Solidarteit Wêreld
2015 – Uitgawe 1 Spreekbuys
Solidariteit is propvol planne vir 2015
Deur PW | 24 Februarie 2015

Die Solidariteit Beweging is gerat en gereed om 2015 aan te pak in die gees van ‘n moderne Helpmekaarbeweging. Ons is ‘n oplossingsgerigte organisasie, wat nie toelaat dat die probleme in die land ons verlam nie. Gelukkig het ons jare gelede al gesien wat kom en daarvoor beplan sodat ons nie onverhoeds betrap word nie, skryf FLIP BUYS, voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Die welslae wat die Solidariteit Beweging reeds behaal het, gee ons die energie om die petrol selfs nog dieper in te trap! Daarom is al 18 instellings in die Beweging besig om hul jaarbeplanning in aksie om te sit. ‘n Kort opsomming van ons beplanning maak dit duidelik dat ons bedoel wat ons sê.

 

Solidariteit-vakbond

2015 gaan die geboortejaar van 'n nuwe wêreld van voordele vir Solidariteitlede wees. Solidariteit stuur in April vanjaar die Solidariteit Wêreld van stapel. Dit is 'n elektroniese platform waar jy alles oor die wêreld van werk sal vind – van loopbaanadvies, hulp met pensioenbeplanning en mediese- en welstandsadvies tot regshulp, hulp met die opstel van CV’s en baie meer.

In 2015 word regstellende aksie in Suid-Afrika ook vir die eerste keer in die Verenigde Nasies (VN) bespreek. Solidariteit dien in Augustus 'n skaduverslag by die VN in wat waarskynlik in die eerste kwartaal van 2016 bespreek sal word. Behalwe die VN-saak het Solidariteit nog meer as 20 regstellendeaksiesake teen die SA-regering hangende.

Op die gebied van arbeidsverhoudinge kan weer 'n woelige jaar verwag word. Die groot onderhandelings is vanjaar in die goudsektor. Die rol van Amcu, Numsa se wegbreek uit Cosatu en hulle planne om 'n politieke party te stig, gaan in 2015 die arbeidsverhoudingetoneel oorheers.

Die onbekende faktor is natuurlik Eskom se invloed op die ekonomie. Solidariteit se Navorsingsinstituut het reeds goeie verslae oor die krisis geskryf en Solidariteit beplan om alles in sy vermoë te doen om die Eskom-krisis te help oplos. Solidariteit sal ook weer sy waghondrol teenoor die regering speel.

In die kennisekonomie is kennis vir Solidariteit-lede van kritieke belang. Solidariteit gaan dus in 2015 help om sy opleidingsinstellings, naamlik Akademia, Sol-Tech en die Solidariteit Helpende Hand se Skoleondersteuningsentrum (SOS), asook die Solidariteit Studiefonds verder uit te bou.

 

Helpende Hand

Helpende Hand se studiehulp styg vanjaar met meer as 50% tot ‘n volle R26 miljoen! Dit maak dit vir ons moontlik om in 2015 sowat 1 500 studente te help om hulle drome te bewaarheid. Dis ook 50% meer as die 1 000 studente van 2014. Hierdie studiehulp is in die vorm van rentevrye lenings, in lyn met die helpmekaar-beginsel. Die rentevrye lenings is ‘n groot voordeel vir die studente en hul ouers, maar as hulle afstudeer het, help hulle weer die volgende groep studente met die terugbetaling van hul lening. Ons doel is om binne vyf jaar meer as 4 000 studente jaarliks te kan help met ‘n reuse studiefonds van R100 miljoen. Ons droom is dat almal wat wil en kan studeer, móét kan studeer. Die studiefondse is afkomstig van ledebydraes, skenkings van donateurs, die Virseker Trust en die Solidariteit Beleggingsmaatskappy.

 

Sol-Tech

Sol-Tech het ‘n uiters suksesvolle 2014 in hul nuwe geboue agter die rug. In 2015 is daar drie innames van vakleerlinge, naamlik in Januarie, Mei en Augustus. Daar is tans 1 145 studente in die pyplyn wat besig is om te kwalifiseer, terwyl sowat 700 studente reeds hul ambagstoetse suksesvol afgelê het.

