Solidarteit Wêreld
2017 – Uitgawe 3 Spreekbuys
Solidariteit se lesse uit Israel
Deur Michelle | 22 Junie 2017

Twintig jaar gelede (1997) sit ek agter in ’n toerbus op ’n kibboets van die Israelse vakbondbeweging die Histadrut. Saam met my sit dr Ben de Klerk, die toerleier; Athur Mcdermot, destyds ’n unieverteenwoordiger van die Mynwerkersunie (MWU) by Eskom; en Koos Kemp, ’n ou sakevriend. Ons is op ’n ekonomiese studietoer om te kyk hoe hierdie woestynland binne enkele dekades tot ’n supermoderne moondheid ontwikkel het.

Ben het my saamgenooi omdat ek hom van die Histadrut vertel het waarvan ek tydens my honneurstudies in Arbeidsverhoudinge aan die destydse Randse Afrikaanse Universiteit geleer het. Die Histadrut is gestig is om die Israeliese werkers te beskerm en help in die destydse koloniale staat waarin hulle ’n klein minderheid was. Ben wou hê ek moes in die praktyk sien wat ek slegs in teorie geleer het.

In die toerbus het ek hulle meer vertel van die bepalende rol wat die Histadrut van David Ben Gurion en Golda Meir in die onstaan en ontwikkeling van Israel gespeel het. Die Histadrut was nie net ’n gewone vakbond nie, maar ’n beweging van organisasies wat die land ontwikkel het. Benewens die vakbond was daar die Histadrut se Arbeidsburo wat mense werk gegee het, asook behuisingsprojekte vir werkers, ’n maatskaplike organisasie wat die armes gehelp het, tegniese kolleges, besighede, banke, gesondheidsorg en sekuriteitsmaatskappye. Die Histadrut het inderdaad die land opgebou en tot in die tagtigerjare die grootste deel van die ekomomie bedryf en derduisende mense werk gegee.

Ek vertel nog so lekker van die Histadrut toe een van my drie vriende skielik vir my sê: “Waarom bou julle nie die Mynwerkersunie uit tot ’n groot Afrikaanse Histadrut nie?” Daar bars toe ’n hewige debat los. Ek sê vir hulle die omstandighede verskil te veel van Israel; dis nie nodig nie; ons het nie geld nie; die mense gaan dit nie ondersteun nie; dis nie moontlik nie; en ek kan nie en ek wil nie. Dis net té groot.

Selfhelpnetwerk

Maar my vriende laat hulle nie sommer afsit nie. Hulle skiet argumente soos mortiere in ’n vuurgeveg: “Die omwenteling in Suid-Afrika gaan Afrikaners en wit mense soos ’n tsunami tref!”; “Die nuwe regering se rassewette gaan wit mense uit die werkplek skuif!”; “Geweldsmisdaad gaan toeneem!”; “Werkgewers, kolleges en universiteite gaan toenemend teen ons jongmense diskrimineer!”; Politieke partye sal nie meer veel kan uitrig nie!”; en “Die ANC is nie gerat om ’n moderne land te regeer nie!”

Ons praat dié aand tot laat in die nag en stadig maar seker begin die prentjie van ’n Afrikaanse Histadrut by my vorm aanneem. Natuurlik het ek geweet dat daar baie groot verskille tussen ons omstandighede en dié van Israel was, en dat dieselfde resep nie net so hier sal kan werk nie. Maar die kern van die saak was dat ’n vakbond wat homself tot ’n netwerk van selfhelporganisasies vir ’n minderheidsgroep uitbou die omstandighede kan skep om hier te kan oorleef sodat mense nie soos in die geval van ander postkoloniale lande iewers heen sal moet emigreer nie.

Saam met ander internasionale voorbeelde van vakbonde soos die Christelike vakbonde van België, Nederland en Kanada kon ons saam met die lesse van ons eie geskiedenis se Helpmekaarbeweging ’n model ontwikkel wat in ons omstandighede kon werk. In die MWU se eie geskiedenis is daar waardevolle lesse wat presies in die legkaart ingepas het. Die MWU het byvoorbeeld vir jare lank geldelik tot die totstandkoming van die RAU bygedra om te verseker dat hul kinders ’n universiteit sou hê waar hulle kon studeer.

