Solidarteit Wêreld
2017 – Uitgawe 6
Solidariteit bedrywe is suksesvol agter die stuur van sake
Deur Michelle | 16 November 2017

2017 word deur die adjunkhoofsekretarisse van die onderskeie bedrywe in Solidariteit beskryf as 'n onstuimige jaar wat gekenmerk word deur intense onderhandelings binne 'n moeilike ekonomiese en politieke klimaat. “Ons moet deurgaans 'n waghond wees om te verseker ons lede se belange word ten alle tye beskerm,” het Johan Botha, adjunkhoofsekretaris by Solidariteit, gesê. Ten spyte van al die uitdagings en indringende hoëvlak onderhandelings kon Solidariteit daarin slaag om op alle vlakke in die verskeie sektore te presteer en welslae te behaal, skryf WILMARIE BRITS.

Mynbou-, landbou- en sementbedryf

Vir die mynbou-, landbou- en sementbedryf het 2017 afgeskop met die gewraakte nuwe mynbouhandves wat volgens Connie Prinsloo, adjunkhoofsekretaris van die mynboubedryf, opgesom kan word as 'n “ondeurdagte fiasko”. Ten spyte van die verskeie herstrukturerings by maatskappye en afleggings in mynbou was 2017 egter ook 'n jaar van groot welslae.

Die beperking van gedwonge afleggings word deur Prinsloo beskryf as een van die bedryf se groot suksesse. “Ons kon goeie skeidingspakkette beding en baie van ons lede kon óf in die maatskappye se eie, óf ander maatskappystrukture opgeneem word,” het Prinsloo gesê.

Die bedryf kon ook daarin slaag om verskeie nuwe en heronderhandelde erkenningsooreenkomste in plek te kry wat lede se kollektiewe regte en diensvoorwaardes verbeter en beskerm. Gunstige loonooreenkomste is gesluit met Kumba, Assmang, Exxaro en die Graanbedingingsraad.

Volgens Prinsloo is daar ook gunstige ooreenkomste gesluit tydens die nasionale steenkoolonderhandelings. “Te midde van die moeilike tye waarin die platinummynsektor homself bevind, kon ons namens ons lede 'n driejaarloonooreenkoms by Sibanye Platinum se Kroondal-myn onderteken,” het Prinsloo bygevoeg.

Metaal- en ingenieursbedryf

Volgens Marius Croucamp, adjunkhoofsekretaris van Solidariteit se metaal- en ingenieursbedryf, het Solidariteit op alle terreine in die bedryf goed presteer en daadwerklik opgetree om die belange van die lede te beskerm.

Solidariteit het groot sukses behaal in sy historiese aansoek om die Bedingingsraad vir die Metaal- en Ingenieursbedryf (MEIBC) onder administrasie te plaas. Die bevel wat op 13 Junie vanjaar toegestaan is, is die eerste van sy soort in Suid-Afrika en gaan beslis die landskap in die staal- en ingenieursbedryf ingrypend verander.

Solidariteit het ook 'n driejaarloonooreenkoms met die Federasie van Staal- en Ingenieursbedrywe van Suid-Afrika (SEIFSA) onderteken. “Die ooreenkoms, veral gesien in die lig van die huidige swak ekonomie, sal vir die volgende drie jaar hoop, sekerheid en standvastigheid vir die werknemers in die industrie skep,” het Croucamp gesê.

Op 30 Maart vanjaar het dié bedryf ook hul baie suksesvolle “Steun Ons Staal”-veldtog van stapel gestuur. Croucamp verduidelik dat die veldtog fokus op die uitdagings wat die bedryf in die gesig staar. “Ons beoog om betrokkenheid aan te moedig wat aanleiding sal gee tot aktiewe optrede om die plaaslike staalbedryf te red,” het Croucamp bygevoeg.

Die regering het Solidariteit genooi om deel te vorm van die staalkomitee wat belangrike aanbevelings aan die minister maak.

Nog ’n hoogtepunt was toe Highveld Steel in Emalahleni op 6 Junie vanjaar vir die eerste keer sedert die aanleg se enorme afleggingtragedie in 2015 'n gedeelte van die aanleg weer permanent aangesit het. Op die oomblik werk meer as 400 mense reeds weer op die aanleg.

Kommunikasiesektor

Volgens Johan Botha, adjunkhoofsekretaris vir die kommunikasiesektor, het Solidariteit ’n groot oorwinning behaal toe hy die interpretasiesaak van die loonooreenkoms teen Telkom gewen het. Volgens hierdie ooreenkoms het Solidariteit-lede ’n loonverhoging van 6% vanaf 1 April 2017 ontvang, terwyl hulle onder meer ook die waarborg gekry het dat hulle vir die volgende twee jaar nie aan afleggings blootgestel sal wees nie. Volgens Botha het Solidariteit Telkom op terme geplaas met betrekking tot sy diensbillikheidsplan. “Telkom se voorgestelde plan is nie in lyn met diensbillikheidswetgewing nie, en daarom het ons die voorgestelde plan na ons regsafdeling verwys vir verdere intervensie,” het Botha gesê.

