Solidarteit Wêreld
2019 – Uitgawe 3
Verpleegpersoneeltekorte: Dringende ingryping is nodig
Deur Michelle | 14 Junie 2019

Deur Wilmarie Brits 

“Verpleegkunde as beroep in Suid-Afrika is vir seker in gevaar, en die impak daarvan op goeie gesondheidsorg vir miljoene Suid-Afrikaners is byna ondenkbaar,” het Hennie Bierman, hoof van Solidariteit Beroepsgildes, gesê.

In die eerste uitgawe van Solidariteit Tydskrif vir 2019 is die ingewikkelde en uitdagende situasies wat die verpleegkundeberoep in Suid-Afrika lamlê, deeglik bespreek. Min en ontoereikende ondersteuning, die tekort aan finansies, toerusting en onderhoud asook probleme met opleiding is enkele van die kwessies wat dié beroep oor die afgelope dekade tot by die rand van die afgrond gebring het.

Die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) het omvattende navorsing gedoen oor die belangrikste aspekte en standaarde wat internasionaal vir dié edele beroep neergelê word, en het na aanleiding daarvan drie aanbevelings vir die Suid-Afrikaanse verpleegsektor gemaak in ’n opvolgverslag, Internasionale standaarde vir verpleging. Hierdie voorstelle kan met die nodige wilskrag maklik geïmplementeer word en sal ’n groot bydrae lewer tot die verbetering van standaarde en praktyke in die beroep.

’n Handves van regte vir verpleegpersoneel

Elke verpleegkundige het die reg op sekere basiese beginsels en verwagtinge met betrekking tot die werkplek, opleiding en ondersteuning. ’n Handves van regte sal as ’n raamwerk dien waarvolgens verpleegkundiges hul reg kan uitoefen. Volgens Bierman ervaar Suid-Afrika kritieke probleme met die opleiding van verpleegkundiges en is daar in die laaste drie jaar geen nuwe private instelling geakkrediteer om verpleegkundiges op te lei nie. In sekere van die verpleegsterskategorieë het akkreditasie by bestaande instansies reeds verval. “As gevolg van hierdie sloering word minder verpleegsters opgelei, wat ekstra druk op die bestaande verpleegsters in die beroep plaas. Dit druis direk in teen die reg wat verpleegpersoneel het om goed opgelei en voorberei te word vir hul beroepe,” het Bierman benadruk. 

Inligtingstegnologie en databestuur

Die navorsing maak dit duidelik dat die Suid-Afrikaanse Raad op Verpleging (SARV) die bestuur van inligting en data beter moet koördineer. Volgens Nicolien Welthagen, ’n senior navorsingsielkundige van die Solidariteit Navorsingsinstituut, is daar ontsaglike waarde in effektiewe databestuur opgesluit. “Betroubare data vorm die basis van strategiese besluitneming en beplanning, proaktiewe optrede, toekomsgereedheid en multidissiplinêre samewerking asook goeie gesondheidsorgbestuur,” het Welthagen gesê.

Arbeidsmag-ekosisteemmodel

Die ontwikkeling van ’n gesonde, produktiewe en effektief bestuurde werkomgewing moet altyd die hoogste prioriteit geniet. Daarom is die arbeidsmag-ekosisteemmodel wat die Amerikaanse Verpleegstersvereniging (ANA) ontwikkel en geïmplementeer het, so suksesvol. Volgens Welthagen bevat dié model elemente wat by strategiese beplanning ingesluit moet wees om ’n gesonder en meer doeltreffende werkomgewing en werkmag te skep. “Daar kan bewysgebaseerde oplossings en sterk instrumente binne elke element van die model ontwikkel word om werkplekuitdagings te navigeer, pasiëntuitkomste te verbeter en loopbaanvoordele te optimaliseer,” het Welthagen bygevoeg. “Intensiewe beplanning en voorbereiding vir die toekoms moet gedoen word om die druk en spanning op bestaande verpleegpersoneel te verlig en die beroep tot wêreldklasstandaard te ontwikkel. Daarom is dit belangrik om standaarde wêreldwyd te bestudeer en lesse te leer wat hier toegepas kan word,” het Welthagen saamgevat.

  •  
  •  
  •  
Redakteursbrief

Met die Covid-19-inperking steeds volstoom aan die gang, bring ons vir jou nóg ’n inperkingsuitgawe op jou rekenaarskerm, hierdie keer met gemak saamgestel asof dit al jare lank so gedoen word. Almal het die nuwe manier van doen se ritme nou reeds bemeester, met sommige wat intussen terug is by die werk terwyl ander nog […]


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close