Solidarteit Wêreld
2019 – Uitgawe 4
Sol-Tech bou ’n splinternuwe, wêreldklaskampus
Deur Wian | 02 Augustus 2019

Sol-Tech word lank reeds as een van die beste privaat beroepskolleges in Suid-Afrika beskou. Sy sukses lê daarin om jongmense indiensneembaar te maak deur hulle met hoë gehalte-opleiding in skaars en kritiese vaardighede op te lei. Tans is daar sowat 1 200 studente in verskillende fases van opleiding, hetsy by  die kampus of by ’n geakkrediteerde werkgewer.

Die volgende logiese stap in aanloop tot beter dienslewering en meer kursusse is die bou van 'n nuwe kampus vir Sol-Tech in Pretoria. Hierdie projek gaan sowat R300 miljoen beloop en gaan ook in die toekoms vir onder andere koshuise en sportvelde voorsiening maak. Die grond is reeds aangekoop, bouplanne is opgetrek en bouwerk gaan vanjaar nog begin, as alles volgens plan verloop. Vergelykings met ander tegniese kolleges in die wêreld toon aan dat die nuwe kampus Sol-Tech bepaald onder die voorstes in die wêreld kan plaas.

As Solidariteit bou, bou hy in die gemeenskap, saam met die gemeenskap, tot voordeel van die gemeenskap. Daar is min dinge so kragtig soos 'n gemeenskap wat saamwerk. Die geskiedenis het reeds oor en oor bewys dat die krag van die gemeenskap sterker as die mag van die staat is, en daarom word die gemeenskap se steun met hierdie projek in (kollege)boustene omskep wat ook vir die komende generasies ’n baken van hoop sal wees.

Een van die doelwitte van die ontwerp van die kampus is onder andere om studente so tuis te laat voel dat hulle lewenslank met Sol-Tech ’n band sal wil hê – ’n  diep emosionele band wat bevestig sal word deur:

  • ‘n positiewe emosionele belewenis op kampus;
  • ‘n omgewing wat die student se identiteit help vorm; en
  • die kwaliteite en karakter van die instelling wat positiewe gedrag vaslê.

Benewens die emosionele band wat die kollege met sy studente sluit, beoog Sol-Tech ook om die gemeenskap by beide akademiese en sosiale interaksies te betrek. Sol-Tech moet ’n integrale deel van die sakesektor en die wyer gemeenskap vorm.

Oorbruggingsprogram

Nie alle voornemende studente kwalifiseer om dadelik by Sol-Tech te studeer nie. Om hierdie rede het Sol-Tech ’n unieke oorbruggingsprogram ontwikkel waarmee voornemende studente wel toelating tot studies kan verkry. Dié studente sal die basiese beginsels van relevante vakke soos Wiskunde, Wetenskap, Ingenieursgrafika en -ontwerp en ambagspesifieke tegniese vakke leer om sodoende die nodige toepaslike onderbou vir verdere studies te verkry.

Skoliere wat tydens hul sekondêre skoolfase die nodige tegniese onderbou wil bekom om toegang tot Sol-Tech se formele tegniese beroepskwalifikasies te verkry, gaan primêr hierby baat vind. Dit word by die kampus aangebied, maar vir die gerief van voornemende studente wat nog op skool is (en nie Wiskunde, Wetenskap of Tegnologie het nie), word die oorbruggingskursusse ook op dorpe soos Wolmaransstad, Bethlehem, Naboomspruit, Klerksdorp en Worcester aangebied.

Bruikbare beroepsgerigte kwalifikasies sal altyd Sol-Tech se fokuspunt bly. Behalwe vir die bestaande opleiding in verskillende ambagte, word daar ook gekyk na nie-tegniese kwalifikasies soos IT, sakebestuur en landbou. Natuurlik word daar spesifieke beroepsgerigte kursusse vir dames ook in die vooruitsig gestel.

Sol-Tech-kampus Skoudag

Ons nooi jou uit om te kom kyk waar ons die nuwe Sol-Tech-kampus gaan bou en hoe dit gaan lyk. Danksy tegnologie gaan jy werklik, met virtuele realiteit, kan sien hoe die finale produk gaan lyk. Hou  jou dagboek op 13 September om 11:00 oop en sluit by ons aan! Die grond vir die nuwe kampus is in Solomon Mahlangu-rylaan geleë, reg langs die Waterkloof-lugmagbasis en skuins oorkant HI-Q Dastek. Die ingang in Solomon Mahlangu-rylaan sal duidelik aangedui word.

 

  •  
  •  
  •  
Redakteursbrief

Dit voel vir my of ’n mens hierdie tyd van die jaar ’n ekstra hupstoot nodig het om uit die bed uit op te staan en jou kragte bymekaar te skraap om die dag aan te pak. Dit het nie net te doen met die koue daarbuite nie: Ek merk op dat almal om my […]


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close