Solidarteit Wêreld
2014 – Uitgawe 4 Spreekbuys
Solidariteit is ‘n oorlogskip aan jou kant
Deur Michelle | 19 Augustus 2014

Dit wil vir my voorkom asof daar drie soorte mense in die land is. Die eerste groep ontken daar is probleme, die tweede groep kla net oor die probleme, en die derde groep dóén iets daaraan. Solidariteit is gewis deel van die derde groep wat iets aan die probleme probeer doen – ’n oorlogskip wat die storms onverskrokke aandurf en eindelik as ligtoring of baken ’n vry, voorspoedige en veilige tuiste vir ons mense net hier aan die suidpunt van Afrika help skep, skryf Flip Buys.

Wie is Solidariteit eintlik? Is dit ‘n soort passasierskip waar die vakbond se personeel en unieverteenwoordigers die bemanning is wat almal moet bedien? Of is Solidariteit soos ‘n oorlogskip waar almal deel van die bemanning is en waar elkeen ‘n verantwoordelikheid het om te help waar hy of sy kan?

Natuurlik het Solidariteit se personeel ‘n besondere verantwoordelikheid, omdat dit hul voltydse werk is om ons lede met raad en daad by te staan. Daarmee saam is die rol van die unieverteenwoordigers onontbeerlik, omdat hulle onbetaalde vrywilligers is wat hul medemens uit die liefde van die saak help. Solidariteit is egter nie net ‘n gewone diensorganisasie nie: ons is eerder ‘n oorlogskip as ‘n passasierskip. Die personeel en unieverteenwoordigers kan nie alles doen nie – daar is net te veel werk in die land!

Helpmekaar-beweging

Om dié rede het ons Solidariteit oor die afgelope paar jaar uitgebou tot ‘n moderne Helpmekaar-beweging, met organisasies wat op elke belangrike terrein ‘n onmisbare rol speel. Dit is nie ‘n nuwe plan nie – ons het maar net gekyk wat ons voorouers gedoen het toe hulle in moeilike omstandighede was. Daarna het ons hul “resep” gemoderniseer om dit by hedendaagse omstandighede aan te pas, en so is die Solidariteit Beweging gebore. Ons voorouers het met sentleggings, koeksisterverkope en straatkollektes instansies soos universiteite, kolleges, hospitale, skoolsale en ouetehuise gebou en reusagtige beursskemas en beleggingskemas op die been gebring.

Ons resep was skeppende vernuwing gegrond op beproefde waardes. Daarom kon ons met klein maandelikse ledebydraes al ‘n groot tegniese kollege van R40 miljoen begin, vanjaar reeds R16,6 miljoen bestee aan rentevrye studielenings vir ‘n duisend jongmense, en via Solidariteit Helpende Hand byna 10 000 skoolkinders met kos, skryfbehoeftes en ander benodighede bystaan. Maar met dieselfde resep beding die vakbond jaarliks meer as R200 miljoen vir ons lede wat beroepsbeserings en -siektes opdoen, bestee ons meer as R6 miljoen jaarliks aan ons begrafnisskema vir lede en hul afhanklikes, en handhaaf ons ‘n 90% sukseskoers met die talle hofsake wat ons namens ons lede voer. Ons is terselfdertyd besig om Akademia geleidelik uit te bou tot ‘n volwaardige universiteit, sodat ons jongmense verseker kan wees van studiegeleenthede in ‘n era waar rassetransformasie op die staatsuniversiteite afgedwing word.

Ons Beweging se werk is ook op talle ander gebiede bekend. AfriForum is landwyd besig om munisipale verval te beveg, korrupte amptenare te ontbloot en misdaad en plaasmoorde hand en tand te beveg. Maroela Media bevorder Afrikaans, terwyl Kraal Uitgewers met gehalte geskiedenisboeke ons mense se verlede in die regte perspektief plaas. Die FAK se Viertrek-reeks oor die Groot Trek op kykNET het ten doel om die kriminalisering van ons geskiedenis op ‘n moderne manier teen te werk.

Hulpsoeker of helper?

Natuurlik is ons daar om te help as ons lede en ons gemeenskap ons nodig het. Die Solidariteit Beweging is egter nie eerstens ‘n hulporganisasie nie, maar ‘n moderne helpmekaar-organisasie. Ons lede vra nie net “wat kan ek daaruit kry” nie, maar ook “wat kan ek bydra om ‘n verskil aan ons almal se lewe te maak?” Dit beteken dit gaan nie net oor die toekoms van die lid as enkeling nie, maar oor die skep van 'n toekoms vir ons almal. Ons voorouers het die land met hierdie helpmekaar-benadering opgebou, en die welslae wat Solidariteit reeds behaal het, bewys ons kan dit weer doen. Natuurlik word ons almal kwaad oor onbevoegdheid, swak regering, geweldsmisdaad en korrupsie, maar ons kla nie net daaroor nie, ons werk saam aan oplossings. Ons soek nie net hulp vir onsself nie, ons werk aan oplossings vir ons almal!

Onstuimige see stuit ons nie

In ‘n tyd waarin ons lede en ons gemeenskap onder druk is, waar daar onbillik teen hulle diskrimineer word en waar mense geldige bekommernisse oor die toekoms het, is Solidariteit aan ons lede se kant. Ons kan nie keer dat die see onstuimig word nie, maar ons kan ons skip sterker bou om die storms te weerstaan – geanker in onwrikbare geloof.

Ons het egter die hulp van elke lid nodig, en ons nooi ons lede uit om by enige van die Beweging se landwye projekte betrokke te raak. Ons voorouers het dit reggekry om met ‘n helpmekaar-ingesteldheid vir ons ‘n toekoms te skep. Ons kan dit ook vir ons kinders doen. Kom ons spring aan die werk en help mekaar!

  •  
  •  
  •  
Redakteursbrief

Ek het nou die dag lekker vir ’n kollega van my gelag. Dit was ’n moeilike dag by die werk, want die sperdatum van ’n projek was op hande terwyl daar nog ’n miljoen goed gedoen moes word. Sy kan soos ’n tornado deur die kantoor waai as sy só ’n dag beleef en so […]


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close