Die kollege skop vanjaar af met ‘n nuwe vakrigting, naamlik trekkerwerktuigkunde, omdat daar sulke goeie werksgeleenthede in dié veld is. Dieselstudente kry beide diesel- en trekkeropleiding om hulle indiensneembaarheid te verhoog.

Sol-Tech se volgehoue fokus op gehalte het onlangs goeie vrugte afgewerp toe hulle akkreditasie by Namb (die National Artisan Moderation Body) met die eerste aansoek reeds suksesvol was. Dit beteken dat Sol-Tech nou vir alle Seta’s kan oplei, wat die plasings- en werksgeleenthede vir hul studente vermeerder. Daarmee saam word die plasingsagentskap Ajani se dienste verder uitgebrei om meer dienste aan werkgewers en studente te bied, vanaf hulp met Seta-befondsing tot werksplek-vaardigheidsplanne en Seta-goedkeuring van werksplekke.

Die kollege kry ook eersdaags ‘n volledige elektroniese studenteadministrasiestelsel met ‘n gebruikersvriendelike studenteportaal. Die grootste uitdaging bly studente wat nie matriek- of minstens graad 11-wiskunde en wetenskap het nie. Dié studente kan by Sol-Tech se wiskundesentrum gehelp word om hul wiskunde op die vereiste standaard te kry. Meer besonderhede is op die webblad beskikbaar.

Sol-Tech se suksesresep is uitmuntende lektore, toegewyde studente en net die beste toerusting. Daarom studeer 11 lektore hierdie jaar verder by die Universiteit van die Vrystaat, en bestee die Solidariteit Groeifonds nog R3 miljoen aan moderne opleidingstoerusting. Studiehulp vir studente wat hier wil studeer, is by Helpende Hand en ander instellings beskikbaar.

 

Maroela Media

Maroela Media is die Solidariteit Beweging se eie digitale mediamaatskappy, wat ook radioprogramme deur meer as 20 gemeenskapstasies uitsaai. Maroela is reeds die tweede grootste Afrikaanse internetnuusplatform met ‘n miljoen maandelikse besoekers. Die webwerf se doel is om teen November vanjaar 2,5 miljoen besoekers te kry.  Laai Maroela Media se app af om gratis nuus en inligting oor alles wat jou raak op jou selfoon te lees, en stel Maroela aan al jou vriende bekend. Maroela gaan Afrikaans se 90ste amptelike verjaarsdag regdeur 2015 vier met nuus, inligting, projekte en radiodramas. Maroela Media se aanlyn- Afrikaanse winkel, Die Koöperasie, word later vanjaar bekendgestel.

 

Solidariteit Eiendomme

Die Solidariteit Beweging se eiendomsmaatskappy is besig met ‘n ondersoek na die aankoop van ‘n kampus om Akademia te kan huisves. Dié stap het nodig geword vanweë Akademia se gesonde groei. Die geboue waarna Solidariteit Eiendomme tans ondersoek instel, voldoen aan al die vereistes.

Solidariteit Eiendomme se tweede projek is die uitbreiding van AfriForum se kantore met sowat 450 m².

 

Akademia

Die Solidariteit Beweging se droom is om van Akademia die Afrikaanse Harvard van Afrika te maak, wat gehalte opleiding en toegang tot wêreldklas universiteitsopleiding aan ons jongmense bied. Ons weet dis nog ‘n ver pad om te gaan, maar dis nie ‘n verskoning om nie te begin nie! Akademia is baie gelukkig om vooraanstaande kundiges en donateurs aan boord te hê wat graag wil help om ‘n lewende monument vir die toekoms te bou. Ons voorouers het dit reggekry, en ons kan dit ook doen!

Akademia mik om vanjaar 350 studente te hê, en bied benewens hul B.Com-graad en vyf ander diplomas en sertifikate ook ‘n graad in B.Com Bestuursrekeningkunde aan. Hulle is ook besig om te werk aan drie nuwe grade, naamlik B.Com Regte en Ekonomie, B.Com Risiko- en Beleggingsbestuur en ‘n B-graad in Verpleegkunde, in samewerking met hospitale. Die opleiding word met ‘n moderne rekenaarkonferensiestelsel in sewe landswye opleidingsentrums aangebied.

