Solidarteit Wêreld
2019 – Uitgawe 6
Solidariteit takel vals rassismeklagtes in SAPD
Deur Michelle | 13 November 2019

Deur Morné Malan 

Solidariteit het in Oktober tydens ’n mediakonferensie gesê dat hy bewus is van minstens 13 gevalle waar vals klagtes van rassisme teen wit polisielede gelê is. In die meeste gevalle word valslik beweer dat die polisielede die k-woord gebruik het.

“Vals klagtes van rassisme is besig om sistemies in die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) te raak. Die k-woord word nou ’n wapen om dissiplinêre optrede te vermy. Dit hou ingrypende emosionele en loopbaangevolge vir die slagoffers van die vals klagtes in. Daar moet net so ferm opgetree word teen diegene wat onaanvaarbare woorde misbruik as teen dié wat dit gebruik,” het dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, gesê.

Solidariteit het ook ’n veldtog bekend gemaak wat ten doel het om rasseboelies binne die SAPD te ontbloot en seker te maak dat hulle die gevolge van hul wangedrag dra en dat daardie gevolge afgedwing word.

’n Deel van die veldtog gaan daarop fokus om polisielede aan te moedig om vals klagtes van rassisme en dubbele standaarde wat ten opsigte van die hantering van rassisme in die SAPD geld, by Solidariteit aan te meld sodat ’n omvattende verslag oor die aangeleentheid opgestel kan word. Dié verslag gaan aan die SAPD en die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) oorhandig word vir optrede.

Volgens Renate Barnard, sektorkoördineerder van Solidariteit, sien die vakbond al meer gevalle van werknemers binne die SAPD wat ras as ’n troefkaart probeer gebruik om só ’n kollega uit die organisasie te laat verwyder. “Dit is dikwels juis omdat daardie kollega hulle verantwoordbaar probeer hou vir wangedrag of poog om hulle te dissiplineer wanneer hulle hul plig versuim het,” voer Barnard aan.

Solidariteit het verder sy kommer uitgespreek oor die interne prosedures wat deur die SAPD in verband met sulke sake gevolg word. Barnard verduidelik: “Die stelsel is tans op so ’n manier ontwerp dat enige persoon wat van rassisme beskuldig word, bykans onmiddellik met wantroue, verwerping en veragting hanteer word. Dit terwyl daar weinig, indien enige, gevolge is vir diegene wat die hele tyd valse aantygings versprei. Hierdie toedrag van sake kan eenvoudig nie so voortduur nie. Deur die manier waarop die SAPD sulke sake hanteer, moedig hy net verdere verdelende, rassistiese gedrag aan en maak dit so onmoontlik vir werknemers om vreedsaam saam te werk.”

Solidariteit veroordeel ook die klimaat wat tans in die SAPD heers ten sterkste, en stel dit dat Solidariteit dit noodsaaklik ag om aanspreeklikheid en gelyke behandeling af te dwing in gevalle waar die SAPD weier om dit self toe te pas.

“Die beweegrede vir ons veldtog het nie net te make met die feit dat ons ’n onaanvaarbare getal vals aantygings van rassisme binne die SAPD waargeneem het nie, maar ook dat die frekwensie waarteen sulke aantygings teenoor ons lede gemaak word, elke jaar toeneem. Tog, ten spyte van die tallose gevalle waar ons ons lede suksesvol verdedig, doen die SAPD niks om sulke aantygings te ontmoedig nie,” het Barnard gemeld.

Al manier hoe hierdie verskynsel beveg kan word, voer Barnard aan, is deur seker te maak dat daar gevolge is vir leuens – veral wanneer leuens verband hou met ernstige aangeleenthede soos rassistiese uitlatings. “Die blote maak van so ’n aantyging teenoor iemand kan onherroeplike skade vir daardie persoon se loopbaan en persoonlike lewe inhou. Dit behoort as ’n ernstige misdryf binne die organisasie hanteer te word,” het sy gesê.

Die eerste deel van dié tweeledige veldtog wat Solidariteit binne die SAPD van stapel stuur, is om sy lede en ander slagoffers van soortgelyke gedrag aan te moedig om aktief aan die veldtog deel te neem deur hul storie met Solidariteit te deel sodat Solidariteit ’n volledige verslag oor sulke gevalle kan saamstel. “Die eerste stap is om die omvang van die probleem vas te vang. Die tempo waarteen ons sulke klagtes sien inkom, is reeds onrusbarend. ’n Mens is dus geweldig bekommerd oor die aantal sake wat nooit by ons uitkom nie. ’n Voorlopige oorsigtelike ondersoek het reeds 13 uiters kommerwekkende sake aan die lig gebring,” verduidelik Barnard.

Met die tweede deel van Solidariteit se veldtog sal daar seker gemaak word dat reëls konsekwent toegepas word waarvolgens almal – ongeag velkleur – gelyke behandeling voor die reg geniet. Die verslag wat saamgestel gaan word uit die inligting wat hierdie veldtog oplewer, sal aan die MRK en die SAPD oorhandig word.

“Ons is uiters gefrustreerd met die dubbele standaarde wat geld wanneer dit kom by die hantering van rassisme in die SAPD. Wanneer bewerings van rassisme van wit op swart voorkom, word daar oorhaastig en sonder nadere ondersoek opgetree, maar as growwe rassistiese uitsprake deur ’n swart polisielid gemaak word, word daar gesloer om werk daarvan te maak. Ons het reeds sewe maande gelede ’n klag by die MRK oor ’n voorval van walglike haatspraak ingedien, en dit is steeds nie afgehandel nie. Die SAPD as werkgewer het, nadat verskeie klagtes gelê is, sy voete gesleep om teen die betrokke lid op te tree,” het Barnard gesê.

  •  
  •  
  •  
Redakteursbrief

Met die Solidariteit Beweging se Toekomsberaad op 10 Oktober vanjaar het Solidariteit die laaste deel van 2019 met ’n groot hoogtepunt aangepak. Dit was ’n heerlike geleentheid waartydens die energie en opgewondenheid tasbaar was onder die groep mense wat saam groot dinge vir ons toekoms help beplan. Tydens die vorige Toekomsberaad, wat in 2015 gehou […]


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close