Solidarteit Wêreld
2019 – Uitgawe 4
Skuld met vlerke Ondermyning en wanbestuur vier hoogty by staatsinstellings
Deur Wian | 02 Augustus 2019

Deur Connie Mulder

Dit is al amper soos klokslag – nóg ’n jaar, nóg ’n SAL-skande. In Junie 2019 bedank die soveelste uitvoerende hoof van die SAL, hierdie keer Vuyani Jarana. In sy bedankingsbrief voer Jarana aan dat die regering nie ernstig is daaroor om SAL te red nie, en dat daar ’n sistematiese ondermyning van die lugdiens deur die regering is. Hierdie nuus is niks nuut nie – dit blyk uit jare se ondermyning en wanbestuur dat die regering staatsinstellings as spaarvarkies sien.

Die belastinglas op die Suid-Afrikaanse burger is reusagtig, veral inaggenome die feit dat ’n mens niks as teenprestasie kry nie. Van al die bodemlose putte waarin Suid-Afrikaanse belasting val, is staatsinstellings sekerlik een van die ergstes. In ’n 2004-beleidsdokument stel die ANC dit duidelik dat staatsinstellings se funksie moet wees om bemagtiging en transformasie te bevorder, en in ’n 2012-beleidsdokument word hierdie standpunt weer bevestig.

Die gevolge van dié besluit is duidelik vir almal om te sien. In 2019 kon Eskom nie die ligte aanhou in die somer nie, Denel stoei om salarisse te betaal en die SAUK moes kies tussen munisipale rekeninge en personeelsalarisse. Al hierdie staatsinstellings misluk klaaglik in hulle plig om aan die publiek ’n diens te lewer, maar slaag daarin om transformasieteikens te haal.

Een ding moet ons besef: wanneer daar verwys word na belastinggeld, word daar eintlik bedoel jóú geld. ’n Regering maak nie wins nie – dit belas wins. Elke liewe ding wat jy koop, is 15% duurder omdat jy hierdie staatsinstellings finansier.

Weens hierdie verstommende vermorsing van belasting het Solidariteit geen ander keuse nie as om die publiek se waghond te wees. Tans word daar hofstukke voorberei om ’n sakereddingsaansoek op SAL te beteken. Indien die aansoek slaag, neem die belastingbetaler as’t ware beheer terug van die lugdiens. Nie net is dit ’n duidelike boodskap aan die regering dat ons genoeg gehad het nie – dit is ook ’n saak waarmee ’n presedent geskep sal word.

As belastingbetalers sê ons met hierdie hofaansoek dat ons verantwoordbaarheid eis. Ons eis dat ons swaarverdiende belastinggeld aangewend word om die burgers van Suid-Afrika te dien, nie die politici van Suid-Afrika nie.

Tog moet SAL slegs as ’n wegspringplek in Solidariteit se veldtog teen belastingmisbruik gesien word, en nie as die eindpunt nie. Daar lê ’n lang stryd voor.

 

  •  
  •  
  •  
Redakteursbrief

Met die Solidariteit Beweging se Toekomsberaad op 10 Oktober vanjaar het Solidariteit die laaste deel van 2019 met ’n groot hoogtepunt aangepak. Dit was ’n heerlike geleentheid waartydens die energie en opgewondenheid tasbaar was onder die groep mense wat saam groot dinge vir ons toekoms help beplan. Tydens die vorige Toekomsberaad, wat in 2015 gehou […]


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close