Solidarteit Wêreld
2017 – Uitgawe 5 Nuuswaardig
Van Kuruman tot Cootamundra
Deur Michelle | 29 September 2017

Die lied van 'n volk in ‘verstrooiing’ 

Deur Dr. Dirk Hermann

Ons land in die pragtige stad Sydney. Ons beleef die Sydney-operahuis, die Sydney-hawebrug, watertaxi’s en talle ander dinge wat nie aan ons in Suid-Afrika bekend is nie.

Daar is tog dinge wat bekend is, soos die Britse argitektuur wat uit baie dieselfde tydperk dateer as die argitektuur van ons Suid-Afrikaanse stede. Die mense lyk nogal soos ons. Britse kolonialisme het kennelik 'n stempel op ons almal afgedruk.

Nog bekender is die musiek – Afrikaanse musiek – wat ons hoor. My skoonsus, Yolanda, het ons by die lughawe kom oplaai. Sy en haar man het so 12 jaar gelede na Australië geëmigreer. Haar man, Jacques, is 'n mediese dokter en hulle woon in die dorpie Cootamundra in Nieu-Suid-Wallis in Australië. In haar motor speel Afrikaanse musiek.

Terwyl ek so in die vreemde na die Afrikaanse musiek luister, betrap ek my dat ek in my kop “En hoor jy die magtige dreuning” neurie, maar my kop verander die woorde wat daarop volg na “Die lied van 'n volk in verstrooiing, wat harte laat sidder en beef.”

Hierdie harte is verlangharte, nostalgieharte, die harte van Skype-oumas wat kleinkinders mis, verskeurde harte, maar harte wat steeds Afrikaanse harte is.

Jacques het gevra ons moet speserye en biltong saambring, en só ry ons 'n draai om dit by die winkel Boerewors en Biltong te gaan kry. Boerewors en Biltong is so 'n plekkie buite Sydney waarheen Afrikaners gaan om tuis te voel. Daar word jy in Afrikaans bedien; daar is biltong, boerewors, Mrs H.S. Ball’s-blatjang en talle ander produkte wat boeretroos bring. Die eienaar gesels land en sand. Hy vertel van die gom wat Afrikaners in die buiteland saambind, van Afrikaanse kunstenaars wat optredes in die buiteland kom hou en van netwerke wat in stand gehou word. In die motor loer ek na die Facebook-profiele van vriende in Australië. Hulle hou van Afrikaanse kunstenaars, is ingeskakel by Afrikaanse groepe en ondersteun Afrikaanse rugbyspanne.

In Cootamundra aangekom, laai ons ons bagasie af. Ons word verwelkom deur die klanke van Bok Radio wat oor die internet in die huis speel. Die Woensdag ná ons aankoms het ek 'n radio-onderhoud met ’n stasie wat op Woensdagaande tussen 20:00 en 21:00 in Afrikaans uitsaai.

Ons verlang na Jacques, Yolanda, Zach en Mariné en hulle verlang na ons. Hulle verlang egter nie net na ons nie; hulle is nog ons.

Dit bring ons by die vraag oor die verhouding tussen Afrikaners in die buiteland en Afrikaners in Suid-Afrika. Moet Afrikaners verstrooi wees, of kan Afrikaners oor die wêreld heen steeds aan mekaar gebind wees? Is emigrante verraaiers, of kan hulle ambassadeurs wees? Trek Afrikaners oor en weg van Afrikanergrense af, of word Afrikanergrense globaal? Vir Afrikaners is dit nuwe vrae – vrae wat ons dikwels vermy.

Vir die Joodse gemeenskap sal die feit dat ons hierdie vrae vra, vreemd wees. Die Jode is globaal aan mekaar gebonde en is ambassadeurs vir mekaar. Hulle val binne die Joodse grense wat groter is as dié van die staat Israel, maar hulle is almal gebonde aan die Jode in Israel en help bou aan die Joodse enjinkamer wat Israel is.

