruimte gegee nie.

Terwyl Suid-Afrika al hoe meer begin lyk na ’n sinkende skip, praat pres. Cyril Ramaphosa van sneltreine en slimstede. ’n President wat die wa deur die drif moet kry, sit eerder met sy kop in die wolke.
Ons sit met ’n regering wat die land regeer wat hulle wil hê, eerder as die een wat hulle het.

Hierdie ontkoppeling dui net op een onafwendbare toekoms: dat ons regering verder gaan verbrokkel en kwyn, en dat die beperkte invloed wat hulle tans op ons lewens uitoefen, nóg minder gaan word.

Vir alle kultuurgemeenskappe, en spesifiek die Afrikaner, is hierdie fantastiese nuus.

Hoewel ’n mens graag sou wou hê dat ’n regering ruimtes skep vir minderhede en mense om hulle eie toekoms te bou, is dit nie die soort regering wat ons in Suid-Afrika het nie. Ons het ’n regering wat aan die samelewing voorskryf waarop hulle moet trots wees, waaraan hulle moet glo en deesdae ook wat hulle mag dink en sê. Enige kwyning van só 'n versmorende regering se mag moet verwelkom word.

Terselfdertyd skep die regering wat verbrokkel ruimtes wat gevul moet word. Praktiese ruimtes, soos basiese dienslewering, veiligheid en ekonomiese spasie.

In die krake van die sentrale regering lê die ruimtes waar ons die toekoms gaan bou wat ons wil sien.

Hierdie is ’n ongekende geleentheid wat aan gemeenskappe in Suid-Afrika gegun word om hul visie oor die toekoms te bou. Sonder ’n sterk voorskrywende sentrale regering, is die noodwendige alternatief ’n desentralisering van mag en ’n toekoms wat van onder af vorentoe gebou word, eerder as van bo af afgedwing word.

Die Solidariteit NetWerk is die voertuig waarmee ons hierdie toekoms kan bou. Indien ons dit kan regkry om in elkeen van hierdie krake instellings op te bou wat die toekoms wat ons wil hê, help bou, dan is ons waarlik besig om te bou om te bly – vir honderde jare.

Die volgende 10 jaar gaan bepalend wees. Hierdie is die dekade waarin die fondasie gelê moet word vir ’n volhoubare toekoms. Indien ons nou inspring en ons hoekstene in die krake van die regering vasmessel, kyk ons na ’n toekoms waar kinders weer kan fietsry in die strate, waar misdaad die uitsondering eerder as die norm is en waar mense op meriete aangestel en beloon word.
Maar nou moet ons bou.

  •  
  •  
  •  
Redakteursbrief

Dit voel vir my of ’n mens hierdie tyd van die jaar ’n ekstra hupstoot nodig het om uit die bed uit op te staan en jou kragte bymekaar te skraap om die dag aan te pak. Dit het nie net te doen met die koue daarbuite nie: Ek merk op dat almal om my […]


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close