Omwenteling

Terug in Suid-Afrika het ek aansoek gedoen vir die pos as hoofsekretaris van die MWU, die voorganger van Solidariteit. Ek was toe reeds vir vyf jaar lank die organiserende sekretaris van die MWU toe mnr Peet Ungerer besluit om af te tree. Ná my verkiesing as hoofsekretaris het ek aan die werk gespring om ’n werkbare plan op die tafel te sit.

Dit het egter nie glad verloop nie. Die groot omwenteling in die land het die MWU en ons lede inderdaad soos ’n tsunami getref en die vakbond het baie swaar gekry. Honderdduisende van ons lede in die myn-, staal-, elektriese, telekommunikasie- en ander bedrywe het pakette ontvang – wat ons tereg “selfmoordpakette” gedoop het. Ons unieverteenwoordigers was toegegooi onder al die druk. Daar was ’n tyd toe ons nie eers regshulp vir ons lede kon bekostig nie, ons het nie noodsaaklike toerusting soos fakse, fotostaatmasjiene of rekenaars gehad nie, en ons het van die hand na die mond geleef. Ons het nie die nodige geld, kennis, ondervinding óf hulpmiddels gehad nie.

Oor die eerste vyf jaar het ek nie wakkergewórd nie, ek het wakkergeskrík! Daar was baie dae wat ons nie geweet het of die vakbond die einde van die maand gaan sien nie. Baie van ons eie mense het nie lig gesien nie en soms het ek sélf getwyfel of ons dit gaan oorleef. Ons was ’n klein Gideonsbende wat daar in ’n ou gebou in die middel van Johannesburg gesit en beplan het aan iets wat groter was as onsself. Kenners het óók voorspel dat ons sou ondergaan: Die bekende handboek Managing Industrial Relations in SA het onder meer voorspel dat ons deure sou toemaak. (Toe ons die skrywers ’n paar jaar gelede ontmoet het, kon ek nie verhelp om vir hulle te sê dat die berigte oor ons dood grootliks oordrewe was nie!)

Maar – en dit was die belangrikste – ons het ’n droom vir die toekoms gehad. ’n Droom van ’n sterk landwye vakbond en ’n Beweging wat noodsaaklike dienste op elke belangrike gebied vir ons lede en ons gemeenskap kon lewer. ’n Droom van ’n hedendaagse Helpmekaarbeweging wat met ’n netwerk van sterk selfhelporganisasies ’n toekoms kon bou wat vir ons ’n blywende plek in die land moontlik sou maak. ’n Droom wat verby die politieke beloftes van die volgende verkiesing gekyk het na die toekoms van die volgende geslag.

Vertrekpunt

Ons vertrekpunt was dat die nuwe bedeling nie genoeg beskerming aan ons ledegemeenskap sou bied soos wat daar aan ons belowe is nie en dat ons ’n “staatsbestande” selfhelpbeweging sou moes bou. Ons was destyds uitgekryt vir alles wat sleg was omdat die politieke wittebrood van die Mandela-era mense in ’n soort politieke beswyming laat verval het.

Hoewel ons ook graag in die utopiese hemel op aarde sou wou leef wat die politici, sakeleiers, media en die meeste akademici aan almal belowe het, het ons met die wérklikhede eerder as met ons wénse gewerk. Natuurlik het ons geweet die land sou moes verander, maar ons was bekommerd dat dit in die verkeerde rigting sou wees. ’n Soort sosialistiese “back to the future”-rassebedeling waarteen ’n bekende Amerikaanse politieke wetenskaplike die inkomende regering gewaarsku het.

