Solidarteit Wêreld
2020 – Uitgawe 3
Uit! Ons laat ons nie inperk nie
Deur Michelle | 12 Julie 2020

Foto krediet:

’n Nuwe virus het die wêreld getref. Dit was totaal onbekend en onsekerheid en histerie het die wêreld oorval, eers in China, toe in Italië en daarna New York. Foto’s van oorvol hospitale en doodskiste is blitsig deur sosiale media die wêreld ingestuur. Op 4 Maart word die eerste geval in Suid-Afrika aangemeld. Pres. Cyril Ramaphosa kondig eers ’n ramptoestand en toe ’n landwye inperking van 21 dae aan. Dit was nie lekker nie, maar mense het begrip gehad. Ons moet tog die onbekende virus beveg. Niemand twyfel daaraan dat die virus ernstig opgeneem moet word nie. Die geveg teen die virus is amper soos ’n oorlog. Dalk, omdat dit ’n oorlog is, is ’n bevelsraad dus nodig.

Die bevelsraad begin toe regulasies afkondig en die situasie raak meer ongemaklik in ’n land wat nou deur regulasies en bevele gereguleer word. Die 21 dae gaan verby, maar die regulasies staan steeds. Die fokus van die oorlog skuif – van die virus na die mense. Video’s word op sosiale media gepubliseer van mense wat soos paddas moet spring omdat die weermag so sê. ’n Man word ’n boete van R5 000 opgelê en hy kry ’n kriminele rekord omdat hy op sy sypaadjie geskoffel het. Duisende mense word gearresteer en gekriminaliseer. Dit raak al hoe vreemder. Jy mag nie met jou hond om die blok stap nie, word beveel. Rokers mag nie rook nie. As jy wil beweeg, moet jy ’n permit hê. Nou word die virus nie meer beveg nie, maar die ekonomie word beveg.

Die bevelsraad besluit sentraal watter ondernemings mag oop en watter moet gesluit bly. Die regulasies word tot groot nadeel van die ekonomie verder uitgerek. Ons inperkings word van die ergste ter wêreld. Die ANC meen dis nou ’n goeie kans om ’n virus te gebruik om die ekonomie en historiese ongelykheid reg te stel. Ondernemings mag nie self voldoen aan gesondheidsregulasies en oopmaak nie; die bevelsraad moet daaroor besluit. Swaarkry begin intree. Mense het eenvoudig nie meer kos nie en verhonger. Duisende wat nog nooit vantevore kospakkies benodig het nie, benodig dit nou.

Die bevelsraad besluit hulle wil nou die uitdeel van kos reguleer. Húlle sal besluit wie moet eet. Hulporganisasies word gekeer om te help. Solidariteit Helpende Hand sê: Nee, julle gaan ons nie keer nie. Ons breek uit, ons gaan ons nie laat inperk nie. Miljoene rande se kos word aan duisende mense versprei. Meer as R16 miljoen word vir die Solidariteit Beweging se Krisisfonds ingesamel.

Virus ken nie kleur nie

Ramaphosa kondig ’n Covid-19-hulppakket van R500 miljard aan. ’n Miljard vir jou en ’n miljard vir jou; daar is miljarde vir almal, maar nie vir wit mense nie. Die bevelsraad het besluit dat ras as maatstaf sal geld vir die toekenning van hulp. Die virus ken nie kleur nie, maar die bevelsraad ken kleur. Die regulasies tref almal, maar net sekeres word gehelp.

Solidariteit en AfriForum pak die regering in die hof en kla die regering by die Verenigde Nasies aan. Ons sê: Uit! Ons gaan nie by die regering se rasse-ideologie berus nie. Maar meer as dit, ons gaan ook nie afhanklik van die regering wees nie.

AfriForum brei sy sakenetwerk uit. Die antwoord lê in by-mekaar-wees en in saamstaan. As die regering ons uitskop, skop die gemeenskap in, maar ons gaan ons nie laat beperk nie. Solidariteit brei sy werksoekplatform, Werknet, uit want ons gaan mekaar in diens neem. Solidariteit se netwerk van beroepsgildes word uitgebrei, want ons krag is in mekaar gesetel.

