Solidarteit Wêreld
2020 – Uitgawe 5 Nuuswaardig
Werkherstelprogram ontsluit kennisekonomie
Deur Lize-Mari | 09 November 2020

Foto krediet: OkayDeer

 Deur  Lize-Mari Labuschagne

Die derde fokusarea van die Werkherstelprogram is opleiding. Die wêreld van werk het in vele opsigte drasties verander, en die kennisekonomie sal voortaan bepaal wie geleenthede gaan kry. Solidariteit het reeds in 2019 besluit om sy opleidingsaanbod aan lede uit te brei om seker te maak dat hulle toegang tot die beste stelsels van voortgesette leer het, maar ook dat hul kinders en die breër gemeenskap waarvan hulle deel is, toegang tot ’n beter en omvangryker onderwys- en opleidingsaanbod het.

Akademia

Hoër onderwys is kritiek belangrik om jongmense vir werk voor te berei. Akademia kon deur innoverende tegnologie daarin slaag om gedurende die Covid-19-krisis naatloos klas te gee. Akademia groei sedert haar ontstaan in 2012 met 21% en beplan om teen 2024 sowat 5 400 ingeskrewe studente te hê. Akademia maak gereed vir ’n splinternuwe groeifase:

  • Akademia sal in 2021 vir die eerste keer met ’n voltydse kontakkampusmodel in Centurion begin. Daar is reeds ses grade hiervoor geakkrediteer.
  • Daar word ook fluks gevorder met die beplanning vir ’n nuwe Akademia-kampus. Die eerste konsepuitleg van die ontwikkeling is reeds deur die argitekte voltooi.
  • Lees meer oor Akademia op bladsy 54.

Sol-Tech en Bo-Karoo Opleiding

Sol-Tech het die afgelope 12 jaar bekendheid verwerf as leier op die gebied van ambagsopleiding in skaars en kritieke vaardighede. Afgestudeerde studente aan Sol-Tech bereik groot sukses: 94,7% se werkaansoeke is suksesvol; 55,7% word sommer dadelik aangestel by die maatskappy waar hulle hul praktiese opleiding gedoen het; 20,2% begin hul eie ondernemings; en 37,3% werk vir maatskappye met meer as 250 werknemers.

Sol-Tech neem dit egter verder deur ’n eie kampus van wêreldgehalte met koshuisfasiliteite te bou. Die kampus sal die geleentheid vir uitbreiding na ander tipes beroepsgerigte opleiding skep. Lees gerus meer op bladsy 56.

Bo-Karoo Opleiding is Solidariteit se opleidingsinstelling in Orania en is sowat twee jaar oud. Die instelling het tot nou toe op bouambagte gefokus, maar gaan nou sy aanbod uitbrei met opleiding in tuisversorging en ander ambagte. Daar is reeds ’n koshuis gebou en planne vir verdere studentebehuising word gefinaliseer.

Skoleondersteuningsentrum

Die Skoleondersteuningsentrum (SOS) ondersteun bestaande openbare skole om wêreldklasinstellings te bly, en tweedens word ’n oorhoofse strategie ontwikkel om ’n onafhanklike, Christelike en Afrikaanse skoolstelsel van wêreldgehalte binne die bestaande statutêre omgewing daar te stel. Die SOS is ook betrokke by die uitbou van Die Wolkskool-stelsel en die toepassing daarvan op die ontwikkeling van ’n onafhanklike modelskool.

Die basis wat die SOS die afgelope paar jaar gevestig het, het hom in staat gestel om binne dae drasties uit te brei sodat 117 000 kinders en bykans 7 000 matrieks gedurende die inperking aanlyn by Die Wolkskool kon registreer. Die Wolkskool is ’n aanlyn leerplatform en leerlingbestuurstelsel waar leerlinge toegang tot gehalte-inhoud kry en waar onderwysers hul leerlinge doeltreffend kan bestuur. Leerlinge kry toegang tot lesse in videoformaat, aflaaibare werkboeke en aanlyn assesserings wat hulle in hul eie tyd en op enige plek teen hul eie pas kan deurwerk. Dit sluit dus aan by nuwe, moderne onderwysinisiatiewe van wêreldgehalte wat leerlinge vir die 21ste eeu toerus.

S-Leer

S-Leer is Solidariteit se sentrum vir voortgesette leer om werkende mense met die bereiking van hulle loopbaandoelwitte te help. Dit vorm deel van Solidariteit se kernbesigheid, naamlik arbeidsverhoudinge, vaardigheidsontwikkeling en die Solidariteit Netwerk van Werk.

Deur voortgesette leer word mense bemagtig met vaardighede om relevant te bly in die onseker tye wat voorlê. Dit verskaf beroepspesifieke opleiding en gee aan mense ’n voorsprong sodat hulle na afloop van die opleiding die leiding in hulle beroepe kan neem. Dit maak werksekerheid en bevordering moontlik.

S-Leer het tydens die inperking gratis toegang tot opleiding vir lede aangebied en sal ’n omvattende opleidingsvoordelepakket vir die toekoms vir lede ontwikkel.

Studiefondssentrum

Die Solidariteit Helpende Hand se Studiefondssentrum is in 2008 as ’n inisiatief van Solidariteit Helpende Hand ingestel met die doel om behoeftige jongmense op te hef deur hul tersiêre studies finansieel moontlik te maak. Opleiding is noodsaaklik vir jongmense in die werkhersteltyd en Solidariteit belê baie geld in die vestiging van opleidingsinstellings, maar baie studente gaan veral in hierdie krisistyd hulp nodig hê. Die behoefte aan studiefondse gaan ook toeneem namate studie-instellings soos Akademia, Sol-Tech en Bo-Karoo Opleiding uitbrei. Die Studiefondssentrum gaan daarom radikaal uitgebrei word.

Daar word beplan om in 2020 sowat R43,5 miljoen uit te betaal en selfs meer in 2021 om vir die gevolge van die Covid-19-inperking voorsiening te maak.

Om in die groter vraag na beurse te voorsien, gaan die gemeenskap gevra word om studente te help. Die fonds gaan jaarliks uitgebrei word en daar sal vanaf 2030 na raming R180 miljoen per jaar se studiegeld net vir Solidariteit-opleidingsinstellings uitbetaal word.

Redakteursbrief

Deur Cilleste van Dyk Ons sal self. Hierdie drie woorde kan baie arrogant klink sonder die regte konteks. Solidariteit sê: Ons sal self, nie omdat ons dink dat ons dinge alleen of deur ons eie krag sal regkry nie, maar omdat dat daar geen ander opsie is vir ’n voorspoedige toekoms nie. Daarom sê ons […]


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close