Solidarteit Wêreld
2018 – Uitgawe 6
Van vakbond tot dreunende Beweging
Deur Michelle | 08 November 2018

Jou werk is ons werk. Dit was so, dit is so en dit sal altyd so wees. Met elke een van die afgelope honderd uitgawes van Solidariteit Tydskrif was dié slagspreuk die kern van die vakbond Solidariteit se missie en visie. En vandag is die vakbond se passie en droom vir die land groter as ooit, skryf MIA SLABBERT.

 

“Die werkplek is die barometer van die land. Dié wat die werkplek verstaan, verstaan die land,” skryf dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, in die boek Basta! Vat jou goed en bou. Solidariteit verstaan nog altyd die werkplek van Suid-Afrika. Oor die afgelope honderd uitgawes van Solidariteit Tydskrif, dus 17 jaar, het die hart van die Mynwerkersunie in 'n mate gegroei tot die hart van die land – 'n hart wat klop sodat almal 'n vry, veilige en voorspoedige toekoms in Suid-Afrika kan hê.

Die Solidariteit van vandag het reeds op 22 Junie 1902 ontstaan toe die Transvaal Miners’ Association gestig is. Die vakbond Solidariteit het in 2012 sy 110de bestaansjaar gevier. Solidariteit het dus 110 jaar ondervinding in Suid-Afrika se arbeidsmark.

Die vakbond het in sy 110-jarige bestaan vier groot veranderings ondergaan. Baie Suid-Afrikaners sal meer bekend wees met die Mynwerkersunie, oftewel die MWU. In 1913 is die Transvaal Miners’ Association se naam na die MWU verander. In 2001 is die MWU na MWU-Solidariteit verander en sedert 2002 staan die vakbond net as Solidariteit bekend.

Solidariteit het histories ‘n noue verbintenis met die Afrikaner-gemeenskap en het steeds so ‘n verbintenis. Afrikaans is een van Suid-Afrika se belangrike landstale – dit is die taal wat miljoene Suid-Afrikaners na aan die hart lê. Solidariteit was nog altyd van mening dat dit belangrik is om die sprekers van Afrikaans te beskerm, as ons Afrikaans wil beskerm. Dít doen ons veral goed in die werkplek en in die howe.

Solidariteit bied tans ’n betroubare diens aan nagenoeg 140 000 lede in alle beroepsvelde, kollektief en professioneel, en het die passie en kennis om na die belange van sy lede om te sien en te verseker dat hul regte in die werkplek beskerm word. Die vakbond het meer as 20 kantore landwyd en lede word deur meer as 300 personeellede en 1 275 vakbondverteenwoordigers in duisende maatskappye bedien. Solidariteit maak seker dat sy lede die nodige bystand kry om hul werk en dus hul inkomste te beskerm.

Solidariteit se regsdepartement is nie net die grootste regsdepartement van alle Suid-Afrikaanse vakbonde nie, maar tel ook onder die grootste arbeidsregpraktyke in Suid-Afrika. Solidariteit Regsdienste behartig op enige gegewe tydstip sowat 1 400 sake namens lede (uitgesonder die aantal groot kollektiewe geskille). Die sake handel oor enigiets van ontslag, griewe en pensioengeskille tot vergoedingseise vir beroepsbeserings en -siektes.

Volgens Hermann het daar in 1994 twee groot omwentelings in Suid-Afrika plaasgevind. Die eerste was die geboorte van ‘n nuwe demokrasie en die tweede was die koms van die internet en die geboorte van die inligtingsrevolusie. Die politieke omwenteling het talle instellings van die vorige era vernietig. Die inligtingsrevolusie het ook talle instellings van die ou industriële revolusie vernietig.

“Een instelling van die ou industriële revolusie was vakbonde. Solidariteit het vinnig besef die herskikking van die wêreld van werk gaan vakbonde, insluitend Solidariteit, vernietig,” het Hermann gesê.

Radikale aanpassings moes gemaak word om die inligtingsgolf te oorleef. “Groot maatskappye het opgebreek in kleiner dele, vaste vergoeding het plek gemaak vir veranderlike vergoeding, vaste werk het plek gemaak vir kontrakwerk, eenmalige leer het plek gemaak vir lewenslange leer. Die rol van kollektiewe bedinging het kleiner geraak. Die industriële era van massa het begin plek maak vir die inligtingsera van mikro,” het hy gesê.

Die vakbond Solidariteit het vinnig besef dat as sy lede die kennisera wil oorleef moet hulle kennis besit. “Ons begin deur Helpende Hand op kleuterskoolvlak waar ons vir sowat 5 000 kleuters per dag kos gee en duisende skooltassie per jaar aan behoeftige graadeens skenk. Op laer- en hoërskoolvlak het ons voorts verskeie programme om skole uitnemend te hou en lei ons honderde onderwysers per jaar op danksy die Skoleondersteuningsentrum. Deur ons Studiefondssentrum gee ons sowat R40 miljoen per jaar aan studiehulp vir behoeftige lede se kinders om aan tersiêre instellings te studeer,” het Hermann gesê.

Solidariteit het ’n tegniese kollege, Sol-Tech, gebou wat meer as 1 000 ambagslui per jaar oplei. Solidariteit het ’n privaat universiteit, Akademia, begin en beplan om binnekort ‘n volledige nuwe kampus met koshuise met ’n kapasiteit vir sowat 5 000 studente te bou. Solidariteit het ook ‘n nuwe maatskappy, S-Leer, gestig wat voortgesette opleiding doen.

“Die nuutste ontwikkeling van Solidariteit is om ’n netwerk van beroepsgildes te vestig. Die doel is om werknemers nie net volgens hul werkplek te organiseer nie, maar ook volgens hul werk. Elke Solidariteit-lid dra elke maand R15 per maand in ’n spesiale fonds by om met al die ontwikkelings te help,” verduidelik Hermann.

Voeg hierby die ander instellings van die Solidariteit Beweging soos AfriForum, Kraal Uitgewers, die FAK, Sakeliga, Solidariteit Finansiële Dienste, die Solidariteit Navorsingsinstituut en Maroela Media en jy kry ’n kollektiewe krag om mee rekening te hou.

“Ons lyk dalk anders, maar ons missie is dieselfde en dit is eenvoudig om mense se werk te beskerm,” het Hermann gesê.

  •  
  •  
  •  
  •  
Redakteursbrief

So staan nog ’n jaar einde se kant toe. Hoewel die laaste deel van 2018 steeds volgepak is met dinge om af te handel, kan ons reeds met tevredenheid terugkyk op die jaar se groei en sukses tot op hede. Hierdie is die 100ste uitgawe van Solidariteit Tydskrif en bied dus die perfekte geleentheid vir […]


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close