Solidarteit Wêreld
2019 – Uitgawe 5
Wat kom die keiser werklik toe?
Deur LJ | 30 September 2019

Deur Monica Mynhardt

Ons almal kla baie vinnig oor hoe ons sommer wil ophou belasting betaal weens die regering se verkwisting daarvan – met goeie rede ook. Deur te kla oor die wyse waarop ons belastinggeld aangewend word, kyk ons egter die groter vraagstuk mis – behóórt ons enigsins belasting te betaal, en indien wel, hoeveel, waarvoor en hoe?

Die Amerikaanse juris en regter van die hooggeregshof van die VSA in die vroeë 1900’s, Oliver Wendell Holmes Jr., het gesê: “Belasting is die prys wat ons betaal om in ’n beskaafde samelewing te bly.” Waarom voel die Suid-Afrika wat ons vandag ken allermins soos ’n beskaafde samelewing afgesien van die enorme bedrae belasting wat ons betaal? Waar lê die fout? Is belastingstelsels inherent immoreel? Is óns belastingstelsel onregverdig? Lê die probleem maar net by die bestuur daarvan?

Die vraag oor die regverdigheid van belastingstelsels is omstrede. Sommiges meen belasting is georganiseerde diefstal omdat ’n regering jou dwing om dit te betaal. Ander mense verskil hiervan en sê dat regerings demokraties verkies word deur burgers wat kies om onderworpe aan die stelsel te bly. Die burgers onderhou die stelsel en gee daardeur aan die regering sekere magte en verantwoordelikhede – albei partye kom net hul deel van die sogenaamde sosiale kontrak na. Dan is daar mense wat verder gaan deur te sê dat ons ’n morele plig het om na ons medelandsburgers om te sien deur deel te neem aan ’n herverdelende belastingstelsel.

Die geskiedenis toon dat dit baie voordelig is om in groepe te leef – dit is ook die menslike natuur. Die vorming van state met regerende entiteite is dus nie so vreemd nie. In ware vrye samelewings trek almal voordeel uit dié stelsel. Die ideaal is om ’n klein regering te hê – een wat wel sekere basiese funksies het wat befonds moet word, maar nie soveel dat die staat oorgroot is nie. Die regering is dan verantwoordelik om mense se individuele vryheid te beskerm, hulle teen eksterne gevaar te verskans, ’n regstelsel daar te stel en ’n netwerk van basiese dienslewering te bied. Die funksies wat so ’n regering bied, is tot voordeel van almal en noodsaaklik vir die instandhouding van ’n georganiseerde en vrye samelewing. In dié geval is dit regverdigbaar om te verwag dat almal moet bydra tot die onderhoud van die stelsel.

Die vraag is dan hoeveel belasting redelik is en waarvoor ons belasting behoort te betaal. Daar is in hierdie opsig twee sieninge oor belasting:

  1. Almal moet belasting betaal ten einde die basiese funksies van ’n klein regering te befonds.
  2. Belastinggeld moet aangewend word om die regering te befonds, sowel as ’n stelsel van herverdeling van welvaart soos bestuur deur die regering.

Indien belastinggeld vir herverdelingsprogramme gebruik word, ontstaan daar ander morele vraagstukke as wanneer dit slegs vir die mees basiese funksies aangewend word. Belasting vir herverdeling is in essensie die regering wat belastingbetalers dwing om vir hul medelandsburgers te sorg. Anders as belasting vir basiese funksies trek nie almal hieruit voordeel nie, maar net diegene wat maatskaplike programme en/of dienste van die regering gebruik. Die regering herverdeel die welvaart van een groep aan almal – hierdie vorm van belasting is in wese sosialisties. Die regverdigbaarheid hiervan is sterk te betwyfel – veral in ’n land soos Suid-Afrika. Die progressiewe aard van ons stelsel lei daartoe dat ’n baie klein deel van die land belas word om ’n baie groot deel van die land te dra. Verder trek diegene wat die belasting betaal, meestal glad nie direk voordeel uit die regering se maatskaplike programme en dienste nie. Dié programme is gewoonlik net vir die armes beskore, en die gehalte van die dienste is so swak dat mense wat kan bekostig om self daarvoor te sorg, verkies om dit te doen.

Daar is natuurlik niks daarmee fout vir landsburgers om na mekaar om te sien nie – die probleem kom wanneer die staat jou dwing om dit te doen. Hierdie tipe belasting wat gebruik word om ’n groot staat met talle herverdelingsprogramme te befonds, is aansienlik minder regverdigbaar as belasting vir basiese funksies. In Suid-Afrika sit ons boonop met ’n regering wat belastinggeld jaar ná jaar verkwis. Almal word hierdeur benadeel – selfs diegene wat hulle nie aan bewind wil hou nie.

Dit opper natuurlik ’n nuwe vraag – aan watter keiser behoort die geld toe te kom? Is dit regverdig om belasting te betaal aan ’n regering wat jy nie ingestem het of daar wil hê nie? Wat is die alternatief?

In Switserland word die belastingstelsel gebaseer op die land se federale raamwerk. Dit beteken dat individue onderworpe is aan die belastingstelsel van die kanton of staat waarvan hulle deel is. Hierdie gedesentraliseerde stelsel het tot gevolg dat belasting meer doeltreffend op voetsoolvlak aangewend word in elke spesifieke staat. Belastingbetalers sien waar hulle belastinggeld neerslag vind. So ’n stelsel kan belasting in Suid-Afrika moontlik meer regverdig maak, aangesien dit op ’n meer gedesentraliseerde vlak aangewend kan word binne kleiner state van ’n groter federasie. In Suid-Afrika sit ons met die probleem dat die klein minderheid wat belasting betaal, uitgelewer is aan ’n regering wat hulle bes moontlik nie eens verkies het nie – as stemreg slegs toegeken sou word aan die 3 miljoen burgers wat 80% van die belasting betaal, sou die ANC in alle waarskynlikheid nie aan bewind bly nie. ’n Meer federale stelsel gee aan mense groter seggenskap oor wie hulle moet regeer.

Ons het baie om oor te kla wanneer dit kom by ons belastingstelsel. Daar ís talle oplossing vir die probleme wat ons ervaar, maar dis te betwyfel of dit ooit geïmplementeer sal word. In die tussentyd moet ons seker maak dat die keiser ook aan ons gee wat ons toekom.

  •  
  •  
  •  
Redakteursbrief

Met die Solidariteit Beweging se Toekomsberaad op 10 Oktober vanjaar het Solidariteit die laaste deel van 2019 met ’n groot hoogtepunt aangepak. Dit was ’n heerlike geleentheid waartydens die energie en opgewondenheid tasbaar was onder die groep mense wat saam groot dinge vir ons toekoms help beplan. Tydens die vorige Toekomsberaad, wat in 2015 gehou […]


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close