Solidarteit Wêreld
2017 – Uitgawe 6 Spreekbuys
Tyd vir groter dink en doen
Deur Michelle | 16 November 2017

Skeppende energie weer nodig

Navorsers by ’n Amerikaanse universiteit wou op ’n keer vasstel wat die invloed van denkbeeldige grense op diere is. Hulle het ’n groot vistenk vol visse geneem en ’n glasafskorting in die middel ingesit. Dit het die vistenk in twee verdeel, en die vissies kon nou net in hul helfte swem. Ná ’n maand het die navorsers die afskorting uitgehaal om te kyk wat gebeur. Die antwoord was gou duidelik: Elke helfte se vissies het steeds net in hulle kant geswem. Hulle het nie die (nou) denkbeeldige grens oorgesteek nie. Eers ná dae het een vissie tot digby die plek geswem waar die glasplaat voorheen was, versigtig getoets of die grens nog daar was, en dit toe huiwerig oorgesteek. Daarna het die ander vissies dit ook versigtig probeer, totdat almal naderhand agtergekom het dat die grense net in hul gedagtes was.

Mense is ook só: Ons denke en dade word bepaal en selfs beperk deur denkbeeldige grense wat net in ons koppe bestaan. Almal van ons het al die een of ander verbeelde “grens” in ons lewens oorkom om iets te bereik wat ons self of ander eers onmoontlik geag het. Daarom het ’n wyse mens gesê of jy glo jy kan iets doen, en of jy glo jy kan nié: in albei gevalle is jy reg!

Die geskiedenis is die verhaal van mense wat hulle nie deur die skynbaar onmoontlike laat stuit het nie, maar grense verskuif het deur verder te dink en te doen. Dit is sulke mense wat vir vooruitgang verantwoordelik is. Hulle is nie bang vir nuwe dinge nie, hulle is bang vir die oues. Hulle het hulle nie laat stuit deur denkbeeldige óf regte struikelblokke nie, maar dit oorbrug deur nuut te dink en volhardend te doen.

Voorouers

Ons voorouers moes en het talle sulke grense oorkom. Hulle het die voortou geneem met die opbou van ’n onontwikkelde gebied tot ’n moderne land met die voorste infrastruktuur in Afrika. Dit is ’n ongeëwenaarde prestasie wat nie weggepraat kan word deur al die beskuldigings wat teen hulle geopper word nie. Dit maak ons voorouers nie supermense nie. Hulle was gewone mense wat in ongewone omstandighede buitengewone prestasies behaal het. Vandag word net oor die foute wat hulle gemaak het gepraat, maar hulle het skynbaar onoorkombare grense oorbrug waarteen baie ander mense vasgekyk het.

Paul Kruger-geslag

Die “Paul Kruger-geslag” het ná die Groot Trek twee moderne Republieke gestig met grondwette, demokratiese stelsels, en infrastruktuur soos spoorlyne, elektrisiteit en munisipale dienste. Natuurlik was dit nie volmaak nie, maar dit bly ’n prestasie in ’n tyd wat baie Westerse lande nog deur monargieë regeer is.

De la Rey-geslag

Ná die Anglo-Boereoorlog het die “De la Rey-geslag” die land weer opgebou ná die skade wat deur die verskroeideaardebeleid aangerig is. Banke, koerante, welsynsorganisasies, sakeondernemings, stede en ’n moderne ekonomie is opgebou. Hulle het pres. Paul Kruger se wenresep hiervoor gebruik: neem die beste uit die verlede en bou die toekoms daarmee. Vanselfsprekend het hulle dit nie alleen gedoen nie, maar hulle het denkbeeldige en selfopgelegde grense oorgesteek wat groot dele van die wêreld teruggehou het. Baie van ons land se huidige probleme is dat die Kruger-resep omgedraai word. Dit lyk of baie eerder die slegste uit die verlede wil neem om die toekoms daarmee te probeer verongeluk. Wonderwerkers is gewone mense wat roepingsgetrou bou aan wat terugskouend as wonderwerke gesien kan word.

Skeppend

Daar is twee soorte mense, net soos die visse in die visbak. Die een groep sien net struikelblokke en beskou dit as onoorkombare grense. Daarteenoor sien die ander groep die struikelblokke, maar gebruik dit as boublokke om oplossings te bou. Onsuksesvolle groepe dink hulle staan magteloos voor skynbaar onoorkombare grense. Hulle dink die geskiedenis maak mense, en ’n mens kan niks daaraan doen nie. Suksesvolle groepe glo dat mense die geskiedenis maak – dat mense wél oplossings vir uitdagings kan ontwikkel. Hulle glo aan skeppende vernuwing gegrond op beproefde waardes.

Toekoms

23 jaar ná 1994 staan die land voor skynbaar onoorkombare uitdagings. Dit is so dat daar min aan sommige probleme gedoen kan word. Onbillike rassewette gaan byvoorbeeld nie oornag verdwyn nie. Maar die toekoms is nie verby nie; daar is nog baie wat ons daaraan kan doen. Ons voorouers het nie in die as van die verskroeide aarde bly sit nie. Hulle het opgestaan en weer begin bou. Hulle het ook nie landuit getrek nie, maar saamgetrek en oplossings geskep.

Baie mense kyk met reg ontsteld na die geweldsmisdaad, verval, wanbestuur en korrupsie om ons. Talle sien nie meer ’n toekoms vir hul kinders nie. Solidariteit ontken nie die probleme nie, en laat ook nie ons toekoms aan politici oor nie. Ons bou saam aan oplossings, of dit nou ’n tegniese kollege, buurtwagte, ’n universiteit, of werkgeleenthede is.

Natuurlik besef ons hoe groot die probleme is, en weet dat blywende oplossings nóg groter sal moet wees. Ons sien egter ook die geleenthede raak wat die krisis in die land skep. Daarom is dit wonderlik om te weet dat daar reeds meer as 400 000 lede in die hele Solidariteit Beweging is wat saam help bou. Baie dankie aan elke lid en ondersteuner daarvoor!

Hierdie jaar was weer ’n besonderse boujaar waarop daar volgende jaar vinnig verder gebou kan word. Ons wil tog almal aan ons kinders ’n beter land nalaat as wat ons gekry het. Daarom het ek baie hoop om die bouwerk verder voort te sit. Want die verlede gaan nie terugkom nie, die hede gaan nie verdwyn nie, en die toekoms gaan nie vanself gebeur nie!

  • 3
  •  
  •  
  •  
Redakteursbrief

So staan nog ’n jaar einde se kant toe. Hoewel die laaste deel van 2018 steeds volgepak is met dinge om af te handel, kan ons reeds met tevredenheid terugkyk op die jaar se groei en sukses tot op hede. Hierdie is die 100ste uitgawe van Solidariteit Tydskrif en bied dus die perfekte geleentheid vir […]


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close