Solidarteit Wêreld
2020 – Uitgawe 5 In Retrospek
Onwankelbaar, rotsvas!
Deur Lize-Mari | 09 November 2020

Foto krediet: iStock

Deur Marietha Malan

Ek het nog nooit van verandering gehou nie. In die personeelkamer kies ek my stoel in ’n veilige hoek. Selfs op die eerste werkdag van die nuwe jaar, wanneer almal tradisioneel weer nuwe plekke kies, mik ek vir my ou stoel. Ek ry soggens altyd dieselfde pad werk toe en hou dieselfde merkers langs die pad dop om te sien of ek nog op skedule is. Ek gebruik dieselfde handsak totdat dit totaal en al gedaan is. As dit tyd is om ’n nuwe selfoon te kry, stel ek dit so lank as moontlik uit om op te gradeer, want ek is tevrede met my ou foon.

2020 was dus nie die beste jaar vir iemand wat nie van verandering hou nie. Die inkom-prosedure by die skool is gans anders. Weg is die gesellige reuk van filterkoffie en die gekwetter in die personeelkamer voor die hoof binnekom om die afkondigings te doen. Nou staan almal gedemp entjies van mekaar af, mense se temperatuur word in die saal gemeet en die saniteermiddels laat alles soos hospitaal ruik. Weg is die gemeensame matspelery in die klas om dieselfde houer blokkies of karre tot wanneer ons met die dagprogram begin. Deesdae sit elkeen bedees op sy eie stoel met sy eie saniteerbare dingetjie voor hom of haar. Weg is die bekende weekroetine wat uitloop op die jolige en lawaaierige saalopening Vrydae. Sosiale afstand vereis nou dat die kinders beurte maak om skool toe te kom en glad nie in groot groepe vergader nie.

Die ergste is dat niemand weet hoe lank hierdie dinge nog so gaan bly nie. Die onsekerheid klits ’n mens se gemoed soos roereier om. Jy vrees vir jou weerloses. Jy stres oor jou geldsake. Jy verlang na jou geliefdes by wie jy sedert Vlak Een nog steeds nie kon uitkom nie. Jy raak vies vir mense wat nie dieselfde as jy dink oor maskers of sosiale afstand nie. En dan weer, lag jy vir ’n pittigheid wat een of ander slimmie op WhatsApp stuur. Jy geniet dit om te kyk hoe mense oral oor die aardbol op “Jerusalema” se maat dans. Jy verwonder jou aan al die virtuele konserte en woon vir die eerste keer ’n webinaar by.

Die deurmekaarspul wat Covid-19 is, eis ook sy tol op die gemoed van veral een van my leerders: Brandon is ’n kind wat op die outistiese spektrum is. Outiste kan skielike verandering nie verdra nie. Op die eerste dag wat hy weer by die skool opdaag, gee hy die vreesaanjaende plek wat eens vir hom bekend was, net een kyk en besluit: Hier is ek nie veilig nie. Niemand kon hom regtig voldoende voorberei vir die gemaskerde figure wat soos skimme rondgly om mense se temperatuur te meet met goed wat soos gewere lyk nie. Boonop hang die deurdringende reuk van saniteerder in die lug. En toe dit blyk dat sy pa hom by die hekkie moet afsien, is die gort gaar. Teen die tyd dat Brandon by my klas kom, is hy op die punt om in te plof. Hy is ’n groot seun en sy fris stem laat hoor en sien vergaan. Angsbevange ruk hy met geweld die sleutel wat om my nek hang af om die speelgrond-hekkie te probeer oopsluit. Ek het geen ander keuse nie as om die pa te bel en te vra om hom maar weer te kom haal.

Die aanpassingsproses was stappie vir stappie, moeisaam. Ek moes toestemming vra dat Pappa saam met hom by die terrein en ook by die klas mag inkom, iets wat nou taboe is. Elke keer het ek probeer om een of twee gunstelingaktiwiteite met hom te doen, voordat hy vasberade sy tas op sy rug gesit en die pa se hand geneem het om aan te dui dat hy nou klaar is met skool vir die dag. Geleidelik het hy begin ontspan, totdat ek vir Pappa die teken kon gee om maar te vertrek. Ons het uitgehou tot so elfuur, toe hy weer beangs heen en weer begin hardloop het. Twee maande later, en sy skooldag eindig nog steeds elfuur, maar dit gaan darem elke dag ’n bietjie beter.

Brandon se Covid-angs weens al die verandering is ekstreem, maar ek sien dieselfde soort emosies in myself en ook in mense om my. Ons wil so graag ontslae wees van al die abnormaliteit. Ons wil soos altyd kuier, vakansie hou, werk, leef. Ons wil vergeet van maskers en sanitering. Ons wil net weer veilig voel.

Koning Dawid, wat die Psalms geskryf het, se lewe was ook vol onsekerheid en angs. Daar was ’n tyd toe hy vir sy eie seun moes vlug. Terwyl hy in die woestyn wegkruip, nie weet wat volgende gaan gebeur nie en voel of hy alles verloor het, skryf hy:

God is vir ons ’n toevlug en sterkte; as hulp in benoudhede is Hy in hoë mate beproef.

Daarom sal ons nie vrees nie, al waggel die aarde en al wankel die berge weg in die hart van die see …

Al wankel en waggel alles wat bekend is – al voel dit asof alles waarop jy altyd staatgemaak het, wegval – Hy, die Rots, bly altyd vas, sterk en seker. Altyd dieselfde. Veilige vesting.

Veel veiliger as my hoekstoeltjie in die personeelkamer.

 

 

 

 

 

Redakteursbrief

Deur Cilleste van Dyk Ons sal self. Hierdie drie woorde kan baie arrogant klink sonder die regte konteks. Solidariteit sê: Ons sal self, nie omdat ons dink dat ons dinge alleen of deur ons eie krag sal regkry nie, maar omdat dat daar geen ander opsie is vir ’n voorspoedige toekoms nie. Daarom sê ons […]


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close