Solidarteit Wêreld
2018 – Uitgawe 3 Spreekbuys
Ter wille van ons nageslag
Deur LJ | 19 Junie 2018

Deur Flip Buys

“Is daar nog ‘n toekoms vir ons kinders in hierdie land?” Dís die vraag wat ek die meeste gevra word tydens gesprekke met ons lede. By ’n byeenkoms van vakbondverteenwoordigers in Witbank het een van ons staatmaker-verteenwoordigers die groot vraag in baie mense se gemoed treffend verwoord: “Ons wat vandag hier sit, het goeie onderwys gehad; naskoolse opleiding, ‘n vaste werk, ‘n huis, ‘n mediese en pensioenfonds. Ja, daar is groot druk by die werk, maar ons geslag sal nog regkom. Maar wat van ons kinders? Kyk net hoe gaan dit in die land. Hoe gaan dinge oor tien of twintig jaar lyk? Ons is nou al keelvol vir misdaad, gewelddadige protes en vandalisme, die verval in ons dorp, rassisme by die werk, radikale politici wat mense opsteek, druk op ons skole, die toestand van kolleges en universiteite, en dreigemente teen eiendomsreg wat al soveel lande laat misluk het. As dit nou al só gaan, hoe gaan ons kinders nog ‘n toekoms hê?”

Ons nageslag

Dis inderdaad ‘n gewigtige vraag, wat nie sommer met ‘n gemaklike “ja, natuurlik” of ‘n oplossinglose, suggende “nee” afgemaak kan word nie. Ek het ook kinders, en hul toekoms is vir my net so belangrik. Kom ons wees eerlik: ons lewens draai maar om ons kinders (en kleinkinders) se toekoms! Nie een van ons wil sien dat ons kinders onveilig, werkloos of armlastig is nie, of dat hulle desnoods landuit moet gaan en ons hier agterlaat om eensaam oud te word nie. Daarby kan ons nie ons oë sluit vir die dinge wat in die land gebeur nie. ’n Mens kan maar net die kolletjies verbind of die huidige lyne vorentoe trek om bekommerd oor die toekoms te raak. Ja, hier is nog baie positiewe dinge, maar 'n mens wil soms nie eens meer nuus kyk nie.

Kom ek vertel meer oor my antwoord. Ek het gesê dat Solidariteit se hele strategie daarop gemik is om vir ons kinders en kleinkinders ‘n toekoms te bou waar hulle blywend vry, veilig en voorspoedig kan lewe. En dis nie net sommer ‘n poging om ‘n bekommerde lid vinnig gerus te stel nie. Ek het sedert my universiteitsdae geglo dat ‘n omwenteling in die land tot groot druk op ons as minderheidsgroep sal lei, soos in baie Afrikastate en ander lande in die wêreld. In die meeste vergelykbare lande monopoliseer die meerderheidsgroep die staatsdiens om hul mense werk en dienste te gee, bestee hulle die belastinginkomste om hul kiesers se steun te koop, en maak hulle wette om hul mense te bevoordeel. Daarom was dit my oortuiging dat ons nie afhanklik van die staat sal kan bly nie, maar ‘n sterk helpmekaarbeweging sal moet stig om selfstandig vir onsself te sorg.

Van wieg tot graf

Daarom was ons strategie om ‘n hele Beweging van selfhelporganisasies te stig wat ‘n lewenslange netwerk van dienste aan ons ledegemeenskap – van jonk tot oud – kan aanbied. Ons het begin by die vakbond, en het oor die jare ons dienste vir ons werkende lede intensief uitgebrei. Daarom het Solidariteit se ledetal oor tyd meer as vertiendubbel. Maar ons het ook ‘n hele aantal ander organisasies gestig om ‘n hele pyplyn van dienste vir kleuters, laerskool- en hoërskoolkinders, studente, werksoekers, werknemers en afgetredenes te skep.

Een van die instansies wat deel vorm van hierdie pyplyn, is Solidariteit Helpende Hand. Dié instansie lewer 'n hele reeks dienste:

  • Helpende Hand voed daagliks 5 200 kleuters;
  • Hulle het talle projekte vir laerskoolkinders, soos bykans 5 000 skooltassies met skoolbenodighede wat jaarliks aan behoeftige graadeens gegee word;
  • Dienste soos die Wolkskool, gespesialiseerde opleiding van onderwysers en beroepsvoorligting is tot die voordeel van hoërskoolleerders;
  • Skoolverlaters word jaarliks bygestaan met bykans R40 miljoen se rentevrye studielenings, Sol-Tech lei jaarliks meer as ‘n duisend jongmense op, en Akademia se 13 studiesentrums landwyd en in Namibië lei reeds 900 studente per jaar op;
  • Werksoekers word sover moontlik met WerkNet gehelp, en ons werk hard aan projekte om hierdie belangrike diens te verbeter omdat ons so oorval word met aansoekers dat ons nie naastenby almal kan help nie;
  • Werkendes word met talle werkverwante dienste gehelp, en Solidariteit werk ook hard daaraan om hierdie dienste uit te brei. Planne vir beroepsgildes om voortgesette opleiding en dienste oor die hele beroepslewe te lewer, vorder goed;
  • Helpende Hand se landwye netwerk van takke en vrywilligers lewer besondere dienste aan weerlose mense soos bejaardes, kinders en mense met gestremdhede.

