Solidarteit Wêreld
2018 - Uitgawe 5
Overvaal: Oorwinning vir Afrikaanse onderrig
Deur LJ | 18 September 2018

Foto krediet:

Deur Alet Rademeyer

Die Konstitusionele Hof se beslissing in die saak tussen die Gautengse onderwysdepartement en die Hoërskool Overvaal se beheerliggaam is ’n oorwinning vir Afrikaanse onderwys.

Die hof het die onderwysdepartement se aansoek om appèl met koste van die hand gewys. Panyaza Lesufi, omstrede LUR vir onderwys in Gauteng, en sy departement mag nie appelleer teen die vorige hofuitspraak nie. Dié uitspraak het bepaal dat hy nie bykomende Engelse leerders in die Hoërskool Overvaal in Vereeniging mag plaas nie.

Die departement wou die skool dwing om Engelse leerders in te neem ondanks die feit dat die skool tot sy volle kapasiteit gevul was en reeds Afrikaanssprekende leerders moes wegwys.

Die konstitusionele hof se uitspraak berus daarop dat die departement nie voldoende oorweging aan die beskikbare kapasiteit van twee naburige enkelmedium Engelse skole, Phoenix High School en General Smuts High School, gegee het nie. Die hof het beslis albei skole bied onderrig in Engels in dieselfde voedingsgebied as die Hoërskool Overvaal.

Carien Bloem, AfriForum se projekkoördineerder vir onderwys, sê  die uitspraak bevestig die reg van skole se beheerliggame om oor kwessies soos die skool se taalbeleid te beslis, asook die bestaansreg van enkelmedium Afrikaanse skole. “AfriForum hoop dat hierdie beslissing ’n einde aan Lesufi se voortdurende inmenging by Afrikaanse skole sal bring.”

Sy sê die uitspraak beklemtoon hoe belangrik dit is dat ouers vir wie Afrikaanse onderrig belangrik is, sorg dat Afrikaanse skole vol is en dat hulle by beheerliggame se werksaamhede betrokke raak om die toekoms van Afrikaanse onderwys te verseker.

“Lesufi het ’n rassegeskil van die saak probeer maak, terwyl die skool veelrassig is. Die hof het ’n belangrike uitspraak ten gunste van Afrikaans, maar ook van taalregte oor die algemeen, gelewer. Ons hoop dit sal die voortdurende aanslag teen Afrikaanse skole vir eens en vir altyd beëindig,” sê Bloem.

AfriForum se gemeenskapsveiligheid-afdeling het vroeër ook betrokke geraak om die plofbare situasie by die skool te ontlont nadat ’n groep EFF-lede opgeruk het om skoolbedrywighede te ontwrig toe die 55 Engelssprekende leerders nie toegelaat is nie.

AfriForum het in samewerking met die polisie en ander veiligheidstrukture verseker dat leerders veilig is en onderrig nie ontwrig word nie.

Paul Colditz, uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), het ook die Konstitusionele Hof se uitspraak verwelkom. Hy meen egter dit is betreurenswaardig dat ’n saak wat oor kapasiteit gegaan het, ’n taal- en raskwessie geword het.

Chris Klopper, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU), sê daar moet kennis geneem word van die uitspraak wat ook daartoe sal lei dat skole wat onderbenut en geïgnoreer word, nou benut sal moet word.

Johan Kruger, adjunkbestuurshoof van Solidariteit, beskou die uitspraak as ’n oorwinning vir alle openbare skole wat Afrikaans as onderrigtaal aanbied, asook skole wat gedurig kapasiteituitdagings in die toelatingstyd ervaar. “Die bevel bevestig nie alleen dat staatsamptenare nie roekeloos mag wees wanneer dit by die plasing van leerders kom nie, maar beklemtoon ook die belangrike beginsel dat Afrikaans as onderrigtaal wel ’n grondwetlike ruimte het.”

Redakteursbrief

Deur Cilleste van Dyk Ons sal self. Hierdie drie woorde kan baie arrogant klink sonder die regte konteks. Solidariteit sê: Ons sal self, nie omdat ons dink dat ons dinge alleen of deur ons eie krag sal regkry nie, maar omdat dat daar geen ander opsie is vir ’n voorspoedige toekoms nie. Daarom sê ons […]


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close