Solidarteit Wêreld
2017 – Uitgawe 5 Spreekbuys
Solidariteit veg net vir normaliteit
Deur Michelle | 29 September 2017

“Wat wil julle nou eintlik by Solidariteit bereik?” vra ’n regeringsgesinde joernalis my nou die dag ergerlik.

Ek dink ’n oomblik na. “Normaliteit,” antwoord ek. “Ons wil net ’n normale lewe in ’n normale land lei.”

“Wat bedoel jy, dit is mos normaal?” sê-vra hy.

Ek haal diep asem. “Ons staan nie vir ’n vreemde ideologie nie en ons wil ook nie terugkeer na die verlede nie. Ons wil net ’n normale lewe lei soos enigiemand anders in enige werkende land. Terselfdertyd gun ons ook vir alle ander mense die normaliteit wat ons vir onsself opeis,” vervolg ek.

Ek sien egter sy gesig slaan sommer toe; hy verstaan regtig nie. Hy het al só gewoond geraak aan “abnormaal” dat hy dink dit ís normaal en dat ék abnormaal is. Ek haal weer diep asem en begin verduidelik wat ek bedoel met normaal. Kom ons noem dit maar Solidariteit se 12 punte vir normaliteit.

 

  1. Veiligheid

Ons streef na ’n normale lewe in ’n normale land waar die misdadigers in tronke toegesluit is en wetsgehoorsame burgers vry en veilig buite kan rondloop. Hier by ons moet ons onsself binne-in ons huise toesluit, terwyl misdadigers bykans ongesteurd vry buite rondloop en almal terroriseer. Dis nie normaal dat ons nie meer veilige openbare ruimtes het nie.

 

  1. Werk

Tweedens wil ons ’n normale werkbedeling hê sonder dat abnormale rassekwotas bepaal wie mag werk en bevordering kry en wie nie. Dit is heeltemal moontlik omdat die getallesamestelling in die land steeds sal meebring dat swart mense die meeste aanstellings kry. Té veel mense is al trekarbeiders wat regoor die wêreld moet werk terwyl hul gesinne alleen hier agterbly.

 

  1. Gelykheid

Derdens wil ons normale gelykheid hê. Ons is nie bó ander verhewe nie, maar wil ook nie ónder ander wees nie. Dít is mos nie normale gelykheid as jou ras bepaal jy moet onder wees nie! Ons glo aan ’n gelyke wegspring en nie dat rassewette bepaal dat almal volgens hul bevolkingsaandeel “gelyk” by die wenpaal moet aankom nie.

 

  1. Vryheid

Vierdens glo ons aan normale vryheid. Die bepalings van die Handves van Menseregte wat ten opsigte van vryheid, gelykheid en menswaardigheid geld, geld mos vir wit en bruin ook. Regeringsbeleid soos “Afrika-hegemonie” wat bepaal dat alle instellings onder die beheer van swart Afrikane moet wees volgens die rasseformule van 80% swart, 9% wit, 9% bruin en 2% Indiër is mos abnormaal. Dit beteken dat die lewens van minderhede op alle gebiede deur swart mense beheer sal word. Dis mos abnormale rasse-oorheersing en tas ons vryheid, gelykheid én menswaardigheid aan. Demokrasie moet oor die vryheid van almal gaan en nie net dié van die meerderheid nie. Dit is net normaal om inspraak te hê in besluite wat jou raak – dit is normale vryheid. Die transformasieformule lê buitendien aan die wortel van die mislukking van soveel staatsinstellings en dit is abnormaal dat ’n formule wat keer op keer misluk telkens herhaal word.

 

  1. Onderwys en opleiding

Vyfdens wil ons die normale reg hê wat enige ander mens het om te kies in watter taal ons kinders moet skoolgaan en in watter taal hulle op universiteit of kollege moet klasloop. Ons wil ook hê dat normale toelatingsvereistes geld, want die rasseteikens wat tans vir toelatings en beurse gestel word, is abnormaal. Dis nie normaal as jongmense met die verlede belas word nie.

 

  1. Belastingwaarde

Sesdens wil ons normale waarde vir die belasting op ons swaarverdiende inkomste kry. Dit is mos abnormaal om hemelhoë belasting vir staatsdienste te betaal en om dan weer ’n keer te moet betaal vir duur privaat mediese dienste, skoolonderwys, privaat sekuriteitsdienste en vir bykans alle ander dienste wat plaasvervangend privaat gelewer word. Net so is dit abnormaal dat hardwerkende mense wat self sukkel om na behore vir hul gesinne te sorg, boonop vir almal in die land moet sorg wat nie vir hulself sorg nie.

 

  1. Werkende dienste

In die sewende plek eis ons normale staats- en munisipale dienste waarvoor ons betaal. Hoekom moet ons op soveel dorpe met abnormale probleme sukkel soos water- en kragonderbrekings, ondoeltreffende staatskantore, slaggate in die paaie en onhulpvaardige staatsamptenare wat nie doen waarvoor ons hulle betaal nie?