Steven Silbiger skryf in sy boek The Jewish Phenomenon dat die invloed van geloof, etnisiteit en 'n gedeelde geskiedenis in die Joodse sukses wêreldwyd totaal onderskat word. Hy skryf dat Jode die wêreld oor deur hul tuisland Israel, hul geloof, hul tradisie en hul taal aan mekaar gebonde is. Hy sê die benaming “Jode” dui op meer as bloot geloof. Hy beskryf die Jode eerder as 'n “tribe.”

Volgens Silbiger isoleer dit nie die Jode nie, maar stel dit hulle juis in staat om in die groter gemeenskap te kan presteer. Hy voer aan dat hoe verder jy van die bron van jou tradisie is, hoe kleiner raak jou bydrae wat jy in 'n nuwe bestemming, soos Amerika, kan maak.

Die Jode ondersteun mekaar oor die wêreld heen, maar ondersteun diegene in Israel veral. Hulle help om hulp- en gemeenskapsorganisasies van die grond af te bring. Hulle stig fondse om die selfhelpdoelwitte van hul gemeenskap oor die langtermyn te bereik. Hul doel is om hul “tribe” so ver as moontlik onafhanklik te maak van die hulp van ander groepe. Die soort hulp wat hulle aan hul gemeenskap gee, het ten doel om die ontvanger van daardie hulp selfstandig te maak.

Die hulp wat hulle verleen, stop egter nie by hul “tribe” nie. Hulle neem ook aktief deel aan plaaslike politiek en is betrokke by groter gemeenskapkwessies. Hulle gebruik hul kulturele kapitaal en belê dit ook in die groter wêreld waarbinne hulle leef.

Ek het iets daarvan by Jacques en Yolanda beleef. Hulle leef nog uit hul kulturele kapitaal. Daar is steeds 'n verbintenis aan die Afrikaner-“tribe”. Jacques dra maandeliks by tot 'n projek vir bejaardes van Solidariteit Helpende Hand en hy oorweeg dit om saam met 'n paar ander Afrikaanse dokters 'n studiefonds vir Afrikaanse studente te begin.

Ons onderskat die rol wat Afrikanertradisie, -geloof, -etiek en die geborgenheid van 'n gedeelde geskiedenis in die sukses van Afrikaners in die buiteland speel.

Daar loop 'n draad met baie kulturele kapitaal wat Afrikaners dwarsoor die wêreld aan mekaar bind en dié draad moet ons erken en ontgin.

Die Afrikaner-“tribe” is dus groter as net diegene wat in Suid-Afrika woon. As ons die krag daarvan begin ontdek, kan honderde duisende Afrikaners oor die wêreld heen belê om, soos Jacques, hul “tribe” selfstandig en suksesvol te maak. Hulle kan help om kulturele enjins soos Afrikaanse universiteite, gemeenskapsorganisasies, hulporganisasies en vele meer te bou.

In ruil daarvoor verskaf die “tribe” kulturele energie aan sy lede om suksesvol in hul gemeenskap te wees, of dit nou in Kuruman of Cootamundra is.

Die “tribe” in die land help ook om 'n veilige omgewing vir familie, oupas, oumas en vriende van lede van die “tribe” wat in die buiteland woon, in Suid-Afrika te skep.

Verstrooiing word dan gebondenheid aan mekaar wat baie sterker as bloot Skype-kontak is.

  • Dirk Hermann is bestuurshoof van Solidariteit.

 

 

  •  
  •  
  •  
  •  
Redakteursbrief

So staan nog ’n jaar einde se kant toe. Hoewel die laaste deel van 2018 steeds volgepak is met dinge om af te handel, kan ons reeds met tevredenheid terugkyk op die jaar se groei en sukses tot op hede. Hierdie is die 100ste uitgawe van Solidariteit Tydskrif en bied dus die perfekte geleentheid vir […]


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close