Solidarteit Wêreld
2011 - Uitgawe 2 Histories Gesproke
Uitgawe 2 2011 – Kasteel die Goeie Hoop se ryk geskiedenis
Deur Michelle | 17 Mei 2011

Foto krediet:

Deur Magdaleen Kleynhans

Stigtingsdag word elke jaar op 6 April gevier. Waar is ’n beter plek as juis die Kasteel die Goeie Hoop om dié dag deur te bring? Die Kasteel is die oudste gebou in Suid-Afrika en werklik ’n besonderse plek omte besoek.

Het jy al deur ’n Europese dorpie geloop en opgekyk na die datums wat op die geuwels pryk? ’n Mens kan nie glo dat sommige van dié geboue al so lank staan nie. Sommige van hulle is al amper ’n millennium oud en staan al krom van jare se wind en weer.

Die Kasteel die Goeie Hoop is nog nie só oud nie, maar hierdie gebou het net so ’n ryk geskiedenis, indien nie ryker nie. Vir ons as Suid-Afrikaners, maar veral Afrikaners, het dit ’n diep betekenis. Aanvanklik het Jan van Riebeeck, stigter van die halfwegpos aan die Kaap die Goeie Hoop, in 1652 ’n fort laat bou. Hierdie vesting was van hout en klei.

Twee jaar later het Jan van Riebeeck ’n gelofte afgelê:

Aangesien dit vandag twee jaar gelede is dat ons met God’s hulp en leiding met die skepe Drommedaris, Reiger en Goede Hoop veilig hier geland het, om hierdie fort en kolonie in opdrag van ons here en meesters op te bou, en ons gemerk het dat God die Here al die sake tot vandag toe met baie seëninge, goed en na wens laat verloop het, het ons besluit, en ook vanjaar daarmee begin, om hierdie dag, 6 April, tot God’s eer

met danksegging te vier, en dit vir altyd as ’n dank- en biddag in te stel, sodat ons nakomelinge nooit die weldade wat God aan ons bewys het, vergeet nie, maar dit altyd in gedagte mag hou.

Ná hernieude gerugte van oorlog tussen Brittanje en Nederland, word daar gevrees dat

die Britte die Kaap kan aanval. Dit is 12 jaar later en Zacharias Wagenaer word beveel om ’n vyfpunt-klipkasteel te bou. In Augustus 1665 word die bouplek deur kommissaris Isbrand Goske (goewerneur van 1672 tot 1676) gekies: ’n stuk gelyk grond suidoos van Van Riebeeck se fort. Vanaf 1666 tot 1679 word daar aan die kasteel gebou. Talle skeepsvragte houtwerk, stene en teëls word uit Nederland aangestuur en groot rotse, sommige so groot soos 1,5 m3, word uit Tafelberg gegrawe. Skulpe vir sementkalk word van Robbeneiland verkry en boomstompe vanaf Houtbaai.

 

Op 26 April 1679 word die vyf bastions vernoemna die hooftitels van die Prins van Oranje. Die westelike bastion is Leerdam genoem, en van daar kloksgewys Buuren, Catzenellnbogen, Nassau en Oranje. Die jaar daarna betrek Simon van der Stel die nuwe goewerneurswoning in die kasteel.

 

Lewe in en om die Kasteel die Goeie Hoop was baie interessant. Die oorspronklike klok, wat steeds bo die hoofingang in die kloktoring geleë is en die oudste klok in Suid-Afrika is, het vir die gemeenskap die uur van die dag aangekondig en gesorg dat burgerlikes betyds gewaarsku word in geval van bedreiging. Hierdie klok, wat 300 kg weeg, is in Amsterdam deur Claude Fremy gegiet.

 

Binne die mure van die kasteel was daar ‘n kerk, ’n bakkery, werkwinkels, winkels, selle en leefkwartiere.Vanaf die katbalkon is belangrike aankondigings gemaak. As jy ooit die geleentheid kry om tussen daardie mure te gaan stap, verbeel jou jy ruik die lekker gebak; hoor die getimmer in die werkwinkel. Oral om jou is mense besig met hul dagtakies en hier en daar staan ’n klompie mense en gesels oor die nuwe voorraad wat die skepe ingebring het. Iewers maak iemand mooi musiek. En dit alles gebeur net hier, aan die voet van die beeldskone Tafelberg, aan die suidpunt van Afrika.

 

Spits jou ore vir geskiedkundige reis van momente, monumente

Indien jy hunker na jou Afrikaanse wortels en graag meer wil weet van die belangrike mense en gebeurtenisse wat die hedendaagse Afrikaner vooraf gegaan het, luister gerus elke Vrydag om 13:00 na Momente en monumente gedurende die omnibusprogram In Solidariteit op Solidariteit se eie radiostasie. Die program neem luisteraars elke week op ’n geskiedkundige reis deur die Afrikaner se verlede en gee hulle die geleentheid om die land se ryk geskiedenis op ’n nuwe manier te ontdek.

• Besoek www.solidariteitradio.co.za en klik op In Solidariteit. Stuur jou voorstelle en kommentaar na radio@solidariteit.co.za.

Redakteursbrief

Deur Cilleste van Dyk Ek skryf vandag die derde opeenvolgende brief vir julle vanuit my woonkamer-kantoor, maar tog voel dit vir my soos ’n keerpunt. Ons is uiteindelik op vlak 2 van die inperking en dis byna asof daar weer ’n mate van normaliteit terugkeer. Die klein bietjie meer vryheid het my laat besef dat […]


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close