Solidarteit Wêreld
2016 – Uitgawe 3 Spreekbuys
Smeer aan en kom!
Deur Michelle | 14 Junie 2016

My pa was 'n haastige man wat vinnig besluite geneem en uitgevoer het. Hy het nie veel geduld gehad met mense wat gesit en wag het dat dinge vanself beter raak nie. Sy leuse was dié van die Vrystaatse Republiek se president Brand: “Alles sal regkom as elkeen sy plig doen”, skryf FLIP BUYS.

My pa het ons altyd vermaan om “op te hou ginnegaap, en eerder vroeg op te staan en laat te gaan slaap”. Sy gunsteling storie was die een van 'n oom en sy vrou wat diep in die platteland, ver van die naaste dorp af, gebly het. Hulle het net 'n donkie gehad om mee te ry. Daar was net een probleem: die donkie was steeks. Hy het viervoet vasgesteek as hy moes loop.

Een Saterdag moes die oom en tannie dorp toe vir 'n dringende afspraak. Soos gewoonlik het die esel botweg vasgesteek. Hy wou nie roer nie. Maar hierdie keer was die oom reg met 'n plan. Hy het opgeklim, die tannie agter op die donkie getel en 'n botteltjie terpentyn uit sy sak gehaal. Met 'n ingenome glimlag op sy gesig het hy agtertoe geleun en 'n stewige smeersel terpentyn onder die stomme dier se stert gesmeer. Die donkie het vir 'n oomblik geskok verstar en toe met 'n skielike sprong soos 'n pyl uit 'n boog weggespring. Met 'n hoë gilletjie het die tannie halsoorkop agteroor getuimel, in die middel van die pad te lande gekom en die skielike resiesdonkie agterna gekyk terwyl sy floutjies skreeu: “Stop, wag vir my!”

Maar die oom het geweet hy gaan nie die donkie weer aan die gang kry as hy nóú stop nie. Hy gryp toe weer die botteltjie terpentyn, gooi dit oor sy skouer in die tannie se rigting en skreeu: “Ou vrou, smeer aan en kóm!”

Ons moes gereeld hierdie verhaaltjie hoor as ons by Pa kom kla het oor iets wat “met” ons gebeur. “Smeer aan en kom,” het Pa dan gesê, bedoelende: dóén iets aan die saak en hou op kla.

Dis presies hoe ek partykeer voel as ek hoor van mense wat in die pad sit en “stop, wag vir my!”-kritiek skree as ons iets aan die probleme in die land doen. Dis meestal mense wat sit met 'n “wenslys” van alles wat die regering veronderstel is om te doen, eerder as 'n “doenlys” van alles wat ons self kan doen. Dis soos toeskouers wat lang die rugbyveld sit en vir die spelers of skeidsregter skree wat om te doen. Die probleem is net, hulle het geen invloed op die spel nie. Die regering luister nie na raad nie, al is dit hoe goed bedoel.

 

“Regse rassiste”

My storie oor mense wat soos die tannie in die stofpad sit en skree “wag vir my” in plaas daarvan om saam vorentoe te gaan, kom nou al 'n lang pad. Dit het begin in die dae van die ou Mynwerkersunie, toe ons gewaarsku het dat die sogenaamde “Wet op Billike Indiensneming” nie oor gelykheid gaan nie, maar oor verteenwoordigendheid. Ons het 'n navorsingsverslag publiseer waarin 'n gerespekteerde statistikus bereken het 'n paar honderdduisend witmense gaan as gevolg van “demografiese verteenwoordigendheid” uit die staatsdiens, openbare ondernemings en groot maatskappye gedruk word. Ons is toe op die brandstapels van die Afrikaanse openbare mening verbrand as “regses”, “rassiste” en mense wat net negatief oor die nuwe demokrasie is. Geen ag is geslaan op ons goed deurdagte argumente nie. Ons navorsing is sommerso afgemaak as “regs”, sonder dat die kritici eers gewonder het of daar dalk iets in steek. En toe dit later geblyk het dat ons feitelik korrek was, het die beswaardes nie onthou dat ons reg was nie, maar dat ons regs was.

Dieselfde beskuldigings is na ons toe geslinger toe ons gesê het bevrydingsbewegings soos die ANC is nie gerat om 'n moderne land te regeer nie. Of toe ons gesê het die grondwetlike beskerming van individuele regte is nie genoeg om ons groepsregte soos gelykheid in die werksplek of Afrikaanse skole of universiteite te beskerm nie. Ons is uitgelag toe ons gewaarsku het dat die ANC by die grondwetlike onderhandelings net toegewings gemaak het  om die mag te kry, maar dat hulle later die mag sou gebruik om hulle oorspronklike doelstellings deur te dryf. Ons is uitgekryt as regs en rassisties toe ons, na aanleiding van deeglike navorsing, Solidariteit Helpende Hand gestig het, omdat ons gesien het wit jongmense word op rassegronde van studiebeurse uitgesluit. Dieselfde het gebeur toe ons 'n tegniese kollege stig omdat ons gesien het die tegniese opleidingstelsel is besig om ten gronde te gaan en wit jongmense kry nie toegang tot dié opleiding nie. Met die stigting van AfriForum was dit weer dieselfde ou deuntjie: die “Seunse Weenkoor” het weereens hoog ingesit oor hoe regs en rassisties ons sou wees.

