Solidarteit Wêreld
2012 - Uitgawe 6
Solidariteit spog met welslae in 2012
Deur PW | 08 November 2012

Deur Cilleste van der Walt

 

Solidariteit vier 110 jaar van beskerming

Die vakbond Solidariteit het in 2012 sy 110de bestaansjaar gevier en in dié jaar ook uitgeblink as dié vakbond wat werklik jou ouboet in die werksplek is en sekerheid gee wanneer die werksomgewing onstuimig raak.

Die Solidariteit Dienssentrum het in slegs nege maande 379 760 telefoonoproepe en 9 960 arbeidsnavrae hanteer. In dieselfde tyd het nagenoeg 11 000 lede deur die Dienssentrum werkbeskerming verkry deur lid van die vakbond te word.

Daarbenewens het die vakbond meer as R3,97 miljoen se ledevoordele-eise uitbetaal. Hiervan is R25 500 uitbetaal vir eise vir permanente mediese ongeskiktheid terwyl voordele wat vir bevallings uitbetaal is, R379 250 beloop het. Intussen het Solidariteit ook deur die uitbetaling van die Solidariteit-begrafnisvoordeel van meer as R3,5 miljoen honderde gesinne gehelp wat 'n geliefde aan die dood moes afstaan.

Beskerming van lede in die werkplek bly egter steeds Solidariteit se hooffokus. Solidariteit se regsafdeling het vanjaar binne slegs nege maande meer as R177 miljoen se vergoeding namens lede beding. Hiervan is meer as R154 miljoen eise vir beroepsbeserings en -siektes, meer as R15 miljoen algemene litigasie-eise en meer as R68 miljoen in Arbeidshofeise beding.

 

Sol-Tech: Groter, beter, beste

Sol-Tech het in 2012 nog groter en beter geword danksy die instelling se roepinggedrewe personeel, gehalte-toerusting en uitstekende studente. Die kollege het die afgelope jaar 'n reusetoename in aansoeke vir opleiding ontvang, wat bewys dat Sol-Tech se naam as geloofwaardige, bekwame opleidingsinstelling hom vooruit loop. Danksy die Groeifonds en Solidariteit het die kollege vanjaar nog toerusting aangekoop om studente op te lei, die Gereedskapmaker-kursus is uitgebrei en daar kon meer Meulmaker-studente ingeneem word.

Sol-Tech-studente ontvang danksy dié instelling se moderne opleidingsmodel nie net teoretiese en institusionele opleiding nie maar ook praktiese opleiding in die werkplek. Hierdie werkplasings word deur die plasingsagentskap Ajani gedoen en danksy die hoëkaliber-studente wat Sol-Tech lewer, word studente dikwels deur die werkgewers waar hulle hul praktiese opleiding voltooi het, in diens geneem. Daarbenewens is die instelling se prestasies op ’n sterk en betroubare administratiewe en opleidingsmodel gebou.

 

Kraal Uitgewers: 'n Jaar van onthou

Die 110de herdenking van die einde van die Anglo-Boereoorlog is vanjaar op 'n spesiale manier deur Kraal Uitgewers gevier met die bekendstelling van Onthou! Kronieke van vroue- en kinderlyding, 1899-1902. Dié boek is op 31 Mei by die Voortrekkermonument bekendgestel tydens 'n merkwaardige geleentheid waar die name van sowat 34 000 vroue en kinders, wat in en op pad na die kampe gesterf het, teen die monument uitgestal is. Daar is vanjaar nie net op die historiese nalatenskap gefokus nie maar ook op aktuele sake. 'n Projek as voorloper tot die nuwe uitgawe van die boek Treurgrond, wat handel oor plaasaanvalle in Suid-Afrika, is in April van stapel gestuur. Na aanleiding van nuwe navorsing en die publiek se deelname gaan sowat 500 nuwe aanvalle, wat nie in die 2011-uitgawe verskyn het nie, ook in die nuwe boek opgeneem word. Die boek sal na verwagting teen die einde van die jaar beskikbaar wees. Nóg ’n boek, Belhar geweeg (wat die waardigheid van die belydenis van Belhar ondersoek), is in Oktober tydens die jaarlikse Aardklop Nasionale Kunstefees bekendgestel en ontlok reeds hewige reaksie vanuit verskeie geledere. Daarbenewens het Kraal, in samewerking met die FAK, ook in Oktober die nuwe FAK Sangbundel Volume II by dié fees bekendgestel.

