Solidarteit Wêreld
2019 – Uitgawe 5 In Retrospek
Oor Else, Louis en ’n verjaardag met koek, sosaties en Fanta
Deur LJ | 30 September 2019

“Else Saterdag verjaar. Jy haar ’n koek braai.” Ek sug. Nog ’n SMS van Louis. Louis is doof en verstandelik gestremd. Hy het eendag by my hek opgedaag om ’n werkie te soek. Ek het heel toevallig ’n ou swaai gehad wat ek wou laat verf vir die skool. Hy het baie mooi netjies geverf en ’n geldjie verdien. Sedertdien kry ek gereeld SMS’e van Louis in ’n kinderlike styl, vol spel- en taalfoute – om te laat weet sy geld is op en of ek hom R200 sal leen; om te vra of ek vir hulle vleis het; om te laat weet dat hy niks van sy blyplek hou nie en ’n ander een soek. Ensovoorts. Meestal ignoreer ek dit net, maar vandag het ek tog weer ’n verfwerkie vir hom. Ek antwoord dus:

“Louis, kom verf Saterdag my rondawel. Dan kan jy geld verdien en vir Else ’n koek koop.”

Else is Louis se suster. Hulle twee woon saam in ’n garagewoonstel in iemand se agterplaas. Albei leef van hulle Sassa-pensioen. Ek sien haar skrams sit en brei toe ek Louis die Saterdag oplaai. Hy glimlag breed terwyl hy met ’n wuif groet. ’n Hele paar tande voor in sy mond is reeds getrek. Hy ruik sterk na rook en ek maak onopvallend twee van die kar se vensters effe oop nadat hy sy sit gekry het. Louis gesels land en sand op sy manier. Hy kommunikeer baie effektief met gebare. Hy wys na Rietjie en verneem of sy kan praat. Hy beduie na die skool langs die pad en vertel dat hy in ’n skool vir dowes was. Hy vra waar my man is en trek met die vinger oor sy keel om te vra of hy dalk dood is. Geamuseerd beantwoord ek sy vrae so goed ek kan, ondersteun deur gebare van my eie. Hy verstaan baie mooi.

Ná ’n koppie koffie (drie suiker, beduie hy) begin Louis verf. Hy kla dat die roller nie meer so goed is nie, maar werk heel netjies. Hy geniet die pap en wors wat ek hom vir middagete aanbied en bring die bord skoongeëet terug. Toe hy die plafon begin verf, kan ek sien dat die dag begin lank raak. Sy mondhoeke begin ondertoe rem. Hy skud sy arm en beduie dat sy hand nou seer raak. En die verf spat in sy gesig as hy hier bo verf, wys hy. Wel, dis darem al amper half drie, dus kan Louis se werkdag maar seker eindig. Ek beduie dat hy maar kan stop en dat ek hom weer sal kom haal om die werkie klaar te maak. So hou ek ’n rukkie later voor Pick n Pay stil, waar Louis met sy vars geldjie in die sak uitklim om vir Else ’n koek te koop.

Ek wag en wag. Eindelik kom Louis te voorskyn. “Dirrrr” (duur), beduie hy. Hy het ’n kleinerige halwe koekie gekoop vir R40 asook ’n 2-literbottel Fanta en ’n klein pakkie sosaties. Else gaan bly wees, beduie ek. Louis straal tandeloos. Ja, wys hy: Sy gaan huil. Hy beduie met die vuil verfvingers hoe die trane gaan loop. Ek kyk in my spieëltjie toe ek wegry nadat ek vir Louis afgelaai het. Else ontmoet hom by die hekkie, bedek haar mond verras met haar hande … My spieëltjie lyk skielik bietjie dowwer as netnou!

Louis is arm. Sy wêreld is eenvoudig. Hy is afhanklik van sy suster Else en veral ook van sy Jesus se sorg en liefde. Onwillekeurig, as ek aan hom dink, kom die woorde van die Here Jesus se saligsprekinge by my op: “Salig is die wat arm van gees is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele” (Matt. 5:3). Hoe anders is hierdie konsep nie as dit wat ons glo nie? Die wat slim is, wat ryk is, wat baie van die Bybel af weet, wat baie besit, wat senior posisies beklee, hulle sal gelukkig wees. As ek maar net so kan wees. Maar nee, die Here Jesus leer ons die teenoorgestelde: Salig, gelukkig is jy as jy weet dat jy hulpbehoewend is; as jy jou volle vertroue in God stel, dat jy Hom broodnodig het, elke dag. “Vertrou op die Here met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie” (Spr. 3:5). Al is jy ryk, is dit belangrik vir jou saligheid om te weet dat alles wat jy het, aan Hom behoort en dat jy volkome van Hom afhanklik is.

Later die aand kom nog ’n Louis-SMS deur: “Louis lekker braai en koek reg, jiesus prys en louis en else maandag gaan haal pille.”

Else het lekker verjaar.

  •  
  •  
  •  
Redakteursbrief

By Solidariteit het ek die voorreg om saam met ’n klomp inspirerende storievertellers te werk. Die stories wat hulle vertel, is nie sommer net stories nie. Hierdie stories gee jou moed, laat jou 'n bietjie verder en harder dink oor belangrike kwessies en laat jou altyd besef jy het ’n spesiale plek in die einste […]


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close