Werk met werklikhede

Hierdie beledigings en beskuldigings het soms maar seergemaak, veral omdat daar baie was wat nie net teen ons planne was nie, maar dit aktief teengewerk het. Ons het egter vorentoe gekyk en volhard met ons resep om met werklikhede te werk, in plaas daarvan om te bly hoop ons wense word waar. Ons het deurlopend geweier om ons spoed aan te pas by diegene wat die stadigste was om agter te kom wat aangaan. My eie houding was deurgaans: “Smeer aan en kom!” Deur skeppende vernuwing gegrond op beproefde waardes, kon ons met die hulp van duisende lede uiteindelik 'n groot helpmekaarbeweging opbou wat noodsaaklike besluite kon neem én self kon uitvoer.

Namate die werklikhede van 'n ANC-regering wat weer 'n nuwe rassebedeling in werking stel gaandeweg ingesink het, het baie van dié wat ons beskuldig het, ontnugter geraak deur dit wat besig is om te gebeur. Maar steeds is elke nuwe projek wat ons aangepak het, met wantroue bekyk en neusoptrekkerig beruik vir 'n sweempie van “regse” motiewe. Met Akademia se stigting is aanhoudend gevra of dit nou kamstig “uitsluitend” sal wees, wetende dat hulleself niks doen om te sorg dat Afrikaanse kinders ook by opleiding ingesluit word nie.

Intussen het die ou onverkwiklike verdelingslyne gelukkig vervaag, en is dit vervang met 'n nuwe middel van gewone demokratiese verskille. Ons projekte het oorweldigende steun begin kry, en die ANC het begin regkry wat geen Afrikanerleier nog kon nie: om eenheid onder Afrikaners te begin bewerk. Die weerstand teen vernuwing het algaande in aktiewe steun vir ons projekte begin verander. Terselfdertyd het ander groepe soos talle bruin Afrikaanssprekendes ook besef dat hulle nie swart genoeg is vir die nuwe bewindhebbers nie, en dat hulle in die naam van gelykheid heeltemal ongelyk behandel word.

Skaamkwaad

Die afgelope jaar of wat is dit asof 'n damwal van steun begin breek, en word ons oorval deur mense wat betrokke wil raak. Hier en daar het selfs 'n paar bekendes wat ons vroeër soos 'n aansteeklike siekte vermy het, skaamkwaad nader begin staan, aanvanklik net toe hulle self hulp nodig kry. Hulle sluk steeds swaar aan die moontlikheid dat ons dalk “reg” was, want dit sou beteken dat hulle verkeerd was. Dit wil niemand hoor nie – “regs” word moeilik “reg”. Maar ons hoor darem al minder hoe “regs” ons is, en al hoe meer hoe verkeerd die ANC is. Net 'n klein groepie verbete vasbyters soos die Seunse Weenkoor bly steeds met hulle voete stewig in die lug geplant staan. In hulle oë bly die verdediging van dieselfde grondwetlike regte wat hulle vroeër bepleit het regs. Hierdie vals koortjie bestaan uit 'n klein groepie “kommentators”, joernaliste en enkele akademici wat ons steeds met die teerkwas probeer bykom, in die hoop dat hulle nuutgevonde kritiek teen die ANC hulle nie “regs” sal laat lyk nie.

Burgers en onderdane

Ons staan voor 'n uitdagende, maar opwindende tyd, waar die meerderheid Afrikaners vandag vrye “burgers” eerder as slaafse onderdane wil wees. Natuurlik gaan dit onbeskryflik moeilik wees, maar ek kies eerder die onsekerheid van die sukses van selfdoen, as die sekerheid van die mislukking van wat die ANC nou doen. Ons planne word vandag al deur meer as 350 000 gesinne ondersteun. Ons moenie diegene wat nog nie op die wa geklim het, beveg of verwyt nie. Maar aan diegene wat steeds twyfel en weifel, mag ons maar vriendelik sê: “Smeer aan en kom!”

  •  
  •  
  •  
Redakteursbrief

Sedert 1902 glo Solidariteit in werk en om mekaar te help. 117 jaar later is dit steeds Solidariteit se hartsbegeerte om mense te help om 'n goeie werk te bekom en te behou. Ons uitdagings word ongelukkig groter, en dus moet ons planne nóg groter word. Solidariteit spits hom toe op werkgeleenthede – en watter […]


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close