Solidarteit Wêreld
2019 – Uitgawe 6
Solidariteit ontmoet met top-politici in Europa
Deur Michelle | 13 November 2019

Die Solidariteit Beweging het gedurende September sy skakelwerk in Europa verder verdiep met ’n reeks ontmoetings met politieke leiers, vakbondleiers, joernaliste en gemeenskapsleiers in Europa. Die Beweging se netwerk in Europa is hierdeur verder uitgebrei.

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, en Jaco Kleynhans, hoof van internasionale skakeling, het Nederland, België, Duitsland, Oostenryk en Italië saam met ’n afvaardiging van 15 persone besoek. Die fokus van die besoek was om verdere bande in Europa te smee ten einde politici en regerings te oortuig om druk op die Suid-Afrikaanse regering uit te oefen en om steun vir projekte in Suid-Afrika te werf.

Volgens Kleynhans is dit belangrik dat Europese leiers op hoogte moet bly van wat in Suid-Afrika gebeur. “Ons doelwit is om politieke leiers en regerings oorsee te oortuig om druk op die Suid-Afrikaanse regering uit te oefen om nie met grondonteiening sonder vergoeding voort te gaan nie en om meer te doen om misdaad en korrupsie te bekamp. Ons skakeling in Nederland en Vlaandere in België is ook sterk gefokus op die bevordering van Afrikaans en op akademiese en ander samewerking tussen byvoorbeeld Akademia en instellings en individue in Europa.”

Vakbonde in Nederland en Italië, met wie Solidariteit reeds bande het, is besoek en toekomstige samewerking sal op verskeie terreine plaasvind. Die Christelijk Nationaal Vakverbond in Nederland en die Autonomer Südtiroler Gewerkschaftsbund in Suid-Tirool het albei in ontmoetings sterk begrip getoon vir die werk wat Solidariteit doen.

In Oostenryk het die afvaardiging Sebastian Kurz, leier van die Oostenrykse Volksparty, se toespraak tydens die viering van die party se verkiesingsoorwinning bygewoon. Die afvaardiging het ook met senior lede van die party gesprek gevoer oor toekomstige samewerking met Oostenryk. Hoëvlak- politieke ontmoetings was ook in Nederland, België en Italië moontlik. In België is die Vlaamse parlement besoek en is gesprekke gevoer met politici van drie politieke partye. In Suid-Tirool is gesprek gevoer met verteenwoordigers van die grootste politieke party.

Nadat die Nederlandse Parlement in Julie ’n mosie teen grondonteiening sonder vergoeding in Suid-Afrika aanvaar het, is daar heelwat belangstelling in ander Europese lande in hierdie omstrede, rassistiese beleid wat deur die ANC voorgestel word. Terwyl die Europese Unie steeds Suid-Afrika se belangrikste handelsvennoot is en Europese maatskappye, instellings en individuele burgers wesenlike belange in Suid-Afrika het, heers daar ook toenemende kommer in Europa oor die staatlike verval, probleme met infrastruktuur, misdaad en korrupsie in Suid-Afrika.

Die Solidariteit Beweging beplan om oor die volgende paar maande sy internasionale netwerk van steun na verskeie ander lande toe uit te brei. Volgens Kleynhans is dit nie net belangrik vir die res van die wêreld om van die probleme in Suid-Afrika te hoor nie, maar om ook te hoor van die oplossings wat die Beweging bied. “Ons wil soveel as moontlik steun vir ons politieke, maatskaplike en ekonomiese projekte in Suid-Afrika werf en wil ook groter internasionale betrokkenheid by onder meer Sol-Tech en Akademia bewerkstellig.”

  •  
  •  
  •  
Redakteursbrief

Met die Solidariteit Beweging se Toekomsberaad op 10 Oktober vanjaar het Solidariteit die laaste deel van 2019 met ’n groot hoogtepunt aangepak. Dit was ’n heerlike geleentheid waartydens die energie en opgewondenheid tasbaar was onder die groep mense wat saam groot dinge vir ons toekoms help beplan. Tydens die vorige Toekomsberaad, wat in 2015 gehou […]


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close