Solidarteit Wêreld
2020 – Uitgawe 2
Staatshulp op rassegrondslag bepaal
Deur Michelle | 25 Mei 2020

Maande voordat die koronavirus in Suid-Afrika gediagnoseer is, het die Covid-19-pandemie reeds die gesondheid en ekonomiese bedrywighede van talle lande wêreldwyd tot stilstand gedwing en dit was dus werklik geen verrassing toe dit uiteindelik ook in Suid-Afrika gebeur nie.

Reëls en regulasies is inderhaas afgekondig en ’n noodtoestand is in Suid-Afrika verklaar. Mense moes skielik tuis bly, sakeondernemings en skole moes sluit. Kleinsakeondernemings en veral sektore soos toerisme het dit onmiddellik aan hul sakke gevoel toe hul inkomste oornag opgedroog het.

Maar die staat sou nie sy mense sommer net versaak nie; nee, daar is noodfondse beskikbaar gestel en besighede is aangemoedig om daarvoor aansoek te doen. Dit wou-wou blyk dat daar moontlik ’n uitkoms kan wees.

Toe word die inhoud van ’n dokument wat uit ’n reeks skyfies bestaan, aan die media uitgelek waarin die vereistes uitgestippel word om vir dié noodfondse te kwalifiseer. Swart ekonomiese bemagtiging (SEB) is duidelik as voorvereiste gestel.

Dit het die wind uit soveel seile geneem. Hier word jy, die kleinsakeonderneming, verbied om handel te dryf en ’n inkomste te genereer, en die toerismebedryf kan as gevolg van die reisverbod en inperkingsmaatreëls vir maande lank geen sake doen nie. Die gevolg is dat jy nie jou werknemers kan betaal nie, nie jou verpligtinge kan nakom nie en uiteindelik nie kos op jou eie tafel kan sit nie. En dan vertel die regering vir jou hulle sal jou nie help nie, want jou vel is die verkeerde kleur. Dink hulle dan nie aan al die swart werknemers wat jy in jou diens het nie? Dis almal broodwinners wat nou saam met jou in hierdie nood verkeer.

Op 24 Maart rig Solidariteit ’n dringende brief aan die regering waarin hy vra vir duidelikheid oor die vereistes om vir die noodfondse te kwalifiseer. Nadat die dokument uitgelek is, het die regering dit afgemaak as fopnuus. Tydens ’n mediakonferensie in die daaropvolgende dae is daar egter afgekondig en duidelik gestel dat die departement van kleinsakeondernemings noodfondse op slegs ’n “demografies verteenwoordigde” wyse beskikbaar sal stel en dat 70% van die departement van toerisme se fondse uitsluitlik aan ondernemings onder swart beheer sal gaan.

Solidariteit het hierop gereageer deur ’n klag by die Menseregtekommissie teen die departemente in te dien. ’n Pandemie is nouliks die tyd om na die kleur van iemand se vel te kyk. Die hele land verkeer in nood. Mense is honger en hulle besighede maak toe. Velkleur speel geen rol in die pandemie nie, tog blyk dit dat die regering hierdie omstandighede wil uitbuit om ’n onregverdige voordeel aan voorheen benadeeldes te gee.

Die departement van kleinsakeondernemings het op 14 April in hofstukke wat onder eed afgelê is, op Solidariteit se brief gereageer. Hulle onderneming was dat SEB nie as vereiste vir die kwalifisering van hulpfondse voorgehou sal word nie en dat dié kriterium op die aanlyn platform slegs vir die departement se interne boekhoustelsel was.

Die departement van toerisme het egter volgehou dat SEB wel ’n vereiste vir die toekenning van hulle hulpfondse is. Hulle verweer: Die wet vereis dit van hulle. Solidariteit het ’n dringende aansoek gebring en die hofdatum is vir 28 April in die Noord-Gautengse Hooggeregshof geskeduleer.

Solidariteit beskou die rassefondse as onbillik aangesien tweeledige diskriminasie nou plaasvind: teen die onderneming se eienaar en teen sy werknemers. Twee uit elke drie werknemers in die toerismebedryf is swart en is die broodwinners in hulle gesinne, maar nou weier die staat om hulle te help bloot omdat hulle vir ’n wit werkgewer werk.

Ondanks Solidariteit se argumente het regter Kollapen beslis dat die toepas van raskriteria nie ’n onregverdige voordeel aan swart mense gee op grond van hulle ras nie, maar dat dit eerder tot gevolg het dat die effek van hierdie kriterium vir daardie aansoekers tot ’n voorsprong sal lei.

Op dieselfde dag is die wêreld van klein ondernemings deur nog skoknuus geruk. Khumbudzo Ntshavehni, die minister van kleinsakeontwikkeling, het in ’n portefeuljekomiteevergadering erken dat ras wel ’n rol speel in die toekenning van noodfondse vir hierdie betrokke ondernemings.

In reaksie het Solidariteit voortgegaan om ’n klag van meineed teen die minister by die polisie te lê. Solidariteit was uiters geskok dat ’n minister onder eed in hofstukke sal jok oor haar departement se voorneme en so ’n bespotting van die Suid-Afrikaanse reg maak.

Klagte teen beide departemente is ook by die Grondwethof ingedien om te toets of dit grondwetlik is dat enige vorm van diskriminasie op grond van ras ten tye van nood toegepas mag word. Wanneer die hele land, ongeag velkleur, deur ’n virus geaffekteer word, moet dit tog die mate van nood wees wat die toekenning van hulpfondse bepaal en niks anders nie.

Solidariteit sal verder gaan om ook klagte by die Verenigde Nasies se komitee vir die uitwissing van alle vorms van rassediskriminasie te lê.

In ’n tyd waar ’n pandemie die land se ekonomie op sy knieë dwing en geen onderskeid tussen sy slagoffers tref nie, word daar verwag dat die staat ook geen onderskeid sal tref as dit by hulpverlening kom nie. Solidariteit sal aanhou om hierdie diskriminasie in ’n tyd van nood te beveg.

  •  
  •  
  •  
Redakteursbrief

Met die Covid-19-inperking steeds volstoom aan die gang, bring ons vir jou nóg ’n inperkingsuitgawe op jou rekenaarskerm, hierdie keer met gemak saamgestel asof dit al jare lank so gedoen word. Almal het die nuwe manier van doen se ritme nou reeds bemeester, met sommige wat intussen terug is by die werk terwyl ander nog […]


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close