 

AfriForum: Só laat ons jou stem hoor!

As 'n burgerregte-organisasie wat opstaan vir minderheidsgroepe se grondwetlike regte, ry AfriForum die golf van sukses. Die organisasie het byna 50 000 lede en dit is hierdie mense, ons lede, wat ons sterk maak en die kapasiteit gee om te veg vir dit wat reg is. AfriForum se plaaslike takstrukture bring groot suksesse en hou munisipaliteite op hulle tone. Teen die einde van 2012 sal daar meer as 100 gevestigde takke regoor die land wees.

AfriForum spog met verskeie groot suksesse in 2012: Sy regspan het die Balju in Kaapstad opdrag gegee om voort te gaan om Zimbabwiese eiendom te verkoop, nadat die Hoogste Hof van Appèl ’n appèl-aansoek van die Zimbabwiese regering, wat daarop gemik was om die proses te stuit, met koste van die hand gewys het. AfriForum het die Wallmansthal Communal Property Association (WCPA) met regsverteenwoordiging gehelp om in die Noord-Gautengse Hooggeregshof hulle grond van onwettige besetters terug te neem. Ná hernieude pogings van die Tshwane Metroraad om Pretoria se naam na Tshwane te verander, is AfriForum se regspan in hul wegspringblokke om te veg vir die behoud van die hoofstad se naam.

AfriForum Jeug het die vinnigste groeiende jeugbeweging in die land geword, met sterk verteenwoordiging op al die groot universiteitskampusse. Die stryd teen haatspraak is ook nog lank nie verby nie. AfriForum sal sy saak weer stel wanneer die geskorste leier van die ANC-Jeugliga, Julius Malema, en die ANC op 1 November die Hoogste Hof van Appèl in Bloemfontein nader om appèl aan te teken teen regter Colin Lamont se beslissing in die Gelykheidshof, naamlik dat die omstrede struggle-lied, “Dubula iBhunu” (Skiet die Boer) haatspraak is.

 

Akademia: 'n Jaar van nuwe uitdagings

Ná baie huiswerk, deeglike beplanning en baie sweet het Akademia amptelik vanjaar begin om programme op universiteitsvlak aan te bied. Hiermee is die eerste treetjie gegee na 'n baie belangrike instelling wat toegang in Afrikaans tot gesogte kwalifikasies bied. Akademia het binne 'n maand ná registrasie begin om studente vanuit ses studiesentrums regoor Suid-Afrika toegang tot vyf programme te bied. Die eerste klasse is amptelik op Maandag, 5 Maart 2012 aangebied en, afgesien van lekker dosent-student-interaksie, het studente ook gou met ander studente in ander sentrums begin kommunikeer. So het daar vinnig 'n Akademia-gemeenskap oor die land heen ontstaan. Voornemende studente kan reeds vanaf Oktober vanjaar begin aansoek doen vir registrasie by Akademia vir 2013. Die proses om meer programme te akkrediteer, is ook reeds aan die gang.

 

Helpende Hand: 'n Jaar van opheffing

Solidariteit Helpende Hand se projekte is daarop gemik om mense deur opleiding op te hef. Talle groot projekte is in 2012 met hierdie doel aangepak.

Helpende Hand het in 2012 landwyd meer as 4 000 tassies aan behoeftige graadeens uitgedeel. Dit beteken dat sedert die Skooltassieprojek in 2007 begin is, meer as 12 500 skooltassies reeds aan behoeftige Afrikaanssprekende graadeens versprei is. Daarbenewens het die Afrikaanse Beursinstituut vanjaar R7 miljoen se beurslenings aan 529 behoeftige studente toegeken.

