Solidarteit Wêreld
2019 – Uitgawe 3
Verkiesing 2019 | Verrassings en feite
Deur Michelle | 14 Junie 2019

Deur Connie Mulder

Dit is selde dat ’n verkiesing so min, en tegelykertyd tog so veel, verander soos die onlangse nasionale verkiesing. Aan die een kant het die twee grootste partye albei gekrimp. Vir die ANC was dit te verwagte ná dekades van wanbestuur en korrupsie, maar vir die DA was dit ’n groot skok gewees.

Sterk groei onder die ander partye skep die hoop dat ’n koalisie tog die ANC kan ontsetel, maar aan die ander kant regeer die ANC steeds alleen vir die volgende vyf jaar. Hierdie verkiesing se uitslag dui daarop dat Suid-Afrika se kiesers veel eerder op grond van identiteit, lojaliteit en persoonlikheid as op grond van beleid stem.

Wat het nie gebeur nie?

Al vier hierdie faktore, naamlik identiteit, lojaliteit, persoonlikheid en beleid, speel saam ’n rol om vir ons ’n verkiesingsuitslag te gee wat grotendeels te wagte was, as jy al die faktore in ag neem. Verskeie kommentators wat onkant betrap is met die DA se krimping en die VF+, IVP en EFF se groei, het teorieë gewaag. Daarom is dit belangrik om eers te kyk na wat nie gebeur het nie.

Teorie 1: Die DA het die rasnasionaliste afgeskud, maar darem onder die swart bevolking gegroei

Die DA het amper 460 000 stemme verloor. In ’n land waar die regering letterlik nie die krag kan aanhou nie, waar nege uit 10 munisipaliteite korrup is, het die amptelike opposisie gekrimp.

Hoewel daar groot gewag gemaak word van die DA wat kwansuis gegroei het onder die swart bevolking soos wat hy minderheidsteun afskud, vertel die syfers ’n ander storie.

In Johannesburg, Pretoria, Ekurhuleni en Kaapstad het die DA 8% of minder van die steun gekry in wyke wat die ANC gewen het. Wanneer daar meer spesifiek na Soweto, Mamelodi, Nyanga en Langa gekyk word, is die DA-steun konstant naby aan 5%. In Nyanga en Langa in Kaapstad waar die DA al 15 jaar lank regeer, is dit nader aan 3%. Hierdie dui nie op 'n deurbraak na die swart bevolking nie.

Ook het die DA nie swakker gedoen weens lae stempersentasies nie. In Johannesburg, Pretoria, Ekurhuleni en Kaapstad is die wyke wat die DA gewen het se stempersentasie telkens hoër as die metro se gemiddeld, sommige plekke tot 10% hoër.

Die DA se tradisionele minderheidskiesers het dus opgedaag om te gaan stem, maar het net vir ander partye gestem. Hierdie steun is nie ondervang met groei onder swart kiesers nie.

Teorie 2: Ten minste het die middel gehou en het die meeste Suid-Afrikaners nie na die rand toe beweeg nie

Hierdie is sekerlik fundamenteel waar. Die DA en ANC word saam deur agt uit 10 kiesers ondersteun. Tog maak die ANC ses van daardie agt kiesers uit, en het die ANC die afgelope 25 jaar ses van daardie 10 kiesers uitgemaak. Die middel wat hou, is dus net die ANC wat meer as 50% steun kry.

Suid-Afrika is ’n sosiaal-konserwatiewe land, soos wat die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge se peiling jaarliks, asook die World Values Survey, toon. Tog is die twee grootste partye albei liberaal, of dan aan die linkerkant van die spektrum. Dit impliseer dat die middel wat hou, nie op waardes of beleid gebaseer is nie maar eerder net die demografiese werklikheid van Suid-Afrika weerspieël.