Daar word ook gewerk aan ‘n navorsingsplan vir 2015, terwyl Akademia se gewilde Sakeplankompetisie ook weer aangebied sal word. Groot beleggings in Akademia se tegnologie, administrasie en gehalte van opleiding word deurgaans gemaak, en verskeie beurse is beskikbaar vir studente wat hier wil studeer.

 

AfriForum

In 2015 sal AfriForum se bestaande werksaamhede verder uitgebou word. Spesiale klem sal egter geplaas word op die bevordering van vyf groot doelwitte. Dié doelwitte staan bekend as AfriForum se Groot 5 vir 2015. Die Groot 5 is:

  • Die versterking van AfriForum as organisasie. Die mikpunt is om teen die einde die jaar 150 000 AfriForum-lede te hê.
  • Die uitbreiding van AfriForum se gemeenskapsveiligheidstelsel. Die doelwit is om 40 goed funksionerende gemeenskapsveiligheidstelsels onder AfriForum se vaandel te bestuur teen die einde van die jaar.
  • 'n Plan vir gemeenskapselfstandigheid:  'n Werkbare plan om vir Afrikaners meer inspraak te bekom in sake wat hulle direk raak, moet in 2015 opgestel word.
  • Uitbreiding van AfriForum se kommunikasievermoë. In 2015 gaan AfriForum se kommunikasiestrategie in snelrat geplaas word om beter kommunikasie met lede, ondersteuners en die breë bevolking te bewerkstellig. Dit sluit nie net AfriForum se eie kommunikasiemediums in nie, maar ook steun aan Maroela Media.
  • Die uitbreiding van buitelandse skakeling. Goeie vordering is reeds gemaak met die vestiging van skakelnetwerke in die buiteland. In 2015 sal die verdere uitbreiding hiervan as prioriteit hanteer word.

 

Die FAK (Federasie van Afrikaanse Kultuurverenigings)

Die FAK is die taal- en kultuurvennoot van die Solidariteit Beweging. Die organisasie het 2015 saam met ander Afrikaanse organisasies as Taaljaar verklaar, en bied landswyd talle taalprojekte aan. Dit sluit ‘n Afrikaanse Ekspo vir skole in wat landswyd en ook in Namibië aangebied gaan word. Verskeie boeke word uitgegee, soos ‘n gedenkboek oor die prestasies van Afrikaans die afgelope 90 jaar. Daar word ook erkenning gegee aan Afrikaanse toppresteerders tydens die FAK prestige-aand wat by die Voortrekkermonument aangebied word.

Die FAK is ver gevorderd met ‘n internetgebaseerde geskiedenismuseum wat noodsaaklike balans moet skep vir die geskiedenis wat in die meeste skole aangebied word. Unieke foto’s en argiefmateriaal wat nog nooit bekendgestel is nie, sal ontsluit word. Daar word ook ‘n historiese kultuurdagboek uitgegee, en ‘n plakkaatreeks wat beslissende gebeure uit die Afrikanergeskiedenis uitbeeld.

Die FAK se NP van Wyk Louw-sentrum publiseer vanjaar verskeie navorsingsboeke, asook ‘n internetplatform met die historiese naam Standpunte.

 

Hierdie kort opsomming maak dit duidelik dat die Solidariteit Beweging vanjaar doelgerig vorentoe wil vorder met ons droom om ‘n toekoms te bou waarin ons ook blywend vry, veilig en voorspoedig in Suider-Afrika kan voortbestaan. Laat ons nie op die regering of op die toekoms wag nie, kom ons skep dit self!

  •  
  •  
  •  
Redakteursbrief

Ek het nou die dag lekker vir ’n kollega van my gelag. Dit was ’n moeilike dag by die werk, want die sperdatum van ’n projek was op hande terwyl daar nog ’n miljoen goed gedoen moes word. Sy kan soos ’n tornado deur die kantoor waai as sy só ’n dag beleef en so […]


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close