Solidarteit Wêreld
2020 – Uitgawe 2
Solidariteit se monumente van hoop midde-in die koronakrisis
Deur Michelle | 25 Mei 2020

Ons probeer nog sin maak van die koronakrisis nadat dit die ritme van die wêreld geskud het en op mikrovlak ook die ritme van gesinne ontwrig. Die inperking in Suid-Afrika is verleng en dit is duidelik dat ons ook ná die streng inperkingstyd anders sal moet leef en werk. Daar het egter die afgelope ruk talle merkwaardige dinge gebeur.

Ek deel drie gebeure binne die groter Solidariteit Beweging wat ek as monumente van hoop midde-in ’n krisis sien. Al drie gebeure bewys die veerkragtigheid van die gemeenskap. Al drie gebeure is deur die gemeenskap moontlik gemaak. Al drie gebeure gee hoop vir ’n toekoms gedurende en ná korona.

Akademia

Die eerste is die opening van Akademia se akademiese kwartaal gedurende die tyd van inperking. Bykans 1 400 studente het begin “klasdraf”. Sedert die stigting van Akademia is daar net die nuutste tegnologie gebruik. Spesifieke videotegnologie is nou ook vir die eerste keer vir onderwysdoeleindes gebruik. Dit het Akademia in staat gestel om met enkele verstellings sy studente in staat te stel om met hul kwartaal te begin. Midde-in die inperking is hulle nie beperk nie.

Paul Maritz, ’n student by Akademia, beskryf dit soos volg op Twitter: “Laat my net toe om dankbaarheid uit te spreek teenoor @OnsAkademia – ek sit in redelik ernstige inperking, maar danksy Die Spens – die studenteplatform, gaan alles letterlik soos normaal aan. Dis darem lekker. Dis darem eerstewêrelds.”

Die Wolkskool

Die tweede monument is Die Wolkskool. Daar is enkele jare gelede begin met die ontwikkeling van dié opwindernde aanlyn platform. Ek kan onthou hoe dr. Danie Brink dit vir my destyds op sy witbord uitgeteken het. Ek het nie mooi verstaan nie, maar het gesê dit lyk vir my indrukwekkend.

Midde-in hierdie krisis het meer as 110 000 leerders vir Die Wolkskool geregistreer. China het hospitale in dae gebou. Die Wolkskool het die vermoë ontwikkel om binne dae ’n matriekskool te bou en duisende matrieks draf elke dag by www.wolkskool.co.za klas.

Daar word op die oomblik letterlik dwarsdeur die nag gewerk om dit verder te ontwikkel om kinders met skoolgaan te help.

Akademia en Die Wolkskool is instellings wat met die baie bietjies van gewone mense gebou is. Solidariteit-lede skenk elke maand R10 van hul ledegeld om te help bou aan dié instellings. Duisende ander dra by tot die Solidariteit Boufonds en nog vele meer help bou deur hul Virseker-polisse. Hierdie projekte is reuse-helpmekaarprojekte.

Albei instellings is gebou met tegnologie wat ’n paar jaar gelede nog nie beskikbaar was nie. Sonder dat die spanne daarvan bewus was, het hulle onderwysinstellings ontwikkel wat ’n antwoord sou bied in die tyd van ’n pandemie wat niemand destyds kon dink sou eendag bestaan nie. 

Krisisfonds

Die laaste monument is ook deur die gemeenskap gebou. Die Solidariteit Beweging se Krisisfonds het almal se verwagtinge oortref en het binne dae byna R5 miljoen ingesamel. Teen middel Mei was dié fonds R14,5 miljoen sterk! Dit is bereik danksy gewone mense wat klein bedraggies bygedra het. Die krisis het mense hul harte vir ander laat oopmaak. Dit is in mense se DNS om mekaar te help.

Drie Solidariteit-monumente midde-in ’n krisis is danksy Solidariteit se duisende lede, ondersteuners en die gemeenskap bewerkstellig. In ’n globale krisis soos die een wat ons tans beleef, sien ons die krag van die plaaslike gemeenskap. Die gemeenskap kan vinnig uit en vir die gemeenskap reageer. Dankie aan alle Solidariteit-lede. Julle maak alles moontlik.

  •  
  •  
  •  
Redakteursbrief

Met die Covid-19-inperking steeds volstoom aan die gang, bring ons vir jou nóg ’n inperkingsuitgawe op jou rekenaarskerm, hierdie keer met gemak saamgestel asof dit al jare lank so gedoen word. Almal het die nuwe manier van doen se ritme nou reeds bemeester, met sommige wat intussen terug is by die werk terwyl ander nog […]


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close