Proponente van dié siening voer aan dat die populiste ten minste nie die regering oorgeneem het nie. Dit is effe kortsigtig, want die wapenskandaal, die MIV/vigs-pandemie, beurtkrag, die Marikana-slagting, Life Esidimeni, die Nkandla-skandaal, staatskaping, onteiening sonder vergoeding, en nog so ’n bietjie beurtkrag het alles gebeur met die “middel” wat gehou het. Die “middel” wat hou, bied min of geen verskansing teen radikale politieke beleid of korrupsie nie.

Wat het gebeur?

Vervolgens is die vraag dan: Wat het ná afloop van die verkiesing gebeur? 

Streekspartye, nie streekspolitici

Die meeste partye het sterk steun in sekere streke en bitter min steun in ander streke. Hierdie dui daarop dat Suid-Afrika se verkiesingsuitslag in verskeie gebiede veel eerder soos die van ’n federasie lees. Tog het ons nog verskeie politici wat veel eerder nasionaal ’n rol wil speel as om slegs streekgebonde te wees.

Die GOOD-party van Patricia de Lille het byvoorbeeld 77% van sy steun uit die Wes-Kaap, Oos-Kaap en Noord-Kaap in tradisioneel bruin gebiede gekry. Dit beteken dat drie uit vier GOOD-kiesers realisties in die ou Kaapprovinsie woon. Tog het GOOD landwyd gestaan, met feitlik geen steun in Noordwes, Mpumalanga, Limpopo en die Vrystaat nie. As GOOD nie in hierdie provinsies gestaan het nie, sou dit basies geen impak op hulle uitslag gehad het nie.

Die IVP is die toonbeeld van ’n streeksparty met ’n leier wat graag ’n nasionale rolspeler wil wees. Die IVP kon nie in ses van die nege provinsies staan nie, en sou basies geen verlies aan steun ervaar het nie.

Identiteitspolitiek

Die drie partye wat gegroei het (EFF, VF+, IVP), is almal op identiteit eerder as beleid geskoei. In Suid-Afrika is groepsidentiteit, hetsy kultureel of rasgebonde, steeds uiters belangrik. Die feit dat kiesers hulleself vereenselwig met partye wat hulle groepsidentiteite versinnebeeld, dui daarop dat Suid-Afrika aan die federeer is op grond van identiteit.

In ’n land so divers soos Suid-Afrika is dit nie ’n slegte ding dat groepe op politieke vlak verteenwoordig word nie. Daar bestaan weinig ander forums waar Suid-Afrikaanse burgers die vraagstuk oor groepsdinamika, veral op kultuurvlak, kan hanteer.

Dit beteken ook dat Suid-Afrika se verkiesings nog vir die afsienbare toekoms meer soos sensusresultate gaan lees, maar met die groei van die VF+ en die IVP dalk eerder soos taal- of kultuurresultate gaan lees, eerder as ’n eenvoudige rassesensus.

Gevolgtrekking

Identiteitspolitiek is onvermydelik in Suid-Afrika. Die eeue-oue vraagstuk van die Suid-Afrikaanse stelsel is hoe verhoudings tussen groepe bestuur gaan word. ’n Parlement wat meer die gemeenskapsfederalistiese aard van Suid-Afrika weerspieël, lei hopelik na ’n Suid-Afrika wat meer as ’n gemeenskap van gemeenskappe funksioneer – en minder as ’n eenvoudige wit-swart rasnasionalistiese staat.

Hierdie ontluikende kultuurfederasie, met ’n plek vir alle tale en groepe, bied hoop vir die toekoms en geleenthede vir die hede – geleenthede wat ons met albei hande moet aangryp.

  • Connie Mulder is hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut.
  •  
  •  
  •  
Redakteursbrief

Ek het nou die dag lekker vir ’n kollega van my gelag. Dit was ’n moeilike dag by die werk, want die sperdatum van ’n projek was op hande terwyl daar nog ’n miljoen goed gedoen moes word. Sy kan soos ’n tornado deur die kantoor waai as sy só ’n dag beleef en so […]


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close