Solidarteit Wêreld
2017 – Uitgawe 6
Vat jou goed en bou!
Deur Michelle | 16 November 2017

Deur Karin Heydenrych 

Flip Buys en dr. Dirk Hermann, onderskeidelik die voorsitter en bestuurshoof van Solidariteit, is albei reeds twee dekades verbonde aan die Solidariteit Beweging. Hierdie besondere mylpaal word gevier met ’n bundel, Vat jou goed en bou! Twintig jaar van Solidariteit, wat vroeg in November bekend gestel is. Die boek bevat ’n keur van hul artikels en bydraes wat in die afgelope paar jaar verskyn het.

Die eerste afdeling is inderwaarheid ’n historiese oorsig. Buys en Hermann vertel hoe hulle betrokke geraak het by die Beweging wat in 1902 as ’n vakbond ontstaan het. Kenmerkend van daardie beginjare is die skeppende energie waarmee krisisse en struikelblokke telkens oorkom is. Daar is heel gepas ook ’n bydrae oor Melinda Janse van Rensburg, wat 28 jaar gelede as jong tikster by die destydse Mynwerkersunie begin werk het en reeds vir baie jare Flip Buys se persoonlike assistent is.

Die tweede deel van die boek is volgens verskillende hooftemas ingedeel. Gewigtige sake soos taal, identiteit, onderwys en misdaad word onder meer bespreek. Daar word verduidelik wat oikofobie, oikofilia en Zumafikasie is. ’n Interessante kykie agter die skerms word ook gegee oor Solidariteit se besoek aan die Verenigde Nasies om regstellende aksie in die werkplek onder hul aandag te bring.

Dit is reeds talle kere bewys dat die krag van die individu sterker as die mag van die staat is. Daarom doen hulle met dié boek ’n beroep op almal om verby die doodloopstrate te kyk en saam te werk vir ’n beter toekoms waar ons vry, veilig en voorspoedig kan wees.

Die boek word op ’n “koninklike” noot afgesluit met die brief wat Hermann onlangs aan prins William, Britse troonopvolger, geskryf het.

Vat jou goed en bou! is deur Kraal Uitgewers uitgegee en is beskikbaar by die uitgewer se boekwinkel en e-winkel (www.kraaluitgewers.co.za).

“By ons is daar nie moedeloosheid nie, maar energie, want ons glo as jy twyfel oor die toekoms, dan bou jy dit.” – dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.

  •  
  •  
  •  
Redakteursbrief

Hierdie uitgawe van Solidariteit Tydskrif is amper so geskiedkundig soos die laaste paar maande waarin elkeen van ons gekonfronteer is met die Covid-19-pandemie wat die wêreld basies tot stilstand gebring het. Dit sal die eerste keer wees wat die tydskrif nie gedruk word nie. Daar was tot dusver, met 107 uitgawes agter die blad, nog […]


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close