Solidarteit Wêreld
2019 – Uitgawe 5
Solidariteit bal belastingvuis
Deur LJ | 30 September 2019

Deur Cilleste van Dyk

Mislukte staatsondernemings sluk jaarliks miljarde rande in en steeds belê die staat ons swaarverdiende belastinggeld roekeloos in hierdie entiteite. Daarom het Solidariteit ‘n vyfpunt-belastingvuis, oftewel ’n omvattende, wettige belastingprotesveldtog, van stapel gestuur.

Dié protes sluit minstens vyf regsaksies teen staatsondernemings en belastingplunderaars in.

  1. Die SAUK. Solidariteit het ’n kostebevel teen Hlaudi Motsoeneng, voormalige SAUK-hoof, gekry ná ’n hofuitspraak ten gunste van die SAUK-8. Die stryd teen Motsoeneng is tot in die Konstitusionele Hof gevoer en met die uitsondering van R20 000, is al Solidariteit se geld deur Motsoeneng terugbetaal.
  2. Solidariteit gaan Brian Molefe privaat laat vervolg as die Nasionale Vervolgingsgesag (NGV) dit van die hand wys. Dit volg nadat die NGV nog geen stappe teen Molefe geneem het ná Solidariteit se klagte van bedrog teen hom nie. Solidariteit en Molefe was ook in die Konstitusionele Hof oor Molefe wat geld aan Solidariteit verskuldig is nadat die hof in Solidariteit se guns bevind het dat Molefe hom onregmatig uit Eskom se pensioenfonds verryk het.
  3. Denel: Solidariteit het dringende hofstukke op die sukkelende wapenvervaardiger beteken om hom te dwing om werkloosheidsversekering en belasting wat van werknemers afgetrek is, oor te betaal. Solidariteit het ook met ’n proses ingevolge artikel 165 van die Maatskappywet begin om wanbestuur en korrupsie van voormalige direkteure van Denel te ondersoek, met die oog op moontlike vervolging.
  4. Eskom: ’n Soortgelyke artikel 165-proses gaan saam met Sakeliga by Eskom gevolg word.
  5. SAL: Solidariteit gaan voort met regsaksie teen die SAL en die swak bestuur van die instansie.

“Dit is tyd dat belastingbetalers oorgaan tot aktiewe, wettige belastingprotes. Suid-Afrika moet die krag van belastingaktivisme ontdek. Die smaak daarvan is reeds met die e-tol-protes geproe. Belastingprotes hoef nie die weerhouding van belastingbetaling in te sluit nie. Belastingbetalers kan oor tradisionele grense saamstaan en van regsinstrumente gebruik maak om die staat en belastingplunderaars tot verantwoording te bring,” het dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, gesê.

Solidariteit beplan om duisende belastingbetalers te mobiliseer om betrokke te raak by die belastingprotes en om etlike miljoen rande deur skarefinansiering in te samel. ’n Spesiale webbladsy is op www.solidariteit.co.za geskep.

Volgens Hermann onderskat belastingbetalers hulle krag. “Die staat werk nie met hul eie geld nie, maar met die geld van belastingbetalers,” het hy verduidelik. “Verkiesings is nie die enigste manier waarop die staat verantwoordbaar gehou kan word nie. Daar is verskeie regsinstrumente wat gebruik kan word. Dis nie dislojaal om wettige instrumente vir verantwoordbaarheid te gebruik nie. Dis juis lojaal teenoor belastingbetalers en gewone Suid-Afrikaners – arm en ryk, wit en swart – wat nie net goeie infrastruktuur en dienste van die staat verwag nie, maar ook geregtig is daarop.”

  •  
  •  
  •  
Redakteursbrief

By Solidariteit het ek die voorreg om saam met ’n klomp inspirerende storievertellers te werk. Die stories wat hulle vertel, is nie sommer net stories nie. Hierdie stories gee jou moed, laat jou 'n bietjie verder en harder dink oor belangrike kwessies en laat jou altyd besef jy het ’n spesiale plek in die einste […]


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close