Solidarteit Wêreld
2018 - Uitgawe 5 Spreekbuys
Volg jou padkaart na finansiële vryheid
Deur LJ | 18 September 2018

’n Paar maande gelede ry ek deur ’n paar bekende klein dorpies op pad na die noorde. Maar met al die nuwe dorpsname het ek in ’n stadium nie meer geweet in watter dorp ek was nie, en skielik was ek nie seker watter pad om te vat nie. Ek moes eers vinnig my GPS aansit, voordat ek skaapagtig weer die regte pad gekry het – een wat ek eintlik baie goed ken! skryf FLIP BUYS.

Hierdie reis met behulp van my GPS het my laat dink aan mense se persoonlike finansies. Ons almal weet min of meer wat die regte “pad” is, maar dinge het só verander dat ons dit soms nie meer kry nie. Die kern van die probleem is dat ons soms nog met ou “padkaarte” ry en dat die omwentelinge in die finansiële wêreld jou maklik kan laat verdwaal. Kom ons wees eerlik: Met jou oupa en pa se padkaarte sal jy maklik by ’n plek uitkom waar jy nie wil wees nie. En as jy sonder ’n GPS ry, sal jy nooit jou bestemming bereik nie.

Die meeste mense het finansiële drome én nagmerries, wat eintlik net twee kante van dieselfde muntstuk is. Almal droom van finansiële vryheid, maar word ook soms geteister deur finansiële nagmerries. Die rede is maklik om te verstaan. Baie mense is in hierdie duur tye net ’n salaristjek of drie van geldelike rampspoed af. Enige persoon wat in hierdie ekonomie sy of haar werk verloor, is dadelik in ’n krisis gedompel. Maar dit geld nie net vir werkendes nie. Talle pensioenarisse moes al tot hulle skok agterkom dat hulle te min geld het om van te leef, omdat die wêreld verander het.

Finansiële vryheid

Voordat ’n padkaart na finansiële vryheid opgestel kan word, is dit belangrik om eers te weet wat finansiële vryheid is. Dan kan ons kyk wat soveel verander het dat die pad nou moeiliker is, sodat ons ons eie padkaart vir die toekoms kan opstel.

Finansiële vryheid is wanneer die inkomste uit jou bates meer as jou uitgawes is. Dis ’n moeilike, opdraande pad vir almal om daar te kom, en die meeste mense is gelukkig as hulle dit teen aftrede bereik. Maar met ‘n goeie padkaart wat presies gevolg word, is dit moontlik. Kom ons kyk eers na die omwentelings op die pad na jou bestemming van finansiële vryheid.

Vyf omwentelings

Die eerste belangrike omwenteling is dat die nuwe geslag pensioenfondse eintlik net spaarfondse is, en dat jy as werknemer die volle risiko dra as jou geld opraak. Die meeste van ons se ouers het pensioenfondse gehad waar die werkgewer die risiko gedra het en ’n lewenslange pensioenvoordeel gewaarborg het. Dit het bygedra tot redelik lae belangstelling en onkunde in en oor pensioensake, omdat die werkgewer die verantwoordelikheid gedra het vir aftreevoorsiening.

In die nuwe “vastebydrae-pensioenfondse” bestaan jou geld uit jou en die werkgewer se bydraes en die groei op jou geld. Dis nie noodwendig slegter nie, jy moet net weet dat dit nou jóú verantwoordelikheid is om die pad goed dop te hou. Jy bestuur self, en ry nie meer in ’n “pensioenbus” wat deur die werkgewer bestuur word nie. Daarom is ’n “lisensie” belangrik in die vorm van finansiële geletterdheid en opleiding.

Die tweede verandering is dat mense gemiddeld sowat 10 jaar langer as hul grootouers leef en dat jou geld dus langer moet hou. Ons kan seker nie verwag dat ons pensioen langer moet hou as wat ons daaraan spaar nie! Daarmee saam het die koste van bejaardeversorging baie gestyg, omdat daar feitlik geen meer subsidies vir ouetehuise is nie.

Die derde verandering is dat die koste van mediese dienste baie duurder is en dat byna alle werkgewers aftreemedies afgeskaf en die kostes na werknemers verskuif het.

