Solidarteit Wêreld
2014 – Uitgawe 6 Spreekbuys
Solidariteit bou aan ’n plan van hoop vir die toekoms
Deur PW | 09 Desember 2014

Kom ons wees eerlik – daar is min mense wat nie bekommerd is oor die toekoms van hul kinders nie. Mense voel die land het “onregeerbaar” geword, en wonder waar dit alles gaan eindig. Daarom kry ons al meer navrae van lede oor wat gedoen kan word om te verseker dat ons en ons kinders ’n blywende toekoms in die land het, skryf FLIP BUYS.

Ons benadering by Solidariteit is nie om te wag totdat alles dalk eendag vanself regkom nie, maar om deur die uitbou van die Solidariteit Beweging se Helpmekaar-instellings ’n toekoms te help skep. Dit bly ook nie net by beplanning nie, want ons is die afgelope paar jaar al besig met die inwerkingstelling van ons planne. Dit sal onverantwoordelik wees om afhanklik te wees van die staat wat voor ons oë al verder verswak.

Daarom is ons plan, in ’n neutedop, om ons gemeenskap selfstandig pleks van afhanklik van die staat te maak. Ons kan nie keer dat die see rof word nie, maar ons kan ons skip sterker maak. Ons glo nie aan afbreek nie, en daarom het ons ’n bouplan ontwikkel. Kom ons kyk net weer na die grootse projekte waarmee ons besig is, en wat ons daarmee wil bereik.

Goeie werk

  • Ons bou die vakbond verder uit met die doel om ons lede met goeie werk te help.

Kinderhulp

  • Helpende Hand se Skole Ondersteuningsentrum (SOS) ondersteun ons lede se kinders in hul skole met meer as R12 miljoen per jaar, deur projekte soos voedingskemas, skryfbehoeftes, hulponderwysers, beroepsvoorligting, wiskunde-onderrig, en vele meer. Ons doel is om te sorg dat ons kinders gehalte-onderwys kry, omdat dit die grondslag van lewenslange sukses is.

Studiehulp

  • Helpende Hand se Beursinstituut het hierdie jaar R16 miljoen se rentevrye studielenings toegeken aan ’n duisend studente. Ons wil dit volgende jaar tot meer as R20 miljoen vermeerder. Almal wat wil, moet kan studeer. Die strategie is om ons jongmense te help om rentevry te studeer, waarna hulle dan net die kapitaal terugbetaal en só weer die volgende student kan help. Die Beursinstituut se projeksie is dat daar oor net vier jaar R100 miljoen rand per jaar aan studiehulp uitbetaal sal word!

Opleiding

  • Sol-Tech lei tans ’n duisend vakmanne op by ons nuwe Sentrum in Kirkney, Pretoria.
  • Akademia het hierdie jaar met sy eerste BComm-graad begin, wat deur ’n moderne videokonferensiestelsel by sewe landwye sentrums aangebied word. Ons doel is om Akademia uit te bou tot ’n volwaardige universiteit, deur elke jaar grade by te voeg. Volgende jaar sal ons ook ’n graad in bestuursrekeningkunde aanbied.

Veiligheid en dienste

  • Veiligheid raak ’n groot probleem. Daarom is AfriForum besig om landwyd wettige veiligheidstrukture in plek te stel, wat saam met die gemeenskap en die polisie veiligheid verbeter.
  • Terselfdertyd het AfriForum al in meer as ’n honderd dorpe takke gestig met die doel om dienslewering te monitor en te verbeter. Omgewingsbewaring en skoon waterbronne is deel hiervan. Ons wil volgende jaar begin om hierdie takke saam met die vakbond en Helpende Hand se takke uit te bou tot volwaardige Bewegingstrukture wat ’n wye reeks dienste aan ons gemeenskappe kan lewer.

Media

  • Maroela Media maak groot opgang as gratis Afrikaanse nuusverskaffer, en gaan volgende jaar verder uitgebou word met ’n radiobeen. Ons kan nie afhanklik wees van die staatsmedia of privaat koerante wat niks vir ons gemeenskap omgee nie. Daarmee saam werk ons hard om vennootskappe met gemeenskapsradiostasies te smee. Deel hiervan is om Radio Pretoria as die grootste gemeenskapsradiostasie te help om op ’n professionele vlak met die bestes in die bedryf mee te ding.

Afrikaans

  • Die FAK is as ons kultuurvennoot ook deel van die Solidariteit Beweging. Hierdie organisasie bevorder die Afrikaanse taal en kultuur, en is besig met ’n wye reeks projekte om ons geskiedenis in ere ter herstel. Die organisasie se Van Wyk Louw Sentrum het ontwikkel in ’n ideesentrum wat dieptenavorsing oor die toekoms doen.
  • Afrikaanssprekendes vier volgende jaar die negentigste erkenning van Afrikaans as amptelike taal. Daarom wil ons 2015 as Taaljaar verklaar en dwarsdeur die jaar projekte loods om dit te vier.
  • Daarmee saam wil ons ook ons vennote soos die Erfenisstigting help om ons kultuurskatte en monumente te bewaar.

Koopkrag mobiliseer

  • Al hierdie projekte kos miljoene, en die beste manier om dit te befonds, is om ons gemeenskap se koopkrag te mobiliseer. Ons grootste projek is ons korttermynversekeringskemas, waardeur ons jaarliks meer as R10 miljoen vir studiehulp en ander projekte insamel, sonder dat dit lede ekstra kos. Hierdie projekte moet uitgebrei word.

Selfstandigheid

  • Die teenoorgestelde van staatsafhanklikheid is gemeenskapselfstandigheid. Dit gebeur egter nie oornag nie. Daarom glo ons om ’n strategie van groeiende selfstandigheid op alle belangrike gebiede te volg.
  • Ons doel is om uiteindelik al die landwye gemeenskapstrukture saam te snoer in ’n nasionale gemeenskapsraad, wat met die regering oor knelpunte kan praat en ons selfdoenstrukture landwyd kan uitbrei om dienste te lewer.

Algemeen

  • Werkerregte is afhanklik van burgerregte, en die handhawing van die oppergesag van die reg is ’n belangrike onderdeel daarvan. Dis hoekom ’n hofstrategie ’n deel van ons groter plan is. Zimbabwe het gewys dat as eiendomsreg aangeval word, verval die ekonomie met werknemers as die groot slagoffers.
  • Daarmee saam wil ons ook nie in afsondering lewe nie, en waar moontlik die hand uitsteek na ander gemeenskappe om te sien waar ons kan help.
  •  
  •  
  •  
Redakteursbrief

Dit voel vir my of ’n mens hierdie tyd van die jaar ’n ekstra hupstoot nodig het om uit die bed uit op te staan en jou kragte bymekaar te skraap om die dag aan te pak. Dit het nie net te doen met die koue daarbuite nie: Ek merk op dat almal om my […]


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close