Solidarteit Wêreld
2019 – Uitgawe 6
Toekomsberaad: Só lyk die laaste 5 jaar se welslae
Deur Michelle | 13 November 2019

Deur Mia Slabbert 

Die Solidariteit Beweging het oor die afgelope vyf jaar verskeie welslae bereik, en het homself op talle gebiede gevestig as ’n groot rolspeler waarmee daar rekening gehou moet word in die Suid-Afrikaanse samelewing.

Die Solidariteit Beweging het in 2015 ‘n omvattende vyfjaarplan bekend gestel waarmee hy verskeie kwessies in Suid-Afrika wou aanspreek. Al die doelstellings is bereik voor 2020, en daarom kan daar nou al terugvoer gegee word oor die uitkoms van hierdie doelstellings wat bereik is.

Solidariteit

Een van die mikpunte was om meer regsaksies van stapel te stuur wat tot voordeel van almal, en veral belastingbetalers, sal strek. Hierdie besluit het daartoe gelei dat Solidariteit in die afgelope tyd verskeie sake in verskeie howe kon wen.

Eerstens het Solidariteit vir Hlaudi Motsoeneng, voormalige uitvoerende hoof van die SAUK, arbeidshof toe gesleep nadat hy agt joernaliste wat nie met die SAUK se protesbeleid saamgestem het nie, summier afgedank het. Motsoeneng is ook in sy persoonlike hoedanigheid aanspreeklik gehou vir die kostes van die saak.

Voorts het Solidariteit vir Brian Molefe, voormalige Eskom-hoof, eers in die hooggeregshof en daarna in die Konstitusionele Hof pakslae gegee, nadat hy onregmatige pensioenuitbetalings van Eskom ontvang het. Molefe het onlangs die geld wat hy aan Solidariteit verskuldig was, vereffen.

Solidariteit-lede het ook hul stem teen Sasol se rasbeleid dik gemaak tydens ’n staking en is steeds in ’n regsaksie gewikkel.

Daarbenewens het hy sy veldtog teen regstellende aksie verskerp deurdat hy in die afgelope vyf jaar twee keer by die Verenigde Nasies en die CERD, die komitee vir die uitwissing van alle rassediskriminasie, besoek afgelê het om ’n aanbieding en skaduverslag ter tafel te lê rakende die Suid-Afrikaanse regering se toepassing van regstellende aksie. Die CERD het ná afloop hiervan sterk kritiek gelewer teen Suid-Afrika se rasbeleid. Die Menseregtekommissie (MRK) het intussen ook, ná afloop van CERD se uitsprake, bevind dat die wyse waarop regstellende aksie toegepas word, nie grondwetlik is nie.

AfriForum

In 2015 het AfriForum beloof om meer gemeenskappe te help om buurtwagte te stig. Hulle het aangedui dat hulle graag hul buurtwagstrukture, wat toe uit 68 bestaan het, wil uitbrei en dié getal minstens wil verdubbel.

Op daardie manier wou hulle 'n nasionale netwerk van gemeenskapstrukture tot stand bring wat Suid-Afrikaners teen misdaad en onrus kan beveilig. Dié strukture behels patrollie ry, reaksie- en gebeurlikheidsplanne skryf, gebruik maak van nasionale en plaaslike radionetwerke en verskeie beheerkamers vestig.

Die aantal buurtwagte het van 68 in 2015 tot 140 teen September vanjaar toegeneem, terwyl die aantal buurtwaglede van 1 874 in 2015 tot 9 500 tans gegroei het.

Meer as 7 900 buurtwaglede het sedert 2015 opleidingsmodules, waaronder regsaspekte, toneel-hantering en noodhulp, ontvang.

Vroeg in 2018 het 'n stryd oor taalbeleid daartoe gelei dat 'n hoërskool in Vereeniging vir meer as twee weke onder beleg van 'n klomp gewelddadige betogers was. In samewerking met die gemeenskap en sekuriteitsmaatskappye kon AfriForum-gemeenskapsveiligheid verseker dat klasse grootliks kon voortgaan. Aan die begin van 2019 moes dié afdeling weer inspring, dié keer om 'n laerskool in Schweizer-Reneke te help beveilig. Hier het die stryd gegaan oor 'n paar foto’s.

Ook die onwettige besetting van grond, aangehits deur 'n moontlike aanpassing van die Grondwet om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak, het 'n al hoe groter kopseer vir die span, gemeenskappe en grondeienaars begin raak. In plekke soos Pretoria en Witrivier kon AfriForum die slagoffers en gemeenskap bystaan totdat die Rooimiere die onwettige strukture kon verwyder.

Helpende Hand

Die tydperk tussen 2015 en 2019 was vir Helpende Hand uitdagend, geseënd en vol genade.

