Solidarteit Wêreld
2014 – Uitgawe 5 Spreekbuys
Passasiers tot pro-aktiewe planters
Deur PW | 21 Oktober 2014

Passasiers tot pro-aktiewe planters

Die dae van bloot saamry as passasiers na ’n vry, veilige en voorspoedige toekoms, is vir goed getel. Dit is ons plig en voorreg om vir ons kinders iets beter op te bou as wat ons van ons ouers gekry het. Dit vra egter dat ons moue oprol en meer doen. Cilleste van der Walt het met Flip Buys gesels oor die Solidariteit Beweging se nuwe leierskapstruktuur en hoe die Beweging “Plan A” met “Plan B” wil ondersteun.

Wat is die rede vir die nuwe leierstruktuur vir Solidariteit?

Die Solidariteit Beweging het die afgelope twee jaar so groot gegroei dat dit nodig geword het om ’n uitvoerende voorsitter aan te stel ter wille van beter koördinasie. Dit bring mee dat ek nie meer operasioneel by die vakbond betrokke kan wees nie, maar hoofsaaklik strategies as uitvoerende hoof sal optree. Daarom het ons vir Dirk Hermann gevra om bestuurshoof te word, met Gideon du Plessis as hoofsekretaris wat hom sal bystaan om te verseker dat ons lede steeds die beste moontlike diens kry. Dit beteken dat ek steeds by die vakbond betrokke sal wees, omdat die vakbond deel is van die Beweging, maar dat Dirk die operasionele bestuur sal hanteer, met Gideon wat vir die hele arbeidsverhoudingediens verantwoordelik sal wees. Hulle is albei buitengewoon bekwame en ervare mense, en ek het die volste vertroue dat hulle, Appie Pienaar en Johan Kruger die vakbond na die volgende vlak sal kan neem.

Hoe sien jy jou nuwe taak in die Beweging?

Die Beweging het die afgelope jaar ontwikkel tot ’n moderne helpmekaarbeweging wat werksaam is op die gebied van arbeidsverhoudinge, burgerregte, maatskaplike welstand, opleiding, taal en kultuur, en die media. Die toenemende staatsverswakking, die reeks rasse- en sosialistiese wette wat tans op die wetboeke kom, en hofuitsprake soos dié in die Renate Barnard-saak laat die rooi ligte flikker. Dr. Frans Barker het tereg gesê dat werkers se regte afhang van burgerlike en politieke vryhede. Dis die les van Zimbabwe: Toe eiendomsreg as fondament van die ekonomie daar aangetas word, het dit tot ’n 94%-werkloosheidskoers gelei. Daarmee bedoel ek as die politiek verkeerd loop, gaan die ekonomie saam ondertoe, en val werkers eerste oor die afgrond. Daarom is my rol om seker te maak dat die Beweging vinniger en groter uitgebou word, sodat ons ons lede en ons gemeenskap steeds sal kan beskerm.

Dink jy dat die land kan verval?

Suid-Afrika is gelukkig ver van staatsverval af, maar sekere dele van die staat het reeds verval. Meer as die helfte van ons land se skole is disfunksioneel, talle staatshospitale is verwaarloos, in baie dorpe word dienste nie meer gelewer nie, in groot dele van die land is die polisie so swak dat geweldsmisdaad handuit ruk, sommige provinsiale en selfs nasionale staatsdepartemente kan nie meer hul werk doen nie, en korrupsie vier by instellings soos die Poskantoor skynbaar hoogty, met R2 miljard wat onregmatig wanbestuur is! Kortliks, die wolke van verval en verontregting is nie meer op die horison nie, dit hang al laag en donker bokant ons.

Daar is gelukkig ook meer positiewe ontwikkelings op ander gebiede waar dit nog vir lank gaan goedgaan, maar ons kan nie meer aanvaar dat dinge net vanself gaan regkom nie. Ons sal aktief betrokke moet raak om te verseker dat ons kinders nog ’n toekoms in hierdie land het. Ons voorouers het dit reggekry om groot dinge uit niks op te bou, en ons kan dit ook doen. Dis ons plig en ons voorreg om vir ons kinders iets beter op te bou as wat ons van ons ouers gekry het.