 

  1. Eerlike en bekwame regering

Punt agt is ’n normale, eerlike regering wat nie belastinggeld steel of wanbestee nie en wat die burgery se dienaars in plaas van hul heersers is. Die woord “minister” beteken mos inderwaarheid “dienaar”! Dit is mos abnormaal as die president openlik korrup is en onbekwame politici en staatsamptenare straffeloos aanhou kwaaddoen. Dit is ook totaal abnormaal as ministers ons werk in gevaar stel deur die ekonomie met radikale uitsprake te ondermyn; as ekstremistiese mynbouhandveste beleggers laat onttrek; of as die president ons oor die rommelstatusafgrond sleep deur bekwame ministers te ontslaan – of sommer die hele land te kaap!

 

  1. Rassebetrekkinge

In die negende plek wil ons normale rassebetrekkinge en samewerking tussen almal in die land sien. Politici wat wit mense beledig en die massa teen ons opsweep, dubbele standaarde handhaaf soos in die geval waar ’n simpel twiet deur ’n wit vrou meer opspraak wek as die 255 plaasaanvalle van 2017 alleen, asook die selektiewe rassisme waardeur wit mense deur magtige mense geteiken word, vergiftig verhoudings en is abnormaal. Rassewette wat ondernemings mikrobestuur, knel werkskepping; maak dit abnormaal moeilik om ’n onderneming te bedryf; en dryf topentrepreneurs wat ons land benodig landuit. Rassevoorvalle wat histeries opgeblaas word en alle wit mense summier skuldig bevind, is abnormaal en vervreem ons.

 

  1. Reg en geregtigheid

Die tiende maatstaf vir normaliteit hou verband met die regstelsel en die oppergesag van die reg. Waarom kom die president nou al vir so lank met 783 klagte teen hom weg en waarom op aarde verskyn die Guptas nie voor die hof op al die ernstige aanklagte teen hulle nie? Dan is dit ook abnormaal as sekere regters al hoe meer politieke uitsprake lewer as dit by sake soos ras, taal of kultuur kom. Almal moet mos gelyk wees voor die reg, ongeag ras of taal – dis mos normaal?

 

  1. Taal, kultuur en geskiedenis

In die elfde plek word ons taal, kultuur, geskiedenis en erfenis ook abnormaal behandel. Ten spyte van die normale grondwetlike bepalings wat vir taal en kultuur geld, word ons taal en kultuur abnormaal en ongelyk behandel. Boonop word ons geskiedenis gekriminaliseer en word ons erfenisse verwaarloos, uitgeskuif of val dit onder ANC-beheer, soos in die geval van die Boererepublieke se Oorlogsmuseum. Ons wil net die normale reg hê om ons taal na goeddunke te gebruik; om ons kultuur normaal uit te leef; en om ’n normale geskiedenis te hê met al sy goeie en swakpunte. Ons wil soos enige normale gemeenskap plekke hê waar ons kan tuis voel en waar ons die meerderheid is.

 

  1. Normale toekoms

Die twaalfde punt is dat ons ’n normale toekoms wil hê waar ons ook eersteklas burgers is. Ons wil tuis en welkom voel. Dit is abnormaal dat mense twyfel of hul kinders ’n toekoms in die land gaan hê en dat die meeste van hulle emigrasie oorweeg vanweë al die abnormaliteite wat hierbo genoem is. Té veel oupas het al grandpa geword! Ons weet dat ’n normale toekoms net moontlik is as ons sélf oor ons toekoms besluit. Ons wil nie die abnormale toekoms hê wat mnr. Zuma en kie vir ons beplan, en waarin ons net die houthakkers, waterdraers en belastingbetalers in ons eie land is nie.

Die ANC het al vir meer as 20 jaar ’n gulde geleentheid by hulle laat verbygaan om ’n normale land te skep. Terwyl hulle vol verwyte oor die vorige abnormale bedeling is, het hulle dit net omgekeer en voortgesit. Soos die Afro-Amerikaanse denker Thomas Sowell sou sê: “Die afgelope dekades is die verhaal van die vervanging van dít wat gewerk het met dít wat polities mooi geklink het.” Daarom werk en veg ons vir normaliteit. Normale werk is nou eenmaal nie moontlik in ’n abnormale land nie.

  • 2
  •  
  •  
  •  
Redakteursbrief

So staan nog ’n jaar einde se kant toe. Hoewel die laaste deel van 2018 steeds volgepak is met dinge om af te handel, kan ons reeds met tevredenheid terugkyk op die jaar se groei en sukses tot op hede. Hierdie is die 100ste uitgawe van Solidariteit Tydskrif en bied dus die perfekte geleentheid vir […]


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close