Die massa-eetstaking ten bate van die nasionale Kosblikkieprojek was baie suksesvol en het die organisasie se verwagtinge oortref. Ongeveer R90 000 is tydens die eetstaking ingesamel. Intussen het die nasionale Kosblikkieprojek vanjaar deur middel van ’n voedingskema en kratte vol opvoedkundige speelgoed bygedra om ongeveer 3 200 behoeftige kleuters se lewens te verbeter. Verder het nagenoeg 2 000 ouers en kleuterskoolpersoneel ook voordeel getrek uit die indiensopleiding wat fasiliteerders van Immergroen Ouerskap as deel van die Kosblikkieprojek aangebied het.

Die splinternuwe Loopbaangids is in September bekendgestel tydens Helpende Hand se heel eerste Roepingskonferensie.

Verskeie nuwe projekte is vanjaar bekendgestel met die oog daarop om die gemeenskap deur opleiding op te hef. Helpende Hand het vanjaar die Borg 'n Kind-projek bekendgestel wat reeds volstoom by die 120 landswye takke aan die gang is. Hiermee sal R1,15 miljoen oor die volgende jaar in die gemeenskap terugploeg word.

Verskeie nuwe takke en skenkingskantore is gestig en geopen. Helpende Hand het ook meer as 'n handvol voltydse personeel verwelkom om seker te maak die ondersteunersbasis van meer as 23 000 se opdrag word na behore uitgevoer.

Sowat 1 500 vrywilligers het in Junie saam met die Solidariteit Beweging meer as 200 Doen Goed-projekte in bykans elke dorp in Suid-Afrika aangepak. Vyftienduisend mense se lewens is deur dié projekte geraak. Die week van goed doen was deel van die Solidariteit Beweging se 110de verjaarsdag.

 

Maroela Media: Die grootste Afrikaanse internetkuierplek ter wêreld

Maroela Media het ‘n jaar van ongekende groei en sukses beleef. Maroela word beskou as die lekkerste Afrikaanse kuierplek op die internet – en met reg. By www.maroelamedia.co.za kan jy elke dag die nuus lees, aan debatte deelneem, gesondheidsinligting in jou moedertaal kry, daaglikse taaltoffies geniet, alles te wete kom oor Afrikaanse films, boeke en musiek, en veel meer. Op Maroela Media se Facebook-blad kuier Maroela-aanhangers sonder ophou. Die webblad se maandelikse besoeke het in die afgelope jaar van 11 500 tot sowat 90 000 gegroei – ‘n toename van sowat 670% – en sowat 6 000 mense kuier daagliks op Facebook saam. Met ‘n baie omstrede maar opwindende veldtog, Die Grootste Afrikaner van Alle Tye, het Maroela Media Paul Kruger aangewys as die grootste historiese Afrikaner van alle tye, en Steve Hofmeyr as die grootste eietydse Afrikaner. Liewe Heksie het in die fiktiewe kategorie met die titel weggestap. Maroela is baie trots op sy radioproduksiehuis, Draadloos, wat in Oktober bekend gestel is en wat goeie gehalte Afrikaanse programme aan gemeenskapsradiostasies verskaf.

 

Solidariteit Finansiële Dienste

Solidariteit Finansiële Dienste (SFD) het in 2012 'n volwaardige finansiële adviesdiens op die been gebring. Die afdeling lewer 'n omvattende beplanningsdiens wat kliënte bystaan met beplanning vir aftrede, beskerming van risiko’s en enige ander beleggingsbeplanning. Die afdeling het reeds meer as R25 miljoen onder bestuur, wat vir SFD 'n belangrike hoogtepunt is. Die korttermynversekeringskema het in 2012 'n nuwe hoogtepunt van 8 000 polisse verbygesteek. Dié skema is SFD se vlagskipproduk en maak 'n belangrike bydrae tot die Solidariteit Beweging se uitbreiding.

 

  •  
  •  
  •  
Redakteursbrief

Met die Solidariteit Beweging se Toekomsberaad op 10 Oktober vanjaar het Solidariteit die laaste deel van 2019 met ’n groot hoogtepunt aangepak. Dit was ’n heerlike geleentheid waartydens die energie en opgewondenheid tasbaar was onder die groep mense wat saam groot dinge vir ons toekoms help beplan. Tydens die vorige Toekomsberaad, wat in 2015 gehou […]


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close