Maar benewens hierdie pyplyn bied Solidariteit en die ander organisasies in ons Beweging talle ander dienste:

  • AfriForum werk volstoom daaraan om veiligheid te verbeter en misdaad te beveg, en brei sy 106 landwye buurtwagte vinnig verder uit met opleiding en nuwe toerusting. Die organisasie werp ook alles in die stryd om munisipale dienste te verbeter;
  • Solidariteit beveg korrupsie, die vermorsing van belastinggeld, bedrog by pensioenfondse en onbillike rassediskriminasie;
  • Buitelandse steun vir ons doelwitte word deurlopend gewerf;
  • Ons het talle projekte om Afrikaans te beskerm, gehalte-onderwys te bevorder, ons geskiedenis in ere te herstel, en ons erfenis te bewaar.

Privatisering

Die groot uitdaging vir Solidariteit is om “staatsdienste” sonder staatsinkomste soos belasting te lewer. Ons het die afgelope jare geweldige vordering gemaak, en ek verwag dinge gaan nou vinnig verder spoed optel. Wat in werklikheid gebeur, is dat die hele land begin privatiseer as gevolg van die swak regering en gevolglike staatsverval. Kyk maar net na private hospitale, sekuriteitsmaatskappye, veiligheidsdorpe, en hoe goed die privaatsektor teenoor die staat vaar. Ongelukkig is privatisering baie duur, en ons hele doel is om dit met gemeenskapsdienste goedkoper te maak, soos met rentevrye lenings vir studies.

Terwyl ons dus veg teen swak staatsdienste en belastingvermorsing, beplan ons reeds saam met vennote aan privaatskole en talle ander privaatdienste. Die feit is egter dat ons nie ‘n landwye alternatiewe staatsdiens kan wees nie.

Groot Trek

Daarom het ons ‘n bevolkingstudie laat doen wat duidelik wys hoe mense in groot getalle uit die baie vervallende klein dorpies na veral sowat 30 dorpe en stede trek. Dis te verwagte, omdat ‘n yl verspreiding oor sowat 300 dorpe en stede in die land daartoe lei dat ons oral dieselfde probleme het. Daarom beplan ons om daardie “Groot Trek” te ondersteun met ‘n konsentrasiestrategie in “ankerdorpe”, waar ons dan beter dienste soos veiligheid, onderwys en bejaardesorg wil aanbied. Dit beteken nie ons vergeet mense op die kleiner dorpies nie, maar deur hierdie ankerdorpe maak ons dit vir onsself moontlik om dienste op en naby kleiner dorpe ook te lewer.

Ja vir die toekoms

Politieke magloosheid beteken nie magteloosheid nie. In die praktyk is gemeenskapskrag sterker as staatsmag. Sol-Tech wat met tienrande van ons lede gebou is, gee byvoorbeeld beter opleiding as die staatskolleges met al hulle miljarde rande.

Dis hoekom ek moed vir die toekoms het. Ons voorouers het gewys dat ons mense ‘n land kan opbou. Ons regeer nie, en kan nie verantwoordelikheid aanvaar om die hele land en al sy mense te “red” nie: die regering het daardie hulpbronne en verantwoordelikheid. Maar ons kan, deur vernuwend te dink, universiteite, skole, veilige dorpe, kolleges, ouetehuise en ondernemings wat werk skep, oprig. Ons voorouers het dit gedoen; ons kan ook. Ons hoef vir niemand vooraf toestemming te vra nie, ons kry eerder ná die tyd erkenning vir wat weer opgebou is.

Elke geslag is verantwoordelik vir sy eie tyd, en dis nou ons geslag se beurt om met die aflosstokkie te hardloop en dit veilig vir die volgende geslag oor te gee. Kom ons wees die “voorouers” waarop ons kinders en kleinkinders trots sal wees!

  • 5
  •  
  •  
  •  
Redakteursbrief

So staan nog ’n jaar einde se kant toe. Hoewel die laaste deel van 2018 steeds volgepak is met dinge om af te handel, kan ons reeds met tevredenheid terugkyk op die jaar se groei en sukses tot op hede. Hierdie is die 100ste uitgawe van Solidariteit Tydskrif en bied dus die perfekte geleentheid vir […]


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close