Onderwysoplossings deins nie terug

Die bevelsraad het ook die skole gesluit. Aanvanklik het ons dit verstaan, maar internasionale navorsing het begin toon dat oordrag van die virus aan kinders en oordrag van kinders aan volwassenes baie laag is. Die kinders is by die huis in plaas van in die skool. Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) sê: Ons gaan ons nie laat inperk nie. China het dalk ’n hospitaal in drie dae gebou, maar die SOS het binne enkele dae ’n matriekskool opgerig en byna 7 000 matrieks skryf in. Meer as 115 000 leerlinge van alle grade registreer by Wolkskool. By dié skool kry kinders uitnemende onderwys.

Die universiteite is gesluit, maar danksy Akademia se hoëtegnologiestelsel gaan ons studente voort met wêreldklasonderrig. Hulle laat hulle nie deur ’n inperking beperk nie. Heel gepas kondig Akademia in dié tyd aan dat daar in 2021 ook met ’n kampusmodel begin sal word. Hulle kyk verby die krisis na wat aan die anderkant lê. Dieselfde geld by Sol-Tech. Sol-Tech gaan voort met klasse en sy nuwe kampus gaan ook in 2021 voltooi wees.

Onverskrokke teen virus en vír werk

Goeie nuus – die inperking is nou op vlak 4, het die bevelsraad besluit. Hierdie keer word beveel watter klere ons mag dra. O nee, nie plakkies nie. Daardie T-hemp is uit en julle daar in Mbombela (Nelspruit) mag nie kortbroeke dra nie. Die bevelsraad begin die mag geniet. Dis hemels – sentrale beplanning en regulering. Julle mag oop en julle mag nie oop nie, want ons sê so.

Solidariteit sê: Ons breek uit, ons gaan ons nie laat inperk nie. Solidariteit begin ’n reg-vir-werk-veldtog. Ondernemings wat gesond kan oopmaak, moet oop. Dit gaan nie oor ’n keuse tússen gesondheid en werk nie, maar oor ’n keuse vír gesonde werk. Ons staan onverskrokke teen die virus, maar ook onverskrokke vir werk en die ekonomie.

Volgens Solidariteit berus die onus om aan gesondheidsmaatreëls te voldoen by die maatskappy en nie by die bevelsraad nie. Lede van Solidariteit meld uit protes by ArcelorMittal aan om te werk toe dit nog gesluit was.

Vlak 3 van die inperking breek aan, maar die bevelsraad kan steeds besluit – rokers mag nie rook nie en haarkappers mag nie hare sny nie.

Skole moet gesond heropen

Uiteindelik het die bevelsraad besluit dat skole mag heropen. Toe mag hulle weer nie open nie. Toe mag hulle uiteindelik wel oop, maar toe mag hulle weer nie open tensy almal oop is nie.

Solidariteit help skole om gesond te heropen. Ons mag nie ons kinders inperk nie. Gesonde leer is die antwoord. Solidariteit staan beslis nie onverskillig teenoor die virus nie, maar is ook nie onverskillig teenoor onderwys nie. Een onderwysvakbond gaan selfs hof toe om die skole weer toe te maak, maar Solidariteit tree toe en die saak word uitgegooi.

Ons laat ons nie inperk nie

AfriForum sleep die regering hof toe oor isolasiefasiliteite en -regulasies en wen. AfriSake gee die regering in die hof pak oor permitstelsels. Solidariteit en die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum gaan hof toe omdat privaat kleuterskole nie mag oopmaak nie. Nog hofsake volg oor regulasies, die haarkappers, oor rook en meer.

Ons mense is nie gemaak om ingeperk te word nie – nie in die huidige situasie nie en nie ooit nie. Ons is nie lojale onderdane nie, maar aktiewe burgers. Een ding het Covid-19 ons geleer: Die regering wil ons inperk – nie oor die krisis nie, maar omdat hulle wil. Die tweede ding wat weer bevestig is, is dat ons ons nie gaan laat inperk nie – nie oor die krisis nie, maar omdat ons nie wil nie. Ons sê: Uit! Ons sal ons nie laat inperk nie.

  • 1
  •  
  •  
Redakteursbrief

Met die Covid-19-inperking steeds volstoom aan die gang, bring ons vir jou nóg ’n inperkingsuitgawe op jou rekenaarskerm, hierdie keer met gemak saamgestel asof dit al jare lank so gedoen word. Almal het die nuwe manier van doen se ritme nou reeds bemeester, met sommige wat intussen terug is by die werk terwyl ander nog […]


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close