Solidarteit Wêreld
2018 - Uitgawe 5
Sasol 'n Staking van 'n ander soort
Deur LJ | 18 September 2018

Foto krediet:

Deur Mia Slabbert

Daar was vure, sang en eise, maar nie die soort waaraan ’n mens gewoond is en wat byna elke dag op nasionale nuuskanale uitgebeeld word nie. Die vure was braaivleisvure, die musiek opgewek en die eise wat gestel is, beoog om rassespanning en rasverdeling in Suid-Afrika die hok te slaan.

Solidariteit, tesame met duisende van sy lede en ander ondersteuners het die afgelope paar weke saam gestaan, saam gebraai en saam gebid teen die brandstofreus Sasol se Khanyisa-personeelaandeleskema waar wit werknemers op grond van hul velkleur uitgesluit word.

Sasol het vroeër gesê dat die bemagtigingskema Khanyisa-aandele ter waarde van R500 000 per persoon slegs aan swart werknemers gaan toeken. Khanyisa volg op die Inzalo-skema wat finansieel misluk het. Inzalo het wel wit werknemers ingesluit.

“Sasol het nog altyd 'n geskiedenis van insluiting gehad, Inzalo is 'n bewys daarvan, maar nou kies Sasol 'n toekoms van uitsluiting. Dit is verkeerd, dit is onverantwoordelik en dit is 'n klap in die gesig van diegene wat Sasol help bou het tot die reus wat hy vandag is,” het dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, aan duisende Sasol-werknemers in Secunda, Mpumalanga, gesê.

“In praktyk beteken dit dat 'n wit Sasol-werknemer wat 30 jaar by Sasol werk, geen voordeel kry nie, maar 'n swart werknemer wat drie maande by Sasol werk, sal R500 000 kry. Werkers wat dieselfde werk doen, kry verskillende voordele. Dié besluit van Sasol gaan werkers in rassekampe verdeel en rassespanning opjaag. Hierdie staking is histories,” het Hermann gesê.

Dit is die eerste keer in Suid-Afrika se geskiedenis dat wit werkers oor rasse-uitsluiting staak. “Julle maak geskiedenis en Sasol is besig om skande te maak. Die rede hoekom Sasol skande maak, is omdat hulle op 'n skema besluit het wat 100% rasgeoriënteerd is. Hulle plaas weer rassebeleid op die voorgrond in Suid-Afrika. Julle doen iets wat min mense bereid is om te doen en dit is om op te staan vir wat reg is. Hierdie is nie net 'n kwessie van wit en swart nie, dit is 'n kwessie van reg en verkeerd, en wat julle doen is om op te staan vir dit wat reg is,” het Hermann bygevoeg.

Die konsepmynbouhandves wat onlangs in die Staatskoerant vir kommentaar gepubliseer is, maak dit duidelik dat 'n personeelaandeleskema inklusief moet wees en nie werkers op grond van ras mag verdeel nie. Die manifes maak net voorsiening vir werknemers wat reeds deur aandeleskemas vergoed word. Ras is dus nie 'n maatstaf nie.

Lucas Lekoloane werk al 38 jaar by Sasol in Secunda en is al vir 15 jaar lank 'n lid van Solidariteit. Hy het tydens die staking in Secunda sy kollegas se hande geneem en saam met hulle gestaan om nee te sê vir die uitsluiting van wit werkers wat Khanyisa se tweede fase beoog om te doen.

Ingevolge die tweede fase van Khanyisa sal swart werknemers by Sasol R500 000 se aandele by die maatskappy ontvang, terwyl wit werknemers, ongeag hul posisie of diensrekord by Sasol, op geen manier aan die fase mag deelneem nie.

“Ek kan eenvoudig nie terugstaan en my kollegas alleen los nie. Ons eenheid is ons krag. Ek dink nie Sasol hou woord by daad nie. Hulle diskrimineer nou teen die wit werkers by Sasol en dit is net nie reg nie. Om 'n pragtige melodie op 'n klavier uit te voer, moet ’n mens die swart én die wit note gebruik. Sasol speel net die swart note en hierdie melodie is vals,” het Lekoloane gesê.

“Lucas is een van baie werkers wat nou verdeeld voel; hy voel verdeeld van sy medewerkers en dit is eenvoudig net nie reg nie. Net so is daar een van ons swart lede wat met 'n wit vrou getroud is. Hy kry hierdie aandele, maar nou bepaal Khanyisa – hoe lagwekkend dit ook al mag klink – dat die geld nie deur 'n witmens geërf mag word nie. Dit is hoe dit in Khanyisa se reëls uiteengesit is. Hy mag dit dus nie aan sy vrou nalaat nie, en dit is die harde feite van hierdie skema,” het Hermann gesê.

Nico Coetzer is gestremd, maar steeds nie waardig om deel van Sasol se Khanyisa-personeelaandeleskema te wees nie. Coetzer, wat al 29 jaar vir Sasol in Secunda werk, het op 15 Mei 2018 'n e-pos aan 'n hooggeplaasde by Sasol gestuur waarin hy navraag gedoen het oor Khanyisa en wou weet of hy as gestremde ook deel van die skema gaan wees.

Hy is op dieselfde dag nog in kennis gestel dat hy nie aandele gaan ontvang nie, omdat hy wit is. In dokumentasie wat op die Sasol Khanyisa-webblad beskikbaar is, word daar uitdruklik gesê dat wit werknemers en buitelanders nie aandele in hierdie skema kan kry nie.

Volgens Coetzer het hy sy lewe vir Sasol gegee – sy gesondheid, sy eerste huwelik. “Dit is ongelooflik hartseer om te sien wat hulle aan 'n mens doen ná al hierdie jare. Ek is nog steeds trots op Sasol en my werk en ek glo regtig nie dat ek beter is as ander rasse nie, maar ek wil ook nie hê ander rasse moet dink hulle is beter as ek nie. Ek meen, ek is ook 'n mens, ek het ook 'n gesin, en ek is ook waardig,” het Coetzer gesê.

'n Reuseveldtog is van stapel gestuur waardeur mense die Sasol-werkers kan ondersteun. Gaan na www.solidariteit.co.za en wys jou steun.

Redakteursbrief

Deur Cilleste van Dyk Ons sal self. Hierdie drie woorde kan baie arrogant klink sonder die regte konteks. Solidariteit sê: Ons sal self, nie omdat ons dink dat ons dinge alleen of deur ons eie krag sal regkry nie, maar omdat dat daar geen ander opsie is vir ’n voorspoedige toekoms nie. Daarom sê ons […]


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close