Die vierde verandering is dat die opbrengs van beleggings baie afgeneem het en dat jy meer sal moet spaar om dieselfde pensioen te kan kry. Ou Mutual het bereken dat waar die gemiddelde opbrengs op beleggings oor die afgelope 60 jaar 7,3 % bo inflasie was, dit in die toekoms gaan halveer na net 3,7%. Die uitdaging is dat jy nie beheer oor die opbrengs of toekomstige lewenskostes het nie, maar net oor hoeveel jy kan spaar.

Die vyfde verandering is dat lewenskostes so duur geword het dat navorsing van Nedbank en Unisa gewys het dat ’n volle 75% van huishoudings in 2017 finansieël ongesond was! Dit maak dit geweldig moeilik om nou met jou geld uit te kom, laat staan nog om geld weg te sit en te spaar! Baie mense is boonop deel van die “toebroodjiegeslag” – hulle moet hul kinders én hul ouers help om kop bo water te hou.

Bestemming van vryheid

As jy op ’n ver reis gaan, ry jy nie sonder om seker te maak waar die bestemming is, hoe jy daar gaan kom en of jou voertuig in ’n goeie, werkende toestand is nie. Dit geld soveel te meer vir die pad na jou eie finansiële vryheid. Dit is so belangrik dat dit nie aan die toeval of net aan jou werkgewer se pensioenfonds oorgelaat kan word nie.

Daarom behoort elke mens ’n betroubare finansiële raadgewer as “GPS” te kry om jou met jou persoonlike padkaart te help. Die eerste stap is om te bepaal wat finansiële vryheid in jou persoonlike geval beteken, want dit is die bestemming van jou reis en gaan die roete van jou padkaart bepaal.

Vir die meeste mense behoort jou eerste pensioentjek sowat 75% van jou laaste salaris te wees. Dit is nie ’n maklike doelwit in die lig van die vyf omwentelings wat hierbo genoem is nie, en is die finansiële weergawe daarvan om Kilimanjaro uit te klim of die Comrades te hardloop. Dit verg ’n helder omskrewe doelwit, duidelike padkaart, derduisende klein treetjies, groot opofferings en hope vasbyt om die piek te bereik. Onthou maar Langenhoven se woorde: “Moenie koop wat jy nodig het nie, koop waarsonder jy nie kan klaarkom nie!”

Padkaart na vryheid

Elke mens se omstandighede verskil en daarom sal elkeen se padkaart anders lyk. Professionele beplanners sal daarmee kan help, byna soos wat afrigters atlete of bergklimmers moet bystaan. Maar daar is ’n paar algemene reëls of mylpale wat vir almal geld. In ’n neutedop is dit die volgende:

  • Volg jou begroting net so gedissiplineerd soos ’n oefenprogram.
  • Gee minder uit as wat jy inkry.
  • Sny uitgawes sodat jy ekstra kan spaar – dit is die moeilikste.
  • Keer dat jou uitgawes net soveel soos jou inkomstes styg.
  • Skaf eerder bates soos ’n effektetrust aan voor jy jou geld aan uitgawes soos ’n motor bestee.
  • Maak gebruik van belastingtoegewings op pensioenfondse en ander produkte.
  • Kyk mooi na jou persoonlike welstand, soos jou eet- en oefengewoontes.
  • Verbeter jou kwalifikasies om jou kanse op ’n groter inkomste te verhoog.
  • Probeer om so lank as moontlik te werk of ’n ekstra inkomste te verdien.
  • Hou jouself op hoogte deur bronne soos die Solidariteit Wêreld te lees.
  • Byt vas en wees geduldig – daar is nie kortpaaie nie.

Dit is belangrik om minstens een of twee keer per jaar na jou finansiële GPS te kyk om seker te maak jy is op koers na jou doelwit. Maak betyds planne waar nodig. Moenie heeltyd kyk nie, hou eerder jou oog op die pad, maar hou die vordering dop. Onthou ook dat paaie maar opdraandes, afdraandes én skerp draaie het. Byt vas, want solank jy aanhou en moedhou en volhou, sal jy veilig by jou bestemming aankom. Sterkte met die reis!

  •  
  •  
  •  
  •  
Redakteursbrief

Die jaar is reeds op 'n afdraande pad einde se kant toe en dit beteken vir baie mense dat 'n nuwe fase in hul lewens voorlê. Dit mag wees dat jy 'n matriekkind het wat volgende jaar nie meer op skool gaan wees nie, of jy is 'n student wat afstudeer en volgende jaar gaan […]


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close