Solidarteit Wêreld
2017 – Uitgawe 6
Sol-Tech vier tien jaar van uitnemendheid
Deur Michelle | 16 November 2017

Ná 'n baie suksesvolle dekade in die opleidingswêreld het Sol-Tech in September amptelik sy tiende bestaansjaar gevier. Hierdie instelling van die Solidariteit Beweging het van 'n nederige begin gegroei tot 'n volwaardige en vooraanstaande beroepsopleidingskollege in Suid-Afrika.

Paul van Deventer, uitvoerende direkteur van Sol-Tech, het die dag as 'n geskiedkundige oomblik bestempel. “Dis 'n oomblik waarin ons kan terugkyk op tien jaar se harde werk en dit kan vier. Soms was dit 'n gesukkel, partykeer was ons effens moedeloos, maar dit was altyd met dankbaarheid,” het hy in sy toespraak by die viering van Sol-Tech se tiende bestaansjaar gesê.

Dié beroepsopleidingskollege, wat ten doel het om jongmense indiensneembaar te maak en tot voordeel van die land 'n toekoms in Suid-Afrika te gee, word nie gefinansier deur groot staatsfondse of bemagtigingstransaksies nie, maar deur klein bydraes van gewone mense, het hy verduidelik.

“Daarom is die strategie om ‘grootgeld met kleingeld’ te maak deur gereelde ‘helpmekaar’-bydraes van duisende gewone mense. Op dié manier kon ons dit tot dusver regkry om sowat R50 miljoen (ingesluit studiefondse) in Sol-Tech te belê, waarvan byna alles uit gereelde tienrandbydraes van Solidariteit-lede bestaan het.”

“Dit is nie 'n geheim dat die gehalte van ambagsopleiding in die land lankal reeds krisisafmetings bereik het nie,” het hy gesê. “Dit is ook nie ’n geheim dat ons studente hulle vasloop in ekonomiese en politieke omstandighede in die land wat dit bitter moeilik maak vir hulle om regverdig mee te ding, of ten minste ’n gelyke kans te staan vir werksgeleenthede nie. Om daardie rede moet Sol-Tech sorg dat ons studente eenvoudig in ’n ander klas is. Ons doen dit deur opleiding te gee op ’n standaard wat baie hoër is as enige ander opleidingsinstelling in Suid-Afrika – opleiding wat die minimum standaarde of verwagtinge ver oortref. Ons kan eenvoudig nie slegs die vereiste kirrukulum aanbied nie – ons moet aan ons studente vaardighede bied wat hulle bo redelike twyfel indiensneembaar sal maak.”

'n Terugblik  

Solidariteit het tien jaar gelede reeds besef dat ambagsopleiding in Suid-Afrika besig is om weg te kwyn. Daarom het die vakbond Sol-Tech as 'n ambagsopleidinginstelling gestig, wat met slegs 64 studente en drie personeellede begin het. Van die personeel wat daardie tyd al betrokke was, vertel dat hulle in daardie stadium geen toerusting tot hul beskikking gehad het nie, min tot geen opleidingsmateriaal nie en geen werkswinkels nie. Kantoorspasie by Solidariteit se hoofkantoor is vinnig omskep in tydelike werkswinkels, geskrewe notas is gebruik as leermateriaal en toerusting is op prentjies aan studente gewys.

Gedurende Januarie 2011 het Sol-Tech sy tradisionele opleidingsmodel vernuwe na dié van 'n baie suksesvolle Duitse model wat vandag nog gebruik word. Hierdie model behels dat studente se institusionele opleiding aaneenlopend plaasvind voordat hulle vir geïntegreerde werkplekondervinding by werkgewers geplaas word. Ná afloop van laasgenoemde is studente dan gereed om finaal te kwalifiseer vir die betrokke ambag.

‘n Hoogtepunt gedurende 2011 was toe die eerste studente hul finale vaktoetse geslaag het:  12 van die 15 pas-en-draai-studente, wat in 2008 begin werk het op prentjies in plaas van toerusting, het met hul eerste probeerslag gekwalifiseer. Dit was tekenend van die hoë standaard van opleiding wat toe reeds gehandhaaf is.

Gedurende September 2013 skuif Sol-Tech na die kampus waar hulle vandag steeds is. Die kollege in Booysens het op 'n Donderdagoggend toegemaak, en teen Maandagoggend is opleiding by die nuwe perseel in Kirkney, Pretoria hervat.

Vandag het Sol-Tech 55 hoogs gekwalifiseerde personeellede en ongeveer 1 200 studente wat in verskillende stadiums van hul kwalifikasies is. In enige stadium is daar ongeveer 600 studente op kampus besig met teoretiese en institusionele opleiding en 600 studente besig met hul geïntegreerde werkplekopleiding.

Sol-Tech het, te midde van die moeilike omgewing en klimaat van opleiding, die afgelope 10 jaar daarin geslaag om jaarliks ‘n groot aantal vakmanne suksesvol op te lei. Hulle gaan steeds onverpoosd voort met dié goeie werk.

Ses belangrike punte

Tydens sy toespraak by die viering van Sol-Tech se tiende verjaardag het Van Deventer gesê hy glo daar is ses dinge wat hulle reg gedoen het om toe te sien dat die kollege hoë gehalte opleiding lewer wat in groot aanvraag in die industrie is: die hoë standaard van opleiding, kundige personeel, voortreflike toerusting, die opleidingsmodel, die student self en die plasing van daardie studente.

Wat die plasing van studente in die werkplek betref, bied Sol-Tech aan sy studente ’n baie unieke diens wat werkplekopleiding as kwalifikasievereiste vergemaklik: Hulle maak gebruik van die dienste van Ajani, ’n onafhanklike maatskappy wat studente by werkgewers plaas vir geïntegreerde werkplekervaring. Hierdie model is suksesvol te danke aan Ajani en Sol-Tech se goeie verhouding met die verskeie werkgewers enersyds, en die gehalte van die studente wat hulle aan die werkgewers kan lewer andersyds.

Sol-Tech se toekoms

“Sol-Tech het die afgelope tien jaar daarin geslaag om hom te vestig as hoë kwaliteit opleidingsinstelling in die tegniese en ambagsopleidingsfeer. Ons eerste prioriteit bly steeds om na ’n meer permanente en groter kampus te skuif waar verdere uitbreiding moontlik sal wees,” verduidelik Van Deventer.

“Die rigtings waarin ons tans opleiding bied en waarin ons in die toekoms opleiding sal gee,  sal streng bepaal word volgens kritiese en skaars vaardighede in die land, juis daar waar geleenthede vir mense bestaan om verseker te wees van 'n goeie werk. Ons oorweeg ook verskeie ander opsies vir die toekoms, nie net in tegniese rigtings nie, maar ook in rigtings wat onder andere ’n groter persentasie vrouestudente sal insluit,” het Van Deventer afgesluit.

 

  •  
  •  
  •  
Redakteursbrief

Hierdie uitgawe van Solidariteit Tydskrif is amper so geskiedkundig soos die laaste paar maande waarin elkeen van ons gekonfronteer is met die Covid-19-pandemie wat die wêreld basies tot stilstand gebring het. Dit sal die eerste keer wees wat die tydskrif nie gedruk word nie. Daar was tot dusver, met 107 uitgawes agter die blad, nog […]


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close