Solidarteit Wêreld
2020 – Uitgawe 1
Solidariteit plaas die Suid-Afrikaanse Lugdiens in sakeredding
Deur Michelle | 16 Maart 2020

Deur Connie Mulder

Die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) is al jare lank 'n albatros om die belastingbetaler se nek. Met opgehoopte verliese van meer as R32 miljard en meer as R27 miljard se skuld het dit 'n enorme fiskale risiko vir die Suid-Afrikaanse belastingbetaler geword.

Solidariteit het al lankal gesê dat radikale eksterne ingryping nodig is om die lugdiens om te draai – en om die belastingbetaler dit te spaar om te moet instaan vir die eindelose reddingsboeie wat aan 'n insolvente maatskappy gegee word.

Teen die einde van 2019 het die situasie by SAL onhoudbaar geword. Solidariteit was toe reeds in gesprek met die departement van openbare ondernemings oor 'n omdraaistrategie by die SAL. Die staking van NUMSA en SACCA in November verlede jaar het dinge toe op die spits gedryf en dit het Solidariteit genoodsaak om tot aksie oor te gaan om die belastingbetaler en ook ons lede by SAL teen die roekelose en nalatige optrede van SAL se bestuur te beskerm.

'n Inploffing van SAL hou potensieel katastrofiese gevolge vir die Suid-Afrikaanse fiskus in – die regering waarborg amper R19 miljard van SAL se skuld, maar staan ook pa vir verskeie van die langtermynhuurkontrakte wat vir vliegtuie in sy vloot aangegaan is. Die koste wat dít vir die belastingbetaler inhou, word op ongeveer R40 miljard geraam – wat die Suid-Afrikaanse fiskus net nie kan hanteer nie. Die groot uitdaging is natuurlik die kettingreaksie wat 'n inploffing van SAL op Eskom se skuld tot gevolg sou hê. Ten beste maak dit Eskom se skuld duurder; ten slegste raak Eskom se skuld onmiddellik betaalbaar. Albei scenario’s is katastrofies vir die Suid-Afrikaanse ekonomie.

Daarom het Solidariteit aangevoer dat 'n noodlanding, in die vorm van sakeredding, gedoen word eerder as wat ons toekyk hoe 'n staatsinstelling in duie stort en onmeetbare skade aan die fiskus aangerig word.

Die daad is by die woord gevoeg en 'n hofaansoek is op SAL beteken om sakeredding deur middel van 'n hofbevel af te dwing. Aanvanklik het die departement van openbare ondernemings aangedui dat hy die hofaansoek sou teenstaan – net om twee dae later aan te kondig dat die departement die SAL in “vrywillige” sakeredding plaas. Verskeie kommentators het daarop gewys dat dié stap geensins vrywillig was nie en dat Solidariteit die regering daartoe gedwing het.

Wat onmiddellik gebeur het in die geval van SAL se sakeredding is dat die regering sy beheer oor die dag tot dag bestuur van SAL verloor het. Hierdie verantwoordelikheid lê nou by die sakereddingspraktisyns, Les Matuson en Siviwe Dongwana, wat vir SAL aangestel is. 'n Sakereddingspraktisyn neem die beheer van 'n maatskappy in sakeredding volledig oor en tree as hoof- uitvoerende beampte en superdirekteur op met die doel om die maatskappy om te draai.

Ons het reeds gesien hoe Matusen en Dongwana verskeie nodige en drastiese stappe gedoen het om te red wat daar te red is by die SAL. Verskeie roetes wat nie winsgewend was nie, is gesny of is na die laekostelugredery Mango oorgeplaas wat beter geposisioneer is om daardie roetes te bedien. Voorts is alle kontrakte rondom aankope onder die loep geneem en het die SAL kwytskelding van verskeie regulasies rondom aankope gekry.

Daar is ook sprake van afleggings by die SAL wat ongelukkig onafwendbaar lyk – met of sonder sakeredding. 'n Maatskappy wat so diep in die moeilikheid is, gaan moeilik kan voortgaan sonder 'n verlies aan personeel. Die alternatief vir sakeredding was likwidasie – wat daartoe sou lei dat alle personeel hul werk sou verloor. Sakeredding is juis ontwerp om te red wat te redde is.

Daar is egter steeds geen plan vir die redding van die SAL nie. SAL se krediteure het aan die sakereddingpraktisyns nog 'n maand uitstel gegee om hul planne voor te lê tot einde Maart. Derek Mans, Solidariteit se verteenwoordiger in lugdiensbedryf sê “Hoewel Solidariteit inval by die krediteure se besluit om uitstel te gee, verloor die sakereddingsproses sy geloofwaardigheid weens die gebrek aan deursigtigheid”.

Ons wag tans op die gepubliseerde sakereddingsplan wat dan presies sal uitstippel wat die sakereddingspraktisyns beoog om te doen ten einde die SAL om te draai. Weens die kompleksiteit van 'n staatsbeheerde maatskappy wat in sakeredding geplaas word, neem dit effe langer as in die geval van 'n privaat maatskappy in sakeredding. Solidariteit is deurentyd betrokke by die proses en maak doodseker dat daar geen onbehoorlike inmenging deur die regering is nie.

Wat die groter prentjie betref, het 'n monumentale verskuiwing plaasgevind – SAL is die eerste staatsbeheerde maatskappy wat in sakeredding geplaas is en dit baan die weg om alle sukkelende staatsbeheerde maatskappye, soos Eskom, Prasa en Denel, ook in sakeredding te laat plaas. Sodoende kan regeringsinmenging in hierdie maatskappye beperk word en kan daar toegelaat word dat sakelui, eerder as burokrate, die ondernemings bedryf.

*Tito Mboweni, minister van finansies, het in sy begrotingsrede R16,5 miljard opsy gesit vir die terugbetaling van die SAL se staatsgewaarborgde skuld en rente op sy lenings.

*Die streekslugdiens Airlink het ook die uitstel gesteen en wag steeds op uitspraak in hul dringende hofaansoek dat die reddingspraktisyns binne vyf dae meer as R500 miljoen aan hom moet betaal vir inkomste uit Airlink-vliegkaartjies wat die SAL as agent namens Airlink verkoop het.

 

  • 63
  •  
  •  
Redakteursbrief

Hierdie uitgawe van Solidariteit Tydskrif is amper so geskiedkundig soos die laaste paar maande waarin elkeen van ons gekonfronteer is met die Covid-19-pandemie wat die wêreld basies tot stilstand gebring het. Dit sal die eerste keer wees wat die tydskrif nie gedruk word nie. Daar was tot dusver, met 107 uitgawes agter die blad, nog […]


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close