Solidarteit Wêreld
2018 – Uitgawe 3 In Retrospek
Oor donker dinge en groot gate
Deur LJ | 19 Junie 2018

Marietha Malan

My huis zoem van bedrywigheid. Op 57 sou ’n mens dink dat jy laatmiddae met jou voete omhoog ’n koppie tee op die stoep sou kon geniet terwyl jy die sonsondergang bewonder. Toe nie. Drie kleinkinders en twee kuiermaatjies van langsaan hol uitbundig in die gang af. Die televisie kwetter in die agtergrond. Marietjie roep die hond, wat al weer onophoudelik parkie se kant toe blaf. En tussen dit alles deur probeer ek en my ma en pa ’n bietjie nuus opvang. Hulle het pas uit Bethlehem aangekom. Koffie en beskuit staan stomend op die ronde tafel in my sitkamer.

Skielik hoor ons ’n geweldige slag in die TV-kamer langs die sitkamer. Die kokketiel gee ’n paar paniekerige skreeue. My koffie stort. Ons kyk mekaar verstard aan. Wat was dít? Ek staan op en loer om die deur. My mond val oop. ’n Groot, donker gat gaap in die plafon. Stukke plafon en ander gemors lê orals. My ma en pa, wat ’n bietjie stadiger beweeg, kom staan langs my. Saam staar ons in verstomming na die misterieuse gat.

“Was dit nie ’n inbreker nie?” wonder Ma.

“Hy het nie nodig gehad om soveel moeite te doen nie,” sê Pa droog, een oog op my skuifdeur wat al weer wawyd oop staan. Ons roep die tuinman nader, wat ’n leer bring en opklim. Geen teken van enigiets buitengewoon nie. Genugtig. Ek weet daar is rotte op die plafon, maar een wat só ’n gat veroorsaak, moet iets uit ’n rillerfliek wees.

“Waar’s die kinders?” vra Ma skielik.

Ja, waar ís die kinders? Alles is onnatuurlik stil. Ons stap uit, roep en soek. Toe, skielik, verskyn hulle van agter ’n muurtjie. Spierwit geskrik.

“Het julle iets te doen met die gat in die dak?” vra ek. Dadelik vloei die trane. Ja, word daar verduidelik, hulle het iets daarmee te doen. Hulle het alles daarmee te doen. Hulle het ’n luik aan die kant van die huis ontdek waardeur ’n mens by die plafon kan inklim. Dit was ’n groot avontuur om met flitse die donker, muwwe plek te verken. Totdat Anelda deur die plafon getrap en dwarsdeur geval het. Gelukkig het daar ’n kas reg onder die plek gestaan. Sy het op die kas geland, afgespring en weggehol. Die ander het teruggevlug na die luik toe en uitgeklim.

Skoonsus, wat ook Buurvrou is, daag intussen op. Sy is briesend. Haar twee dogtertjies word taamlik onsag huis toe beveel om die sakie met haar te gaan bespreek. Anelda se lip bewe. Hier en daar is ’n nerfie af van die val, maar sy makeer gelukkig niks ernstigs nie. Nie te lank nie of Buurvrou se twee dogtertjies daag op met ’n hele sak van hul spaargeld. Hulle ma het hulle gestuur om vir die skade te kom betaal. Ek wil dit eers nie neem nie, maar Skoonsus se houtoog oortuig my dat dit die regte ding is om te doen.

Daardie Saterdag stap ek by Chamberlains uit met ’n groot stuk plafon, ’n sakkie spykers en ’n blik verf. William, my tuinman, kan enige ding doen – van sweis tot teëlwerk en messel, pype regmaak en ja, plafonne vaskap.

“Die kjenners is stout!” mor hy, klak met die tong, maar spring aan die werk. Voor middagete is die plafon splinternuut en kan ek aan twee baie verligte dogtertjies ’n hele sak “kleingeld” teruggee.

Laatmiddag is my huis vir ’n verandering rustig. Ek maak ’n koppie tee en sit met my voete omhoog, soos dit ’n 57-jarige betaam. Ek dink weer aan die gat, die val en dit wat kon gebeur het en darem nie het nie. En net daar sluit ek my oë om dankie te sê vir die goeie Vader se bewarende hand.

Soveel keer vang ’n mens iets nalatig of impulsief aan. Ry gou oor ’n kruising, al is die lig al ‘n rukkie oranje. Vergeet om die agterdeur te sluit. Koop ’n duur rok as jy nog nie al jou rekeninge betaal het nie. Klim op ’n wankelende leer om ’n gloeilamp te vervang. Of miskien doen jy selfs ernstiger, donkerder dinge, dinge wat jy goed weet baie slegte gevolge kan hê … Dikwels ís daar slegte gevolge, sit die gat in die dak daar vir almal om te sien, lyk alles verlore en stukkend. Dan is dit belangrik om te onthou dat herstel altyd weer moontlik is. Dat ons ‘n Vader het wat genees, ophelp en vergewe. Dat ’n mens altyd weer voor kan begin. Dat die Here Jesus eenmaal by ’n diep, donker grafspelonk uitgestap het sodat ons ook uit die diep donkerte van ons eie ellende kan uitstap, die Ewige Lewe tegemoet.

Die son verdwyn agter die horison. Ek lig my voete van die ronde tafel af, sit my koppie neer en sluit die deure dig. Mens weet nooit wie skuil buite in donker gate nie!

  • 1
  •  
  •  
  •  
Redakteursbrief

So staan nog ’n jaar einde se kant toe. Hoewel die laaste deel van 2018 steeds volgepak is met dinge om af te handel, kan ons reeds met tevredenheid terugkyk op die jaar se groei en sukses tot op hede. Hierdie is die 100ste uitgawe van Solidariteit Tydskrif en bied dus die perfekte geleentheid vir […]


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close