Solidarteit Wêreld
2015 – Uitgawe 4 Spreekbuys
Van krisis in 2015 na oplossings in 2020
Deur Michelle | 03 Augustus 2015

Die Solidariteit Beweging het tydens ons Krisisberaad in Mei vanjaar ‘n ontleding van die grootste knelpunte in die land gedoen. Tydens en ná die beraad is duisende voorstelle en idees van regoor die land ontvang. Hierdie insette word nou verder deur die taakspanne wat aangewys is, in aksieplanne omskep. Dié planne sal by die opvolgberaad op 10 Oktober voorgelê word.

Die doel van die proses is om vanaf die opsomming en ontleding van die probleme by die Krisisberaad te beweeg na praktiese oplossings by die Oktoberberaad. Dit kan egter nie net vae planne wees wat mooi klink, maar moeilik uitgevoer kan word nie. Daarom is die doel om al die planne te omskep in meetbare vyfjaarplanne wat daadwerklik deur toegewysde organisasies uitgevoer gaan word.

Die doelwit van hierdie vyfjaarplanne is om ‘n vrye, veilige en voorspoedige toekoms vir Afrikaners en Suid-Afrika te help skep. Die rede hiervoor is dat ons toekoms bedreig word deur die toenemende staatsverval en tweedeklas burgerskap op grond van ras.

Vyfjaarplanne

Die beoogde praktiese uitkomste van die vyfjaarplan is onder meer om die volgende te verseker:

  • Burgerlike en politieke vryheid, want dit is bepalend vir werkersregte
  • Goeie werk en gelyke geleenthede vir ons lede
  • Veiligheid van ons gemeenskappe
  • Gemeenskapsfederalisme, waar ons self besluit oor sake wat ons raak
  • Markekonomie en eiendomsreg, omdat sosialisme almal gaan verarm en verdruk
  • Die verskansing van regsorde en grondwetlike demokrasie
  • Werkende stede, dorpe en openbare instellings
  • Die versekering van ‘n eerstewêreldse, Westerse leefwyse
  • Gesonde rassebetrekkinge en wedersydse erkenning en respek
  • Suksesvolle skole, universiteite en kolleges
  • Die suksesvolle sluit van nasionale skikkings met die regering oor knelpunte
  • 'n Normale geskiedenis en respek vir ons erfenisse en ons taal. 

Beplanningsproses

Daar is meer as twintig werkspanne aangestel om volstoom aan hierdie projekte te werk, sodat dit vroeg in Augustus aan ons lede voorgelê kan word vir kommentaar en insette. Daarna sal dit verder verfyn word, sodat dit op 10 Oktober by die Toekomsberaad voorgelê kan word.

Ná die beraad gaan die verskillende organisasies in die Solidariteit Beweging die planne met mag en mening in werking stel, met die hulp van byna 25 vennote en gemeenskappe landwyd. Die voordeel is dat ons nie van niks af begin nie. Ons beweging het die probleme in die land lankal sien kom, en werk reeds jare aan knelpunte soos tegniese opleiding, studiehulp vir kinders, bystand aan skole, gelykheid in die werkplek, die bekamping van munisipale verval en die bevordering van Afrikaans.

Die uitdaging is om hierdie planne te vergroot en te versnel, omdat die toenemende staatsverval dit nodig maak om nog groter te dink en te doen. Tweedens raak dit al duideliker dat die regering al meer outokraties en sosialisties begin optree, en inmeng in die regspraak, vrye media, privaatsektor, skole en universiteite, en burgerlike samelewing. Ons word al meer soos politieke minderjariges behandel wat oor alles voorgeskryf word en nie ‘n sê het oor sake wat ons raak en die vermorsing van ons belastinggeld nie.

Verantwoordelikheid

Die regering neem nie verantwoordelikheid vir die verval in die land nie en blameer Afrikaners, apartheid en die verlede vir hul eie swak regering. Daarom kan ons nie bloot stilbly, agteroorsit en ons belasting oorbetaal nie. Ons toekoms is te belangrik om aan die ANC oor te laat. Ons doel is egter nie om in ‘n politieke konflik met die regering betrokke te raak nie. Ons wil bloot sorg dat daar vir ons gemeenskap ‘n toekoms is waarin ons ook vry, veilig en voorspoedig kan wees. Dit is ons reg waarvoor ons vir niemand toestemming hoef te vra nie.

Daarom is dit nie nodig om swartgallig of moedeloos te wees oor wat in die land aangaan nie. Moenie fokus op die probleme nie, maar dink en werk aan oplossings daarvoor. Net soos ons voorouers nie toegelaat het dat die krisisse van vroeëre eras hulle onderkry nie, gaan ons ook nie. Ons wil, mag, kan en sal verantwoordelikheid neem en self ‘n toekoms skep. Ons voorouers het dit gedoen, en ons gaan ook!

  •  
  •  
  •  
Redakteursbrief

Dit voel vir my of ’n mens hierdie tyd van die jaar ’n ekstra hupstoot nodig het om uit die bed uit op te staan en jou kragte bymekaar te skraap om die dag aan te pak. Dit het nie net te doen met die koue daarbuite nie: Ek merk op dat almal om my […]


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close