Jy het gesê dat ons aan ’n “Plan B” saam met “Plan A” moet werk. Wat bedoel jy daarmee?

Met Plan A bedoel ek dat ons die Grondwet en die demokrasie steeds ten volle moet benut om ons lede en ons gemeenskap se welstand in die bestaande bedeling te bevorder. Mense moet deelneem aan verkiesings, ons moet ’n werkverhouding met die owerhede op alle vlakke handhaaf, ons moet die howe gebruik as die laaste uitweg as ons lede se regte geskend word, ons moet voortgaan met ons normale bedrywighede soos altyd. Maar dis nie meer genoeg nie. Ons kan nie net meer op die Grondwet, die regering en werkgewers staatmaak om vir ons en ons kinders ’n leefbare toekoms te verseker nie. Daarmee bedoel ek dat ons nie meer net soos passasiers kan saamry tot by ’n vry, veilige en voorspoedige toekoms nie. Ons sal meer moet doen. Dis nie slegte nuus nie, want om op ander staat te maak, verlam ’n mens. Onlangse gebeure soos die Barnard-uitspraak bevry ons van daardie verlamming dat ander vir ons toekoms gaan sorg. Daarom moet ons deur ons Beweging se organisasies self vir ons toekoms verantwoordelikheid aanvaar. Dis ’n toekoms waarin ons ook blywend vry, veilig en voorspoedig in Afrika kan voortbestaan.

Hoe gaan dit in die praktyk werk?

Kom ek noem net een praktiese voorbeeld – dié van opleiding. Ons gaan vanselfsprekend steeds Plan A volg, deur aan die Seta’s en maatskappy-opleidingsprojekte deel te neem, maar dis nie meer genoeg nie, want ons kinders word meestal vanweë hul ras en die ondoeltreffende Seta’s van opleidingskanse en -beurse uitgesluit. Daarom moet ons Plan B ook volg: Ons moet Sol-Tech uitbrei en die Solidariteit Studiehulp so groot uitbou dat elke kind wat wil, moet kan studeer.

Die kern van Plan B is dat volhoubare oplossings geskep moet word om suksesvol en selfstandig in Afrika te bly. In die praktyk moet ons net die Beweging se organisasies wat reeds op streeksvlak bestaan, landswyd uitbrei. Dit vereis dat landswye selfhelpstrukture vir “kulturele selfregering” geskep word. Hierdie strukture moet gemeenskappe help om dorpe en stede te laat werk, goeie verhoudings met die regering te bevorder, met die staat te onderhandel, en te sorg vir veiligheid, ’n gesonde omgewing en ’n sakevriendelike klimaat. Voorts moet die strukture ’n waghond vir burgerregte kan wees en Afrikaans en Afrikaanse onderwys en opleiding kan bevorder. Terselfdertyd moet hierdie helpmekaarbeweging ook maatskaplike dienste lewer, Afrikaanse gemeenskapsradiostasies en -media bedryf, bedryfsfondse bekom deur koopkrag te mobiliseer, navorsingsinstitute bedryf, grondwetlike en selfstandige ruimtes ontwikkel, die oppergesag van die reg beskerm, verhoudings met ander groepe bevorder, buitelandse skakeling doen, en erfenis- en geskiedenisbewaring bevorder.

Die Solidariteit Beweging het reeds ver gevorder met Plan B, ons gaan dit nou net na snelrat oorskakel!

  •  
  •  
  •  
Redakteursbrief

Ek het nou die dag lekker vir ’n kollega van my gelag. Dit was ’n moeilike dag by die werk, want die sperdatum van ’n projek was op hande terwyl daar nog ’n miljoen goed gedoen moes word. Sy kan soos ’n tornado deur die kantoor waai as sy só ’n dag beleef en so […]


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close