Die groei in die Studiefondssentrum waar studente gehelp word om te studeer, is 'n riem onder die hart. In 2015 is R25 miljoen tussen behoewende studente verdeel en in 2019 is die beskikbare bedrag al ongeveer R41 miljoen.

Die droom was om teen 2020 'n studiefonds van R160 miljoen op te bou en ons is dankbaar om te kan sê dat die fonds tans R185 miljoen sterk staan.  Sedert 2015 is 'n bedrag van R145,1 miljoen aan studente uitbetaal.

In 2015 kon Helpende Hand meld dat hul voedingsprojekte 4 000 kleuters daagliks versorg. In 2019 is hierdie getal nou 8 000 en hulle mik na 12 000 in die volgende paar jaar.

Helpende Hand spog tans met 150 takke in 10 streke wat daarop gefokus is om die funksionering van hul aktiwiteite so doelgerig en vaartbelyn as moontlik te maak. Voorts het die instelling onlangs sy 50ste Ons Winkel geopen, ‘n projek wat die sukses van die instelling verseker. 

Sol-Tech

Sol-Tech het reeds in 2013 van sy vorige kampus in Booysens na die Kirkney-kampus geskuif om meer kapasiteit vir die toename in studentegetalle te skep.

Dit was egter altyd duidelik dat 'n nuwe, eie, groot kampus die volgende groot tree vir Sol-Tech sou wees om getalle drasties te verhoog. Daar is dus 'n doelwit gestel om teen 2020 hierdie droom te verwesenlik.

Op 13 September vanjaar is die eerste sooi van hierdie nuwe kampus gespit met die vooruitsig om die kampus teen Januarie 2021 in gebruik te neem. Ter voorbereiding vir die nuwe kampus is daar die afgelope vyf jaar op gehalte en uitnemendheid in alle fasette gefokus.

Sol-Tech is dankbaar om te kan sê dat hulle vanjaar hul besettingsteiken wat in 2015 gestel is, oorskry het en vroeg vanjaar 'n besetting van meer as 100% gehad het. Sowat 1 200 studente word tans deur Sol-Tech opgelei.

Akademia

Akademia het ook baie goeie vordering getoon sedert die Toekomsberaad in 2015. Akademia was toe slegs vier jaar in bedryf en het skaars haar voete gevind in die hoëronderwyswêreld.

In 2019, vier jaar later, is dit goed om te sien op hoeveel terreine die instelling goeie groei getoon het.

Akademia spog tans met 1 050 studente landwyd wat in sowat 13 sentrums klas ontvang. Voorts het die instelling reeds vyf geakkrediteerde grade en een nagraadse kwalifikasie. Sowat tien verdere kwalifikasies het reeds akkreditasie ontvang. 

Maroela Media

In 2013 was die fokus vir Maroela Media om gevestig te raak as 'n internet-nuusdiens wat nuus en inligting oor 'n groot verskeidenheid kwessies in die Afrikaanse leefwêreld publiseer. Hierdie doelwit is nie net behaal nie, maar absoluut oorskry.

Die beplanning was om teen 2015 die kerf van 1 miljoen lesers verby te steek en uiteindelik, binne vyf jaar, 2 miljoen lesers per maand te hê. Die doelwit van 2 miljoen lesers per maand is bereik in Mei 2019, en Maroela se lesersgetalle groei elke maand steeds.

Maroela Media het ook aangedui dat verskeie projekte ter wille van Afrikaans in die volgende vyf jaar aangepak sal word, waaronder die Afrikaanse Wikipedia. Teen die einde van Augustus 2019 was daar, danksy Maroela Media en ander Afrikaanse instansies en individue, reeds 84 000 Afrikaanse artikels op Wikipedia, in vergelyking met die sowat 37 000 artikels wat teen 2013 beskikbaar was.

Maroela skep ook steeds op 'n daaglikse basis inhoud vir radiostasies, en het 'n hele paar vennote wat in Maroela se ateljees produksies opneem wat ook as Maroela se aanbod aan radiostasies gestuur word.

Ons kan met trots terugkyk na die vooruitgang van die Solidariteit Beweging in sy pogings vir ‘n vry, veilige en voorspoedige Suid-Afrika. Ons bou om te bly.

 

  •  
  •  
  •  
Redakteursbrief

Met die Solidariteit Beweging se Toekomsberaad op 10 Oktober vanjaar het Solidariteit die laaste deel van 2019 met ’n groot hoogtepunt aangepak. Dit was ’n heerlike geleentheid waartydens die energie en opgewondenheid tasbaar was onder die groep mense wat saam groot dinge vir ons toekoms help beplan. Tydens die vorige Toekomsberaad, wat in 2015 gehou […]


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close