Nog 'n groot sukses in die bedryf is dat Solidariteit tans die enigste vakbond is wat erkenning het binne Business Connexion Group (BCX). Te danke daaraan kan die lede nou beskerm word en kollektiewe voordele ontvang.

Mediese sektor

Die mediese sektor het volgens Botha 'n uitdagende en uitmergelende onderhandelingseisoen baie suksesvol hanteer. “Goeie verhogings en diensvoorwaardes is beding, en die onderhandelings is met goeie vaardigheid en professionaliteit afgehandel sonder dat daar by een enkele werkgewer tot staking oorgegaan moes word,” het Botha gesê. Daar is 12 gunstige loonooreenkomste by verskeie klinieke, apteke en hospitale onderteken met loonverhogings wat wissel tussen 5% en 6,1%. “Zuid-Afrikaans Hospitaal is een van die mediese instansies waar ons ooreengekom het op 'n 6,8%-loonverhoging asook bykomende jaarlikse verlof,” het Botha bygevoeg.

Finansiële, tersiêre en algemene sektor

Weens die geweldige diversiteit in dié bedryf is daar 'n hernieude fokus op groei, veral by tersiêre instellings, verduidelik Botha. Gedurende 2017 is verskeie ingewikkelde dispute met semi-staatsinstellings aangeknoop. Een groot dispuut was met die Landbounavorsingsraad (LNR) om hulle te verplig om alle lede wat onder die tiende persentiel van hul salarisskale vergoed word, op te skuif na die tiende persentiel van daardie skaal. “Ons het op 6 Oktober  'n ooreenkoms in hierdie verband geteken en die waarde daarvan is R12 500 000,” het Botha bygevoeg. Nog 'n groot sukses is die 97 kontrakwerknemers by Rhodes-universiteit wat ná onderhandelings permanent aangestel is met alle voordele asook 'n tweejaarooreenkoms vir 'n 12%-verhoging vir beide jaar 1 en 2.

Chemiese sektor

Gerhard Cloete, sektorkoördineerder van die chemiese sektor, het die algemene ledediens en bystand op verskeie vlakke in die sektor geprys en gesê die span kon daarin slaag om goeie verhoudings met werkgewers in stand te hou, ongeag baie uitdagende makro-ekonomiese omstandighede.

Solidariteit kon daarin slaag om 'n gemiddelde loonverhoging van net meer as 7% vir lede in die chemiese sektor te beding. Dit sluit onderhandelings op nasionale vlak in, asook in sektore soos nywerheidschemikalieë, glas, pulp en papier, vesel en partikel, en saagmeulens. Daar was ook suksesvolle loononderhandelings by verskeie kleiner werkgewers soos Foskor, SFF en Sasol Mynbou.

Elektroniese sektor

Tommy Wedderspoon, sektorkoördineerder van die elektroniese sektor, beskryf 2017 as 'n suksesvolle jaar. “Daar was bestendigheid in die werkplek met geen dreigende afleggings nie,” het Wedderspoon verduidelik. Die sektor het vanjaar groot welslae met onderhandelings bereik. Ten spyte van die 4,6%-inflasie kon Solidariteit 'n verhoging van 6,5% vir sy lede in Eskom-bestuursposisies beding. Lede in die bedingingseenheid het 'n verhoging van 8,5% asook die verbetering van sekere diensvoorwaardes ontvang.

Denel, Krygkor en lugvaart

Volgens Willie Venter, sektorkoördineerder vir Denel, Krygkor en lugvaart, het verdediging en lugvaart wat die kollektiewe omgewing betref, gemengde welslae beleef. Die sektor was suksesvol daarmee om moontlike onstuimigheid af te weer, die omgewing vir lede redelik bestendig te hou en billike salarisverhogings namens lede te onderhandel.

Rheinmetall Denel Munition het vanjaar die hoogste verhoging van die afgelope vyf jaar toegestaan, naamlik 6%. Die Denel-groep se gemiddelde verhoging in sewe afdelings was 6,5%. Krygkor se verhoging is vasgestel op 7,5% en die State Information Technology Agency (SITA) het met verhogings van tussen 5% en 7,8% geskik.

Ná twee jaar se onderhandelings by Hensholdt Optronics is 'n nuwe erkenningsooreenkoms gesluit en kan Solidariteit vanaf 2018 weer aan salarisonderhandelings namens lede deelneem.

Suksesvolle skikkings van meer as R 1,2 miljoen is vanjaar met konsiliasie namens lede in die sektor beding.

  •  
  •  
  •  
Redakteursbrief

Hierdie uitgawe van Solidariteit Tydskrif is amper so geskiedkundig soos die laaste paar maande waarin elkeen van ons gekonfronteer is met die Covid-19-pandemie wat die wêreld basies tot stilstand gebring het. Dit sal die eerste keer wees wat die tydskrif nie gedruk word nie. Daar was tot dusver, met 107 uitgawes agter die blad, nog […]


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close