Ons het geweet wittebrode is lekker, maar dit hou nie vir altyd nie. Ons het die ANC se beleidsdokumente gelees – en dit geglo. Ons het gesien dat hulle by Kodesa toegewings gemaak het om die mag te kry, maar geweet dat hulle daardie mag nog gaan gebruik om hul oorspronklike doelstellings deur te voer. Hulle was steeds uitdruklik tot hul eie nasionaal-demokratiese rewolusie verbind, in plaas van die grondwetlike demokrasie waarvoor ons en hul leiers geteken het. Ons het geweet dat die twee groot teikens van hul rassebeleid wit werkers en wit jongmense gaan wees, omdat die ANC se beleidsdokumente hulle toekomstige rassebeleid uitgespel het. Ons het nie gedink dat hulle Suid-Afrika suksesvol sal kan regeer nie, omdat hul struggle-ideologie lynreg met die vereistes bots om ’n moderne land te bestuur. Ons het gesien dat die nuwe bedeling vinnig op ’n gewone meerderheidsregering sou uitloop en dat ’n stelsel wat net op individuele regte gegrond was nêrens ter wêreld genoeg is om groepsbelange te beskerm nie. Ons het gesien dat die Grondwet nie minderheidsregte beskerm nie, maar – eienaardig genoeg –meerderheidsregte wel verskans.

Topspan vir die plan

Om ons tweebeenplan uit te voer en die vakbond te verbeter en die Beweging te bou, moes ons die regte span bymekaarmaak. Ons span het die vakbond eers op elke gebied begin verbeter. ’n Regsdepartement, kommunikasie-afdeling, landwye dienskantore en later ’n  nasionale dienssentrum is in die lewe geroep, en ledeadministrasie-, navorsings- beroepsgesondheid- en veiligheidsdienste begin, asook beroepsbeserings- en siektevergoedingsdiente en talle ander nuwe dienste. Nuwe rekenaarstelsels vir ledeadministrasie en finansiële stelsels is aangekoop, reserwefondse is gebou, nuwe werwingsplanne is in werking gestel en mensehulpbron- en opleidingsafdelings het die lig gesien. Ons het nuwe geboue in Centurion gekoop en ons landwye netwerk van dienskantore is opgegradeer en met meer en bekwame dienspersoneel beman. Die resultate het gou sigbaar geword met ’n ledetal wat vinnig toegeneem het en talle ander suksesse gevolg het. Moenie dink alles het net glad en voor die wind verloop nie – ons het ook maar foute gemaak, dit reggestel en weer probeer!

Beweging

Ons moes die vliegtuig herbou terwyl ons daarmee gevlieg het. Daarom het ons terselfdertyd Helpende Hand herstig, ’n sakebeen begin, die Boufonds geloods, Sol-Tech met die tienrande van ons lede begin, AfriForum tot stand laat kom en nog later die FAK by ons laat inskakel. Maroela Media is as selfstandige nuustuiste saam met vennote begin, en so ook die Rapport Onderwysfonds en die Virseker Trust. Akademia is gestig en brei nou stelselmatig landwyd uit. Ons sukses is ’n spanpoging waarvoor ek elke lid, unieverteenwoordiger, personeellid en almal wat die wa deur die drif gehelp trek het uit die diepte van my hart wil bedank.

Ons Beweging is ’n familie van doenorganisasies wat voluit werk om ’n toekoms te skep waarin ons mense ook blywend vry, veilig en voorspoedig kan wees. Ons is nie ’n politieke beweging nie, maar ’n praktiese beweging wat praktiese oplossings in werking stel. Terselfdertyd is ons toekomsgerig: Ons vég nie vir ’n beter verlede nie, ons wérk vir ’n beter toekoms. Ons leer uit die verlede, maar fokus op die toekoms. Ons begin nou weer met ’n nuwe fase en nooi almal uit om saam te kom bou.

 

 

  • 2
  •  
  •  
  •  
Redakteursbrief

So staan nog ’n jaar einde se kant toe. Hoewel die laaste deel van 2018 steeds volgepak is met dinge om af te handel, kan ons reeds met tevredenheid terugkyk op die jaar se groei en sukses tot op hede. Hierdie is die 100ste uitgawe van Solidariteit Tydskrif en bied dus die perfekte geleentheid vir […]


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close