Solidarteit Wêreld
2019 – Uitgawe 2 Webwoelings
Ruk jou lewe reg met jou selfoon in die hand
Deur Michelle | 25 April 2019

Die jaar is volstoom op dreef, en soms voel dit asof alles wat moet gebeur en alles wat jy vergeet, oorweldigend raak. Daar is egter ’n verskeidenheid slimfoontoepassings (apps) wat jy kan gebruik om beter te beplan en te organiseer. Hieronder is drie apps wat enersyds gerieflik en andersyds gebruikersvriendelik en gratis is.

Google Keep

Die eerste slimfoonapp is Google Keep. Dit is vir daardie vinnige nota wat jy wil maak oor iets wat in die yskas kort, voor jy weer daarvan vergeet wanneer jy tussen die winkelrakke staan. Jy kan die verskillende notas volgens kleur indeel of groepeer volgens temas wat verband hou met mekaar, soos “huis”, “werk” en “kinders”. Die formaat waarin jy jou notas stoor, kan jy ook aanpas na willekeur: dit kan ’n boodskap, ’n lysie, stemnotas en selfs foto’s wees. Dié app is ekstra gerieflik omdat jy die notas met ander gebruikers kan deel en dit later meer professioneel kan verpak deur dit oor te dra na ’n Google-dokument. Google Keep is beskikbaar vir Andriod en iOS. 

Trello

’n Tweede app wat jou lewe sommer heelwat makliker kan maak, is Trello. Dit is gewild omdat dit jou kan help om jou lewe en verantwoordelikhede te organiseer, en jy dit kan aanpas om jou leefstyl en behoeftes te pas. Dis ook beskikbaar vir selfoon en rekenaar, en veranderings wat jy op die een aanbring, vertoon dadelik ook op die ander toestel. Met Trello skep jy digitale “kaarte” wat jy in lysies saam op ’n digitale “notabord” groepeer, soos jy voorheen met plakkernotas op ’n witbord sou gemaak het. Kaarte kan met jou muis tussen lysies rondgeskuif word. Op elke kaartjie kan jy ’n sperdatum aanbring, prioriteite of take daarop lys en dokumente aanheg. Sodra jy besluit het in watter lyste jy jou kaartjies wil organiseer, kan jy ander mense wat jy uitgenooi het om die bord met jou te deel, op die kaart “tag” en vir hulle notas skryf waarvan hulle moet kennis neem. Hulle kan dan op hul beurt notas byvoeg en ander veranderings aan die kaartjies en bord aanbring. Hierdie app is ideaal vir gesinne waar almal besig is, maar herinner moet word dat Boetie die asblik moet uitgooi, Sussie die hond moet kos gee en Pa die kinders ná werk by Ouma moet gaan haal. Dis ook ideaal om jou werkverwante verantwoordelikhede mee te organiseer. Jy kan Trello vir persoonlike gebruik gratis aflaai, hoewel jy ’n lisensiefooi sal moet betaal indien jy vir besigheidsdoeleindes toegang wil hê tot meer gevorderde funksionaliteit. Trello is geskik vir Andriod en iOS. 

Cortana

Alle selfone is deesdae toegerus met ’n digitale assistent, en hoewel jou selfoon Google Assistant of Siri het, kan jy dit gerus oorweeg om Cortana te installeer, veral as jy Windows 10 gebruik. Jy kan hierdie app aflaai en met jou Microsoft-rekening inteken. Cortana kan notas neem, lysies maak en jou herinner aan dit wat jy nog moet doen. Wat hierdie app die moeite werd maak, is die feit dat dit integreer met so te sê enige ander kalendertoepassing, dat dit hoogtepunte in die nuus aan jou uitlig en dat dit vir jou die weervoorspelling gee. Hierdie app is ook geskik vir Andriod en iOS.

Moenie dat beplanning en organisering jou kelder in 2019 nie. Installeer vir jou ’n app wat jou kan help om jou lewe te vergemaklik en moeiteloos by alles uit te kom.

  • Saamgestel uit inligting in die artikel Seven apps and tools to organize your life deur D. Niel in 2019, soos gepubliseer op die tydskrif Popular Science se webwerf popsci.com.
  • 2
  •  
  •  
Redakteursbrief

Met die Solidariteit Beweging se Toekomsberaad op 10 Oktober vanjaar het Solidariteit die laaste deel van 2019 met ’n groot hoogtepunt aangepak. Dit was ’n heerlike geleentheid waartydens die energie en opgewondenheid tasbaar was onder die groep mense wat saam groot dinge vir ons toekoms help beplan. Tydens die vorige Toekomsberaad, wat in 2015 gehou […]


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close